Varkvleisproduksie: ’n Produksiestelsel wat glad verloop

0
915
’n Groep speenvarkies wat in een week aangekom het en saam deur die hele produksieproses bestuur word.

Varkvleisproduksie verloop so glad soos ’n goed geoliede masjien by die RK Varkboerdery, waar produksie in weeklikse siklusse plaasvind. Meerderwaardige teelmateriaal, wat deur uitstaande kundiges gekies is om in die spesifieke behoeftes van die produksiestelsel te voorsien, word saam met noulettende bestuur en doeltreffende voerbenutting ingespan om winsgewendheid te verseker.

Voerrantsoene word deur ’n onafhanklike voedingkundige saamgestel om in die voedingsbehoeftes van die diere deur elke groeistadium te voorsien, binne die norme wat navorsers vasgestel het om maksimum vleisproduksie te bewerkstelling en te verseker dat die varke hul genetiese potensiaal ten volle verwesenlik.

Aan die roer van die boerdery staan twee broers, Manfred en Etienne Süllwald,tlik.

l is om maksimum vleisproduksie te bewerkstelling en te verseker dat wat saam al etlike dekades met varke boer en erken dat varkboerdery deel van hul lewenswyse geword het. “Vir ons is een van die bevredigendste aspekte van dié boerdery die feit dat genetiese keuses en bestuursbesluite baie gou in die resultate gereflekteer word.

“Ons het al vroeg besluit dat alles wat nie met die basiese produksieproses te doen het nie, aan kundiges uitgekontrakteer word om te verseker dat ons onverdeelde aandag by dit is wat ons die beste kan doen.”

Uitkontraktering aan kundiges

Die Pig Improvement Company (PIC) in Suid-Afrika is die konsessiehouer van die wêreld se grootste genetika-maatskappy, waar die nuutste tegnologie en beste navorsingsresultate van regoor die wêreld gebruik word om meerderwaardige varkteelmateriaal en teelprogramme aan boere beskikbaar te stel.

Die aantal kleintjies wat ’n sog in ’n werpsel het en die vermoë om hulle goed groot te maak, speel ’n groot rol in die winsgewendheid van ’n varkboerdery.

Dié onderneming sorg dat die semen wat die beste by boere se spesifieke toestande en produksiestelsels pas en wat vir hulle die beste wins sal realiseer, beskikbaar is vir kunsmatige inseminasie (KI). ’n Onafhanklike veearts sorg vir die diere se gesondheid en ’n voedingkundige verseker dat die beste rantsoene saamgestel word.

Gevolglik is daar baie noue samewerking tussen die bestuur van die boerdery en die kontrakteurs om te verseker dat alles ten beste gesinkroniseer word.

Weeklikse programme

Dit lei daartoe dat ’n groep sôe elke week geïnsemineer word, ’n ooreenstemmende groep sôe gee geboorte, ’n ander groep se kleintjies word gespeen, ’n groep speenvarkies word na die groeihuise verskuif en ’n afgeronde groep varke gaan slagplaas toe. Dit is duidelik dat as iets in enige van die weeklikse programme skeefloop, dit na die hele stelsel deurwerk.

Nadat die twee broers van jongs af met varke gewerk het, het hulle in 1999 die plaas Roodekuil naby Bela-Bela gekoop waarop ’n varkboerdery met 800 sôe was. Hulle het dit intussen uitgebrei en hou nou 1 800 sôe aan. Hulle produseer weekliks sowat 650 slagvarke en gemiddeld 270 speenvarke, wat lewend verkoop word.

Hulle gebruik Camborough-F1-sôe (’n Groot Wit- en Landras-kruising) saam met semen gedek word wat deur PIC se KI-stasie verskaf word vir hul teelprogram, wat ook deur PIC ontwikkel is.

Groei en optimale voerbenutting

Manfred en Etienne sê groei en optimale voerbenutting is die kern van hul welslae, want voer beloop sowat 80% van hul produksiekoste. “Ons mik daarna dat ons varke van dag 65 tot dag 143 met gemiddeld 980g per dag moet groei, teen ’n voerdoeltreffendheid van 3,25kg voer vir elke kilogram gewigstoename. Die voerdoeltreffendheid geld ten opsigte van al die varke, sôe ingesluit.

“ ’n Nuwe stelsel waarin ons ons eie sôe grootmaak en geen diere meer koop nie, maak dit vir ons moontlik om die sôe vinniger te vervang en die gemiddelde ouderdom van die kudde te verlaag. Hiervoor word ’n suiwer moederlyn gebruik om vervangingsôe vir die suiwer kudde te teel en die res word met Landras-semen geïnsemineer om F1-sôe vir die kommersiële kudde te teel.

“Die suiwer kudde sal uiteindelik uit sowat 190 Groot Wit-sôe bestaan, en die beste sôe ten opsigte van speengewig, vrugbaarheid en moedereienskappe word as vervangingsdiere geselekteer. Die oogmerk is om sowat 50-60% van die kommersiële sogkudde per produksiesiklus te vervang. Op dié manier skakel ons die diere wat swakker produseer vinniger uit.”

Dek-, sog- en kraamhuise

Die klein varkies word elke week op ’n Woensdag gespeen en dan gaan die sôe na die dekhuis, waar hulle in kratte staan en hittewaarneming noukeurig gedoen word. Die grootste persentasie van dié sôe word dan op ’n Sondag geïnsemineer. Dan gaan hulle na ’n soghuis, waar hulle in groepe van ses in hokke kom waar hulle vrylik kan rondbeweeg.

In die hokke word dragtigheid-skanderings 28 dae ná inseminasie gedoen, die varke ingeënt en hul kondisie bestuur. Dié wat nie dragtig is nie en ’n swak produksiegeskiedenis het, word uitgeskot. Sowat 90% van die sôe raak dragtig.

Voor hulle geboorte gee, gaan die sôe na die kraamhuis, waar hulle in kratte staan totdat die kleintjies op die ouderdom van 21 dae gespeen word. Gemiddeld twaalf lewende kleintjies word per sog gebore en gemiddeld 11,2 kleintjies word gespeen.

Deurlopende produksievloei

“Deur die hele proses word die sôe in dieselfde groep as waarin hulle geïnsemineer is, gehou en hulle word saam verskuif. Afgesien van die produksievloei wat só in stand gehou word, bevorder dit die gesondheidsbestuur omdat die huise gelyk leeg raak, skoongemaak en ontsmet kan word.

“Deur die hele produksieproses word die voerrantsoen by die behoeftes van die betrokke groep varke aangepas, soms tot vier verskillende rantsoene in een produksiestadium. Al die varke het vrye toegang tot voer en water en daar is genoeg ruimte in die hokke om nadelige mededinging uit te skakel.

Doeltreffende voeromset is van deurslaggewende belang, want voer is duur en moet so goed as moontlik in vleis omgesit word.

“Al die hokke het hortjiesvloere, waar die mis en urine kan deurval en in kanale weggespoel word. Die dakke van die huise is geïsoleer en die huise het oop kante met gordyne wat maklik oop en toe maak vir ventilasie en om die temperatuur te beheer. Al die voeding en watervoorsiening vind outomaties plaas. Nadat die soliede mis verwyder is, word die afvalwater op aangeplante weidings gespuit wat deur beeste benut word,” sê Manfred en Etienne.

Uitstaande genetiese materiaal

Dr. Albert Schutte van PIC sê die onderneming het vyf teelplase waar die beste genetiese materiaal geproduseer word. Vanaf die beer-teelplaas in Magaliesburg, word bere geteel wat na die KI-stasie by Middelburg gaan om semen te produseer wat landwyd aan kliente gelewer word. PIC verskaf Camborough-F1 sôe wat boere kan aankoop maar die opsie word ook gebied dat boere hulle eie Camborough-F1 teelsôe kan teel op die plaas. Kernkuddes word op die boer se plaas gevestig waarmee die boer sodoende sy eie vervangingsdiere onder sy toestande en in sy stelsel kan teel.

Die onderneming voer bevrore semen van Kanada af in en die KI-stasie op Middelburg in Mpumalanga bevat meer as 300 bere van verskillende lyne.

Die voorlopers in die span wat moet sorg dat die produksie vlot en winsgewend verloop, is Etienne Süllwald, dr Albert Schutte en Marguerite Schwarzer van PIC, en Manfred Süllwald.

Manfred en Etienne sê hul oogmerk is om uiteindelik ’n sogkudde op te bou waarin al die sôe op ’n bepaalde tyd op hitte kom, dragtig raak, aan ’n groot werpsel geboorte gee en ’n hoë persentasie goeie gehalte varkies speen.

Vir meer inligting, kontak Manfred Süllwald by 082 902 5287 of rk@vea.co.za, en Marguerite Schwarzer by 076 105 8999 of marguerite@picrsa.co.za. – Andries Gouws, Veeplaas

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here