Die Veeplaas skole-kuddeprojek het dié week nog momentum gekry toe sy Hugenoot-stoet op 1 Maart 2017 by die Gekombineerde Skool Balfour gevestig is. Die stoet word vir die skool deur die Cilliers-boerdery net buite Balfour bedryf. Die vyf dragtige en vyf oop verse is deur Braam Olivier van die Landmerck Hugenootstoet in die Frankfort-distrik geskenk.

Olivier, wat in die verlede self ook by landbouonderrig betrokke was, het beklemtoon dat dit belangrik is om die jeug by die landbou te betrek. “ ’n Jongmens wat vir homself kennis oor die landbou en voedselproduksie versamel, maak ’n goeie keuse en sal baie toekomsmoontlikhede hê,” het hy die leerlinge aangemoedig.

Wat dié stoet veral besonders maak, is dat dit saamval met die ontwikkeling van landbouonderrig by die Gekombineeerde Skool Balfour. “Ons het ’n tyd gelede reeds by die jeugskou betrokke geraak, maar het gesien dat daar werklik ’n behoefte aan landbouonderrig in ons gemeenskap is,” sê die skoolhoof, Phillip Breedt.

Die moontlikheid is ondersoek en die eerste groep van 16 graad tien leerlinge neem vanjaar landbouwetenskappe as vak. “Ons weet daar is ’n toekoms in die landbou, en ons wil in staat wees om kinders uit die gemeenskap landbouonderrig te gee, sonder dat hulle na ’n skool buite die gemeenskap en ver van hul ouerhuise hoef te gaan. So glo ons sal met die inbring van die vak ook ’n positiewe impak op die gemeenskap kan hê.”

Volgens Breedt is die toevoeging tot die skool se aanbod baie positief deur die kinders, hul ouers en die boere in die omgewing ontvang. “Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning van die boerderygemeenskap in die proses om die vak tot die skool te voeg. Ons sê ook baie dankie vir Faans van der Merwe van die Hoërskool Ermelo vir sy ondersteuning met die ontwikkeling van die vak.”

Dit is die agtste kudde in die projek. Kuddes van ander rasse is reeds by ander skole gevestig. Lees hier meer oor ander kuddes. – Marike Brits, Veeplaas

Luister hier wat WA Lombard oor die projek te sê gehad het op RSG Landbou.

Braam Olivier gesles met die leerders:

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here