Veefinansiering: Opsies en oorwegings

973

Om te boer en skuld aan te gaan, word deur baie boere as vanselfsprekend beskou. Suid-Afrika se landbouskuld is in 2016 op amper R145 miljard (Figuur 1) bereken, teenoor sowat R133 miljard in 2015. Daar kan gesien word dat die skuldvlakke konstant gestyg het in die jare voor 2015.

Die totale skuldlas van landbou het tussen 2010 en 2015 tussen 12% en 15% per jaar gestyg, met die styging effens laer tussen 2015 en 2016 (amper 9%). Skuldvlakke het in 2013 deur die R100 miljard merk gebreek en is vinnig op pad na R150 miljard. Hoër insetkoste dra waarskynlik grootliks tot dié verskynsel by.

Van die totale landbouskuld vir 2016 word sowat R89,4 miljard of 62% deur kommersiële banke gefinansier. Die blootstelling van die kommersiële banke het tussen 2010 (60%) en 2012 (54%) gedaal, en sedert 2012 weer konstant aanhou styg.

Figuur 1: Suid-Afrika se totale landbouskuld en kommersiële banke se bydrae tot die finansiering.

 

 

 

 

Gesonde vraag na teeldiere

Noudat die grootste deel van die land weer reën gekry het en veeboere weer begin bou aan hulle kuddes, is die vraag na teeldiere gesond. Baie produsente het nie noodwendig die nodige reserwes om hul plase ná die droogte weer op volle kapasiteit te kry nie. Dit laat die vraag ontstaan of finansiering spesifiek vir vee-aankope bestaan en hoe dit werk.

Volgens inligtingsbronne en literatuur is die eenvoudige antwoord ja. Geld kan vir die aankoop van vee geleen word, maar daar is sekere aspekte wat deur die banke in ag geneem en vereistes wat aan die lener gestel gaan word.

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat banke hul risiko op een of ander wyse moet verskans vir die geld wat uitgeleen word. Die meeste banke is dit eens dat vee ’n hoë-risiko item is om te finansier, veral in die geval van kommersiële vee. Van die groot risiko’s van veefinansiering teenoor byvoorbeeld die finansiering van ’n voertuig, wat ook ’n roerende bate is, is dat vee se waarde behoue bly, selfs al word dit gesteel en later weer verkoop.

Tweedens kan die bank presies bepaal watter voertuig deur hulle gefinansier word, en watter voertuig hulle dan kan opeis in die geval van wanbetaling. In die geval van vee is dit meer kompleks, aangesien vee meestal nie individueel gemerk is nie. Die bank kan dus nie presies bepaal vir watter vee die lening aangewend is nie.

Wanneer vee opgeëis word, sal die bank nie spesifiek kan bepaal watter vee hy moet opeis vir wanbetaling van die lening nie. Waar grond as sekuriteit vir die lening gebruik word, is die scenario eenvoudiger. Daar kan dan presies bepaal word watter grond die bank kan opeis indien die lening nie betaal word nie. Dit kom neer op die akkurate bewys van eienaarskap, wat die proses vergemaklik en dit sodoende minder riskant vir banke maak.

Opsies vir leners

In kort is daar twee soorte leners. Die eerste groep is individue wat grond of ’n ander bate besit, en die bate as sekuriteit vir die veelening wil gebruik. Let daarop dat eiendom en selfs die aansoeker se eie vee in sekere gevalle as sekuriteit gebruik kan word. Dit behoort ’n redelike eenvoudige proses te wees.

Aan die ander kant is daar mense wat nie bates op hul naam het nie – vir hulle gaan dit nie so eenvoudig wees om finansiering vir vee te onderhandel nie. As die voornemende lener ’n salaristrekker is en deeltyds wil boer, kan na sy inkomste as bron van sekuriteit gekyk word (soos in die geval van die koop van ’n voertuig).

Die leningsbedrag sal wel in lyn moet wees met die terugbetaalvermoë wat sy salaris toelaat. As iemand se salaris nie voldoende is nie en hy/sy nie bates het wat as sekuriteit kan dien nie, is dit hoogs onwaarskynlik dat finansiering vir vee verkry gaan word.

Ander oorwegings

Voordat ’n mens net teen die sekuriteitsaspek van finansiering vaskyk, moet in ag geneem word dat ander aspekte vir die goedkeuring van die lening oorweeg gaan word. Met elke aansoek word die aansoeker ondersoek. Sy risikogradering word in ag geneem op grond van sy kredietrekord tot dusver, asook sy bestuursvermoë en ondervinding. Dit help om aansoek te doen by die finansierders waar jy reeds betrokke is, want hulle het dan maklike toegang tot die nodige inligting.

Net so sal die beplande projek geëvalueer moet word om te verseker dat dit lewensvatbaar is en dat die lening binne die voorgestelde tyd terugbetaal sal kan word. Die terugbetaalvermoë geniet veral baie aandag, vernaamlik wanneer ’n individu in sy persoonlike hoedanigheid die aansoeker is.

Wat sê die banke?

Die meeste finansierders noem dat hulle slegs teeldiere finansier en nie noodwendig spekulante wil finansier nie. Lenings word vir drie tot sewe jaar toegeken in die geval van skape (meestal drie jaar), en vir vyf jaar vir beeste.

In gevalle waar die produsent se bestaande kudde as sekuriteit gebruik gaan word, sal dalk vereis word dat die diere sowel as die gefinansierde diere individueel gemerk en gereeld nagegaan moet word om te verseker dat die sekuriteit behoue bly. Tegnologie soos RFID-oorplaatjies behoort dié proses te vergemaklik. Die gefinansierde vee behoort aan die bank tot die lening afbetaal is.

Versekering kan ook ’n vereiste wees om die kudde, of ten minste die leningsbedrag, te dek. Indien verskering ’n vereiste is vir vee wat gekoop wil word, sal dit nog druk op die projek se lewensvatbaarheid plaas.

Versekering vir kommersiële vee word oor die algemeen as duur beskou en premies beloop tussen 6% en 11% van die versekerde waarde per jaar en hang af van die tipe dekking wat uitgeneem word. Die aansoeker moet al die vereistes in ag neem en sy somme behoorlik maak voordat hy die proses aanpak.

Standard Bank se vereistes

Volgens Francois Human van Standard Bank gebruik hulle nie vee as primêre sekuriteit nie. Hulle maak wel voorsiening vir lenings met die doel van spekulasie, en dié lenings strek tussen ses en 18 maande. Intensiewe produksiestelsels sal oorweeg word, mits die aansoeker aan die vereistes voldoen soos vroeër genoem.

Ongelukkig bestaan daar nie ’n pasgemaakte produk vir al die veelenings nie en word dit individueel vir elke geval beoordeel. Die rentekoerse en termyne van terugbetaling sal van geval tot geval verskil, aangesien die risiko vir die bank verskil. Die bank moet beleggers wat geld by hulle belê het tevrede hou dat roekelose lenings nie aan leners toegestaan word nie, en dat die beleggers en die bank se geld ten alle tye goed bestuur word.

Absa se vereistes

Eben Myburgh van Absa sê dié bank se sekuriteitswaarde vir veefinansiering is 50% van die waardasie van die grond – met ander woorde, as die grond R1 000 000 werd is, is Absa se sekuriteitswaarde R500 000. Absa sal dan R500 000 tot R700 000 kan leen, afhangende van hoe sterk die lener se balansstaat en betaalvermoë is.

Vee word ook nie by hulle as sekuriteit gebruik nie, maar vorm wel deel van die balansstaat. Intensiewe stelsels sal deur die bank gefinansier word, maar hulle is versigtiger teenoor dié praktyke.

Volgens Eben vat dit sowat vier tot ses weke om ’n aansoek af te handel, maar dit kan langer wees, afhangende van die kompleksiteit en of daar reeds sekuriteit in plek is. Dit is ’n uitdaging om nuwe toetreders wat met vee wil boer te finansier, veral as daar nie eie grond betrokke is nie of as sekuriteit ’n probleem is.

Beide banke het die afgelope tyd meer aansoeke vir vee- en produksielenings ontvang. Eben sê dit is as gevolg van boere wat weer probeer om hul kuddes op te bou en boerderye wat diversifiseer. Francois glo dié tendens kan die volgende 18 maande aanhou as gevolg van die goeie reën, laer voerpryse en groter vraag na veeprodukte.

Hoe lyk die som?

Die aannames in Tabel 1 skep ’n scenario waar die aansoeker finansiering wil bekom om koeie te koop. Die projek beoog om speenkalwers te bemark teen ’n gewig van 250kg elk. Onder andere word voorsiening gemaak vir die aankoop van 100 dragtige koeie en ’n speenpersentasie van 85% word gebruik. Vervangingspersentasies word nie in ag geneem nie – slegs die inkomstepotensiaal van die projek.

Die enigste verskil tussen die twee scenario’s is die verskillende finansieringstydperke (vyf teenoor sewe jaar). Dus sal die inkomste en direkte koste per jaar dieselfde wees vir albei tydperke, met net die jaarlikse paaiement wat verskil.

Tabel 1: Potensiële inkomste vir die aankoop van beeste oor verskillende termyne.

Aannames vir tydperk van vyf jaar Aannames vir tydperk van sewe jaar
Produktiewe koeie (aantal) 100 Produktiewe koeie (aantal) 100
Persentasie bulle 3% Persentasie bulle 3%
Speenpersentasie 85% Speenpersentasie 85%
Speengewig (kg) 250 Speengewig (kg) 250
Speenkalfprys (R/kg)* R33,52 Speenkalfprys (R/kg)* R33,52
Prys per koei (dragtig) R18 000 Prys per koei (dragtig) R18 000
Prys per bul R30 000 Prys per bul R30 000
Rentekoers 11,5% Rentekoers 11,5%
Totale lening R1 890 000 Totale lening R1 890 000
Lening Lening
Termyn (maande) 60 Termyn (maande) 84
Inkomste vir die jaar R712 300 Inkomste vir die jaar R712 300
Paaiement per jaar R498 792 Paaiement per jaar R394 325
Inkomste ná paaiement R213 508 Inkomste ná paaiement R317 975
Totale direkte koste R109 407 Totale direkte koste R109 407
Inkomste ná direkte koste R104 101 Inkomste ná direkte koste R208 568

*Pryse soos op 12/04/2018.

As ’n seun beeste wil koop en die pa bereid is om sy grond as sekuriteit te gee, maar steeds huur van sy seun verwag, sal verdere koste in berekening gebring moet word.

Navorsing het al bewys dat huur tussen 25% tot 40% van so ’n projek (vertakking) se bruto inkomste beloop (Edwards, 2013). Human (2016) werk weer op ’n huurbedrag wat gelyk is aan een derde (33,3%) van die projek se bruto inkomste.

Indien dié benadering gevolg word, sal nie een van die twee scenario’s die mas opkom nie. Onthou ook dat geen lewenskoste van die aansoeker in berekening gebring is nie.

Ten slotte

Dit lyk asof die finansiering van vee meer ’n geleentheid vir uitbreiding vir bestaande veeboere is wat nie afhanklik is van die uitbreidingsprojek se inkomste nie en ook nie huur (of die volle huur) uit die projek hoef te betaal nie. Dit lyk egter nie asof daar ’n maklike of vinnige plan vir nuwe toetreders tot die veebedryf is nie.

Vir meer inligting, kontak WA Lombard by LombardWA@ufs.ac.za, Eben Myburgh van Absa by 051 401 0931, 079 879 2768 of Eben.Myburgh@absa.co.za, en Francois Human of Danie Retief van Standard Bank by Willem.human@standardbank.co.za of Danie.retief@standardbank.co.za. –WA Lombard, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Luister meer hieroor op RSG Landbou.