Met dele van die Wes-Kaap wat reën gekry het en damvlakke wat gestyg het, blyk die droogte nou amper iets van die verlede te wees. Die invloed van die droogte op weidings en waterbronne is dalk nie meer so opmerklik nie, maar lyk wel of die markte nog deur die kuddeboufase beïnvloed word.

Hierdie fase volg op die droë tydperk waartydens, volgens beskikbare navorsing, die nasionale koeikudde tussen 2013 en 2016 met 15% verminder is en ooikuddes met sowat 16%. Op provinsiale vlak is die Noord-Kaap die ergste geraak, met die getal koeie wat met 23% verminder is, gevolg deur Noord-Wes en Limpopo wat hulle koeikuddes met onderskeidelik 21% en 17% verminder het.

Wat skape betref, het KwaZulu-Natal die grootste daling getoon met ‘n 36% afname in ooie, gevolg deur Limpopo (31%) en die Noord-Kaap (23%). Hierdie artikel bied ‘n kort oorsig oor die skaap- en beesvleismark wat slaggetalle, vleispryse en tendense in die lewendehawemarkte betref.

Slagdiersyfers

Beskikbare syfers ten tyde van die skryf van hierdie artikel (Figuur 1), het getoon dat die getal beeste wat maandeliks geslag word, steeds aan die daal is. Dit lyk of die draaipunt in Julie 2017 ervaar is, toe daar in bykans al die daaropvolgende maande minder beeste per maand as in dieselfde maand in die vorige jaar geslag is. Desember was steeds in 2017 die piekmaand vir slagtings, maar daar is sowat 12% minder beeste as in die ooreenstemmende maand in 2016 geslag.

Figuur 1: Getal beeste geslag, 2015 tot op datum.

Skaapslaggetalle toon ook ‘n afwaartse tendens (Figuur 2) in slaggetalle, met die afname in slagtings wat reeds van die begin van 2016 waargeneem kan word. Dit wil voorkom asof die draaipunt in die getal skape wat geslag is, reeds in 2015 of vroeër beleef is. Dit wil dus voorkom asof skaapboere vroeër deur die droogte geaffekteer was en vroeër hul kuddes moes verminder as die groter beesproduserende dele van die land.

Figuur 2: Getal skape geslag, 2015 tot op datum.

In Desember 2017 waartydens die meeste skape daardie jaar geslag is, was daar ook ‘n duidelike afname in die getal slagtings, met ‘n aangetekende verskil van 16%.

Vleispryse

As die fokus verskuif word na karkas- en speenkalf- en -lampryse, lyk die prentjie meer rooskleurig. Beesvleispryse (Figuur 3) het sedert begin 2016 konstant bo die ooreenstemmende maande van die vorige jaar gebly. Die tendens ook in 2017 voortgesit en selfs in 2018 tot en met Maart 2018 volgehou.

Figuur 3: Beesvleis- en speenkalfpryse.

In die daaropvolgende maande het die prys effe onder 2017 se vlakke verhandel, maar dit was nie noemenswaardig laer nie. ’n Mens kan jouself afvra of dit nie dalk die pryse is waarteen die mark begin weerstand bied nie – dalk tot ‘n mate te danke aan die trae ekonomiese groei wat beleef word.

Speenkalfpryse het in 2015 en 2016 baie naby aan mekaar beweeg en gedurende 2017 skerp gestyg. Sedert die begin van 2018 het die prys gedaal tot en met Maart, en sedertdien verhandel dit teen die R34/35 per-kilogram-merk.

Skaapvleispryse (Figuur 4) toon ook ‘n styging, met pryse wat ook vanaf vroeg 2016 aanhou hoër verhandel het as dié in dieselfde maande van die vorige jaar. ’n Mens kan wel in 2017 sien dat pryse geweldig gestyg het en teen Desember by die R84/kg-merk gaan draai het. In 2018 het die prys effe gedaal vanaf die Desember-vlakke, maar steeds hoër as 2017 se pryse gebly, tot en met vroeg Junie (volgens beskikbare bronne) toe die prys vir die eerste keer onder die vorige jaar se prys gedaal het.

Figuur 4: Skaapvleis- en speenlampryse.

Sedert 2016 het speenlampryse aanhoudend hoër verhandel as in dieselfde maande van vorige jare en dié tendens het nog nie verander nie. Daar is ook ‘n sterk styging gesien vanaf middel 2017, toe die speenlamprys in ‘n maand se tyd met sowat R5/kg gestyg het. Alhoewel speenlampryse effens gedaal het tussen Januarie en Maart vanjaar, het dit weer goed begin styg in die daaropvolgende maande.

Die plaaslike veemark

Veeplaas het met kenners in die plaaslike veemark gaan gesels oor hulle menings oor wat tans in die mark aan die gang is. Op die vraag oor hoe die hoeveelheid beeste wat in 2018 verkoop is vergelyk met 2017, het Vleissentraal-afslaer, Ian Grobbelaar, die volgende gesê: “Die hoeveelheid kommersiële koeie wat vanjaar verkoop is, verskil nie veel van verlede jaar nie en boere verkoop steeds dieselfde hoeveelhede. Daar is egter ʼn tekort aan jong verse in die mark. Dit kan toegeskryf word aan boere wat steeds besig is om kuddes te bou na die droogte”.

Wat 2018 se veilingspryse betref, het hy die volgende gesê: “Pryse bly hoog en daar is geen prominente daling sedert verlede jaar nie. Waar die maksimum prys vir ’n koei met ’n kalf in 2017 sowat R15 000 was, het dit nou toegeneem na ongeveer R18 000. Die prysverhoging word nie net by koeie waargeneem nie, maar ook by stoetbulle.” Hy verwag ook dat pryse nog gaan styg as gevolg van produsente wat bulle gaan begin aankoop vir die volgende teelseisoen.

Sy uitkyk vir die res van die jaar is positief. “Hierdie jaar het tot dusver baie goeie resultate getoon en ek glo nie dat dit binnekort gaan verander nie. Die bulmark is reeds goed op dreef en vanaf Julie sal die vraag na teelbulle begin styg, wat hoër pryse vir teeldiere sal meebring. Speenkalwers se pryse sal nie nou baie beïnvloed word nie, wat dit aanloklik maak vir boere om koeie en verse aan te koop.”

Volgens Mario Kruger van OVK CMW) verskil die hoeveelheid kommersiële en stoetskape wat tot dusvêr vanjaar verkoop is ook nie veel van verlede jaar se verkope nie en is dit min of meer dieselfde. Die hoë wolprys maak die mark meer aanloklik vir produsente en veroorsaak dat die vraag na skape groei. Die verhoging in die vraag het ook ’n mate van invloed op vleispryse, met ’n verhoging wat in pryse waargeneem is.

Mario is ook van mening dat 2018 ’n goeie jaar vir verkopers is. “Daar word verwag dat meer skape aangekoop sal word, wat die prys van teeldiere nog meer sal laat styg. Dit is nog te vroeg in die winter (middel Junie toe hierdie artikel geskryf is) om te kan sê wat gaan gebeur met die skaap-aanbod. Dit kan nog aansienlik verander, afhangende van die hoeveelheid weiding wat produsente vir hulle diere beskikbaar het.”

’n Gesonde vooruitsig

Die laer slaggetalle behoort vir die afsienbare toekoms voort te duur, veral as die prys van vee aanhou goed vaar. Vleispryse blyk meer sywaarts te begin beweeg na die goeie stygings wat in die mark beleef is, en sal waarskynlik min of meer teen 2017-pryse bly verhandel. Verbruikers se weerstand teen hoër pryse het waarskynlik ook ‘n rol te speel hier en sal aanhou om ‘n rol te speel solank die ekonomie sukkel om behoorlik op dreef te kom.

Dit lyk voorts asof die speenkalf- en speenlammark gesond is, met pryse wat 2017 se pryse uitpresteer en waarskynlik so sal voortduur, solank die mielieprys laag bly. Die skerp styging in speenlampryse die afgelope maande is waarskynlik deels die gevolg van die hoër wolprys en skaapboere moet dit tot hulle voordeel gebruik.

Artikel deur WA Lombard en Mario van den Heever, Departement Landbou-Ekonomie, Universiteit van die Vrystaat, vir Veeplaas. Vir meer inligting, epos WA Lombard by wa.veeplaas@gmail.com.

 

 

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here