Die gevreesde Oosterse vrugtevlieg het onlangs sy verskyning by Grabouw in die Wes-Kaap gemaak toe ’n manlike vrugtevlieg in ’n proteïen-lokval gevind is. ’n Vroulike vlieg is vroeg in Februarie in dieselfde lokval gevind en ’n derde vrugtevlieg is middel Februarie naby aan die lokval gevind.

Lise Roberts van RSG Landbou het onlangs met Jan-Hendrik Venter van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) oor hierdie kwessie gesels.

Vrugtevlieg-lokvalle

As deel van DAFF se strategiese plan om eksotiese vlieë op te spoor, is vrugtevlieg-lokvalle regoor die land opgerig. Die Oosterse vrugtevlieg, wat onlangs in een van die lokvalle gevind is, is blykbaar al ’n geruime tyd in Suid-Afrika en word amptelik as deel van DAFF se regulasies beheer, aangesien dit ’n kwarantyn-pes is.

Luidens DAFF se standaarde moet beheermaatreëls toegepas word wanneer ’n tweede vrugtevlieg in dieselfde gebied gekry is. ’n Uitwissingsprogram word dan van stapel gestuur in ’n gebied van 25km rondom die lokval waar die vlieë gekry is.

Die volgende beheermaatreëls moet in so ’n gebied toegepas word:

  • Sanitasie moet verskerp word, met ander woorde vrugte wat geval het, moet op ’n weeklikse sirkulasiebasis opgetel en begrawe of vernietig word op ’n manier wat deur DAFF goedgekeur is.
  • Huishoudelike tuine moet ook aandag kry, aangesien hierdie vrugte gewoonlik baie lank aan die bome hang. Hierdie vrugte moet gestroop, verwyder of begrawe word.
  • Die manlike uitwissingsprogram moet toegepas word om manlike vlieë te vernietig.
  • Proteïen-lokmiddels moet gebruik word om vroulike vlieë uit te wis. – Elmarie Helberg, RSG Landbou