Die Vrystaatse boerderygemeenskap is oorweldig deur die vrygewigheid van die publiek en bedank almal wat hul harte oopgemaak het om produsente wat deur die brande geraak is, te help. Die Boshof- en Hertzogville-gemeenskappe wat die ergste deur die onlangse veldbrande geraak is, pleit egter by skenkers om die volgende drie maande die broodnodige voer vir vee oor te hou.

Read it in English

Hulle is ook bewus van die desperate benoudheid van die produsente wat steeds onder die langdurige droogte ly en vra skenkers om donasies van voer eerder nader aan te wend as om dit aan die Vrystaat te lewer.

Produsente in die gebiede Hoopstad, Hertzogville, Boshof en Dealesville werk hard om die logistiek te koördineer om die voer wat geskenk is, veilig by die afleweringspunte in te neem vir die ongeveer 300 produsente wat deur die brande geraak word.

Voeraanvullings word nou benodig

Die huidige behoeftebepalings is vir voedingsaanvullings soos korrels, lekke en melasse om die droë gras en bale wat geskenk word, meer smaaklik te maak en die vee weg te hou van die sagte graslote wat ná die brande en die welkome reën wat die afgelope naweek uitgesak het, uitloop. Produkte wat spesifiek aangevra word is:

  • LS 33-melassestroop/-meel.
  • Meester 20 of Super 18.

Vrystaat Landbou kyk daarna om die fondse wat geskenk is te gebruik om veevoer en korrels in groot maat aan te koop, diesel vir die vervoer van voer- en veeskenkings naaste aan die betrokke gebiede te betaal, omheiningsmateriaal en veesuiping op produsente se plase te herbou en herstel, asook vir die georganiseerde en billike herverdeling van die skenkings binne die betrokke gebiede volgens die gedetailleerde impak- en behoeftebepalings wat nog gedoen word.

Diegene wat nog donasies aan die rampfonds wil maak, kan die woord SKENK na 37846 SMS (R1/sms. B’s & V’s geld). – Persverklaring, Vrystaat Landbou