Die gebied tussen Warden in die Vrystaat en Estcourt in KwaZulu-Natal bly ’n veediefstal-brandpunt, met van die meeste veediefstal-gevalle in die land. Daar is kommerwekkende nuwe neigings waarvan boere moet kennis neem, sê Dolph van Rensburg van Ukuvikela Security Consulting, wat plaaswagdienste aan boere in die Besters-, Ladysmith- en Elandslaagte-gebied bied. Hy bestee die meeste van sy tyd aan veediefstalgevalle.

“Dis opmerklik dat baie gesteelde vee in die afgelope tyd na veilings geneem word om verkoop te word. Ons kry nou byvoorbeeld voertuie wat van Phuthaditjaba af Mooirivier toe ry met ’n paar skape om verkoop te word. Skape word dus nie meer noodwendig vinnig geslag en die vleis verdwyn in ’n woongebied nie. Veediewe is baie duidelik jonger, en steel nie meer noodwendig om kos op die tafel te sit nie. Diewe stel in die kontantwaarde van die vee belang. Dis waarskynlik waarom meer gesteelde vee op veilings beland.”

Hoewel die afslaers in ons omgewing baie bewus is van die veediefstalbedreiging en verdagte sake dadelik aanmeld, vind hy tog dat daar te min polisieteenwoordigheid op veilings is.

“Ongelukkig is die uniform-beamptes van die SAPD nie goed opgelei om gesteelde vee op veilings te identifiseer nie, en daar is heeltemal te min opgeleide veediefstal-beamptes beskikbaar. Die gevolg is dat dit maklik is vir veediewe om gesteelde vee op veilings van die hand te sit.”

As boere daagliks hul vee tel, sal dit ’n reuse-verskil aan die veediefstalprobleem in die omgewing maak, sê Dolph.

“Dit is nie noodwendig maklik nie, maar as jy gouer kan agterkom dat vee in ’n kamp kort, is dit soveel makliker om die spoor van daardie vee te volg en leidrade te kry. Dit lyk asof netwerke van veediewe oor groot gebiede ontstaan, en verskillende groepe uit verskillende streke saamwerk om vee uit te ruil. Dit word dus al hoe belangriker om inligting van diefstalle verder te versprei, want gesteelde vee word ál verder vervoer.”

Vir meer inligting, skakel Dolph van Rensburg by 083 977 1699. – Izak Hofmeyr, Veeplaas