Estimated reading time: 7 minutes

Soos wat verbruikers ryker word, raak hul dieet meer proteïenryk, terwyl stysel ’n al hoe kleiner gedeelte van hul dieet uitmaak. Dit het die gevolg dat verbruikers meer vleis sal verbruik. Suid-Afrika het ’n groeiende middelklas, wat in teorie beteken dat daar ’n groei in die vraag na proteïen behoort te wees.

Inperkings weens Covid-19 sal egter beslis ’n impak op vleisverbruik hê, wat kan veroorsaak dat die werklike prentjie nie in lyn met dié verwagting is nie; presiese vleisverbruiksyfers sal mettertyd eers duideliker raak.

As die verbruik van vleis afkomstig van lewendehawe in Suid-Afrika bekyk word, bestaan dit hoofsaaklik uit hoender-, bees-, skaap- en varkvleis. Hierdie artikel fokus op varkvleisverbruik en -produksie regoor die wêreld en gee ook aandag aan syfers vir Suid-Afrika.

Hoeveel vleis word geproduseer?

In 2018 is die wêreldwye vleisproduksie afkomstig vanaf lewendehawe, op 346 miljoen ton bereken. Hiervan het die grootste gedeelte uit hoendervleis (127 miljoen ton), daarna varkvleis (121 miljoen ton) en dan beesvleis (71,6 miljoen ton, met buffel ingesluit) bestaan.

Die grootste gedeelte van vleisproduksie is deur China bygedra (ongeveer 25%), gevolg deur Amerika (13,5%) en Brasilië (8,5%). Suid-Afrika se totale vleisproduksie is op 3,24 miljoen ton bepaal. Hiervan maak hoendervleis meer as 55% uit en beesvleis sowat 32%.

Die groot rolspelers

China is die grootste produsent van varkvleis en produseer jaarliks meer as 40 miljoen ton. Amerika is in die tweede plek met net meer as 12 miljoen ton, gevolg deur Duitsland (5,2 miljoen ton), Spanje (4,6 miljoen ton) en Brasilië (4,1 miljoen ton). Alle Afrika-lande het gesamentlik nagenoeg 1,7 miljoen ton varkvleis in 2019 geproduseer, met Suid-Afrika se bydrae wat op 280 000 ton bereken is.

Indien Europa saam gegroepeer word, staan Suid-Afrika in die 20ste plek vir varkvleisproduksie en in die 21ste plek in terme van verbruik. Lande wat die grootste verbruikers van varkvleis is, stem redelik ooreen met die lande wat as die grootste produsente gelys is.

Wat invoer betref, is China ’n groot rolspeler, met syfers wat toon dat 4,3 miljoen ton varkvleis in 2020 deur die land ingevoer is. Ander netto invoerders van varkvleis was Japan, Italië, Pole en Korea. Die grootste netto uitvoerders van varkvleis in 2020, op grond van waarde, was Spanje, Amerika, Duitsland en Kanada.

Varkvleissyfers vir Suid-Afrika

Op eie bodem toon plaaslike produksie ’n stygende tendens sedert 2000/01 tot en met 2017/18 se vlakke (sien Figuur 1). Daar was ’n effense afname in 2016/17, maar die vlakke het weer goed herstel in die daaropvolgende jaar.

Die Suid-Afrikaanse produksie van varkvleis het van bykans 107 000 ton in 2000/01, tot 260 000 ton in 2017/18 gestyg.

Die verbruiksyfers volg ’n soortgelyke stygende tendens as wat by produksie waargeneem is, met verbruik wat sedert 1992/93 konstant hoër as die plaaslike produksie was. In 2017/18 is sowat 22 000 ton meer varkvleis verbruik as wat plaaslik geproduseer is. Suid-Afrika is dus ’n netto invoerder van varkvleis, met net meer as 16 000 ton wat in 2020 ingevoer is –hoofsaaklik uit Duitsland (37,9%), Brasilië (20,2%) en Nederland (14,4%).

Net meer as 10 000 ton se varkvleis is grotendeels na buurlande uitgevoer. Altesaam 38,8% van Suid-Afrika se varkvleisuitvoer was na Mosambiek, gevolg deur Namibië (22,7%) en Lesotho (11,2%).

Figuur 1: Totale produksie en verbruik van varkvleis in Suid-Afrika.

Die aantal varke op plase en die aantal varke wat jaarliks geslag is, word in Figuur 2 uitgebeeld. ’n Hoogtepunt in die getalle op plase is in 1998/99 waargeneem, toe bykans 1,8 miljoen diere aangeteken is. Van 1998/99 tot 2017/18 het die aantal varke op plase ’n dalende tendens getoon, tot slegs 1,45 miljoen varke in 2017/18.

Hierteenoor het die aantal varke wat jaarliks geslag is, konstant bly styg van 2000/01 se vlakke, toe 1,86 miljoen varke geslag is, tot in 2017/18, toe 3,1 miljoen varke vir die jaar geslag is. Dit moet ’n aanduiding wees van die verbetering in varkproduksie.

In die tydperk tussen 1985/86 en 1998/99 was daar ’n groei van 31% in die aantal varke op plase, terwyl die aantal varke wat jaarliks geslag is, met 6% gestyg het en totale produksie met 11% verbeter het. Van 1998/99 tot 2017/18 het die hoeveelheid varke op plase met 18% gedaal, terwyl 56% meer varke geslag is en totale produksie met 118% gestyg het. Dit kan onder andere die gevolg wees van meer varkies wat per sog per jaar geproduseer is en ook meer vleis per vark wat geslag is.

Figuur 2: Varkgetalle en slaggetalle.

Per kapita-vleisverbruik

Elke Suid-Afrikaner eet sowat 65,4kg vleis (vis uitgesluit) per jaar, soos aangeteken vir 2017/18. Verbruik het met sowat 20kg gestyg teenoor die per kapita-verbruiksyfers in 1990/01. Daar was nie net ’n verandering in die hoeveelheid vleis wat verbruikers eet nie, maar ook ’n verandering in die bydrae van die verskillende vleissoorte tot die totale verbruik.

In 1990 het beesvleis 43% van die per kapita-verbruik uitgemaak, met hoender- en skaapvleis wat onderskeidelik 36 en 13% uitgemaak het. Varkvleis het sowat 8% verteenwoordig.

Hoendervleis het in die daaropvolgende jare ’n al hoe groter deel van die verbruik begin uitmaak en het in 2017/18 op sowat 60% van die per kapita-vleisverbruik gestaan. Hierteenoor het bees- en skaapvleis se aandeel gekrimp tot onderskeidelik 28 en 5%. Hierdie sterk groei in die verbruik van hoender, kan grootliks toegeskryf word aan die laer prys wat verbruikers lok soos wat die vraag na proteïen toeneem.

Per kapita jaarlikse varkvleisverbruik is in 1990 op 3,7kg bereken. Dié syfer het effens gedaal tot 2000/01, toe dit op 2,6kg aangeteken is, maar het daarna redelik goed gegroei tot 5kg in 2017/08. Oor dié tydperk het die verbruik van varkvleis konstant tussen 7 en 8% van die totale per kapita-vleisverbruik uitgemaak.

Ten spyte van die groei wat in varkvleisverbruik onder Suid-Afrikaners op ’n per kapita-grondslag waargeneem is, bly dit steeds relatief laag teenoor ander lande. Beskikbare syfers vir 2017 wys dat lande soos Pole, Spanje en Duitsland se per kapita-verbruik van varkvleis meer as 50kg per jaar was. Dit oorskry ook die verbruik van hoendervleis in hierdie lande.

Daar kan geredeneer word dat dié lande ryker is en dat verbruikers dus meer vleis behoort te eet. Dit kan ook deel van hul kultuur wees om meer varkvleis te eet. Hoe dit ook al sy, varkvleis maak ’n veel groter deel van die totale vleisverbruik uit, met 50% van Duitse per kapita-vleisverbruik (sowat 100kg per jaar) wat uit vark bestaan. Vir Spanje is dit sowat 37% (van die 142kg per jaar) en vir Pole is dit om en by 30% van hul totale verbruik van 99kg per jaar.

Nuwe verbruikers

Die uitbreking van listeriose in 2017/18 in Suid-Afrika was een van die grootste in sy soort ter wêreld. Nadat ’n vleisverwerkingsaanleg uitgewys is as een van die plekke na waar die uitbreking nagespeur was, het die vraag na veral verwerkte varkvleisprodukte geweldig gedaal. Dit het ’n bottelnek veroorsaak van varkvleis wat vir verwerking geoormerk was, hoofsaaklik in die varsvleismark, ingewerk met die markprys wat in daardie stadium gedaal het.

Na wat uit die bedryf verneem word, het baie varkvleisprodusente hul vleis teen produksiekoste of selfs laer verkoop. Die laer prys het op sy beurt kliënte gelok om met varkvleis te eksperimenteer en klaarblyklik is die nuwe verbruikers behou toe pryse weer ná die uitbreking herstel het.

Geleenthede vir Suid-Afrika

‘n Uitbreiding in die produksie van varkvleis kan help om die groeiende vraag na vleis in Suid-Afrika te bevredig. Kommersiële eenhede hou die voordeel in dat klein oppervlaktes benodig word relatief tot die hoeveelheid vleis wat geproduseer word.

Varke benodig minder voer per kilogram vleis wat geproduseer word as skape en beeste. Bedreigings soos Afrika-varkpes word meer doeltreffend voorkom by kommersiële eenhede waar biosekuriteitsmaatreëls ingestel is. – dr WA Lombard, Departement Landbou-Ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan die outeur by lombardwa@ufs.ac.za.