Die Suid-Afrikaanse Wolkopersvereniging (Sawamba) het nie Woensdag, 15 Augustus 2019, se eerste wolveiling van die seisoen bygewoon nie, en gaan ook nie die tweede wolveiling van die seisoen bywoon nie.

Volgens die voorsitter van Sawamba, Clarence Frisken, spruit hierdie optrede uit onsekerheid rondom die vereiste gesondheidsertifikaat vir uitvoer na China ná die opheffing van die verbod op die uitvoer van diere met gesplete hoewe en hul produkte.

Die huidige seisoen se wol sal onderhewig wees aan temperatuur- en tydvereistes wat deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) gestel is. Kopers voer op grond hiervan aan dat hulle nie die kapasiteit het om die implikasies te hanteer indien die wol China eers oor vier of vyf maande bereik nie.

Indien die Chinese doeane-administrasie gunstig op die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se versoek vir meer duidelikheid reageer, sal daar met behulp van die makelaars so gou as moontlik ‘n veiling gereël word.

Spekulasie oor die nabye toekoms

Daar word nou gespekuleer dat, indien die wolveilings wel sou voortgaan, die koopprys met minstens 20% sal daal. Dit sal Oos-Kaapse produsente wat byvoorbeeld in Junie geskeer het, onder nóg meer druk plaas, omdat baie alreeds kontantvloeiprobleme ondervind weens die droogte.

Die feit dat die twee veilings gekanselleer is, beteken ook dat die wol ophoop, wat waarskynlik daartoe sal bydra dat die aanbod by die volgende veilings baie groot gaan wees en pryse gaan verlaag. Die ongelukkige waarheid is dan nou die ideale tyd vir veilings is, danksy ‘n swak Rand wat kopers in staat sal stel om wol teen ‘n baie goeie prys te koop.

Bokhaarveilings gaan steeds voort, hoewel die eerste veiling van die seisoen se pryse met 13% gedaal het. Daar moet wel rekening gehou word met die feit dat winterbokhaarpryse gewoonlik ietwat laer is. Die somerseisoen in Europa het gewoonlik ook ‘n ietwat afwaartse effek op die prys.

‘n Produsente-perspektief

Guillau du Toit is ‘n produsent in Fraserburg se wêreld en ook die voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV).

Hy deel die volgende gedagtes rondom die veilings wat gestaak is. “Ek dink ons moet besef dat die bedryf op hierdie stadium redelik baie probleme in die gesig staar. Aan die een kant het ons produsente wat in ‘n droogte moet oorleef en hul wol wil verhandel, en dus die kontant nodig het; en aan die ander kant het ons die kopers wat tydens die vorige seisoen te midde van China se verbod, steeds aangehou het om wol te koop tot aan die einde van die seisoen.”

Dit het ‘n groot finansiële las op die kopers geplaas, omrede die wol nie op daardie stadium uitgevoer kon word nie.

“Daar is ook steeds ‘n groot persentasie van die wol wat om verskeie redes nog nie uitgevoer kan word nie. Die ander groot nadeel vir die kopers is dat die wol wat hulle die vorige seisoen teen daardie markprys gekoop het, tot op hede redelik verswak het, en van die lyne wat hulle gekoop het, het al reeds met 30% gedaal. ‘n Mens moet in gedagte hou dat hulle nog nie betaal is nie, en wanneer die wol verskeep word, verwag hul kliënte dat daardie prys tot die vlakke wat dit tans is, moet daal. Ons hoop dat die vlakke sodanig sal verbeter dat die verliese aan die wolkopers se kant minder sal wees.”

‘n Goeie besluit tot dinge weer vlot

Hy glo dat die kansellasie van die veilings moontlik op die ou end die beste besluit vir die bedryf sal wees. “Anders gaan ons groot dalings in die mark sien vanweë ‘n prysverlaging en ‘n tekort aan geld. Ek dink nie dit is noodwendig ‘n slegte ding om die veilings vir ‘n kwartseisoen terug te hou nie. Ons doen alles in ons vermoë van die NWKV se kant af om te onderhandel en die proses te volg sodat die veilings so gou as moontlik weer op dreef kan kom.”

Iets wat Guillau graag wil beklemtoon, is dat produsente nie paniekerig moet raak nie. “Dit is ‘n krisis en ons moet daardeur gaan. Die hele bedryf ervaar ‘n krisis en het ‘n verantwoordelikheid om saam te werk en te kyk hoe ons dit kan afweer. Dit sal onnodig wees om die skuld daarvoor op rolspelers in die bedryf te pak; ons is almal in ‘n mindere of meerdere mate in dieselfde bootjie.

“Ek weet dit gaan swaar by baie produsente, maar die rolspelers in die bedryf doen regtig hul bes om die situasie op te los en ‘n nuwe ooreenkoms met China te kry, sodat die wol vinniger kan uitgaan en dat ons nie verder blootgestel word aan die temperatuurregulasies vir wol voor dit uitgevoer kan word nie.”

Nuwe regulasies, ekstra koste

Henry du Plessis van Waaifontein by Kareedouw skeer sy skape sesmaandeliks en het op 15 Augustus begin skeer. Hy verteenwoordig die Zuuranys Landbouvereniging en sê daar is baie uitdagings waarmee rekening gehou moet word aan die produksie- en bemarkingskant van sake.

“Ek glo die skeerprogram sal voortgaan met ‘n normale inname van wol vanaf die produsente wat ses- of agtmaandeliks skeer, of selfs jaarliks. Ek dink wel dat die nuwe regulasies, soos die verhitting van die wol, ekstra koste gaan meebring wat die kopers in hul prys sal verhaal en wat uit die boer se sak sal moet kom.”

Hy glo met dié dat daar nie nou wolveilings is nie, die wol gaan ophoop en die groter aanbod die prys gaan afwaarts druk. Dit sal produsente ook nadelig raak.

“Uit ‘n kontantvloei-oogpunt kan dit wees dat baie produsente hul woltjek eers ‘n paar maande later as die beplande tyd gaan kry.” Henry sê dat dit sal beteken dat produsente óf met hul banke reëlings op hul oortrokke fasiliteite sal moet tref, óf ‘n voorskot op hul wol sal moet vra. “Ek voorsien dat baie van die produsente die tweede opsie gaan kies.”

Daar is volgens hom ‘n goeie kans dat die wolkopers se besluit om nie met die veilings voort te gaan nie, in ‘n mate vir die produsente voordelig kan wees sodat verdere onderhandelinge tussen die departement en China bespoedig sal word. “As China ook kan sien dat die provinsie werklik bek-en-klouseervry is, kan dit moontlik onnodige ekstra koste soos wolverwarming vir ons uitsluit.”

Die lot van ekstensiewe boere

Johan Lategan van die plaas Midlands in die Aberdeen-distrik, se boerdery bestaan uit 60% volstruise, wolskape en Angorabokke.

“Verlede jaar se wol- en vleispryse was goed, ten spyte van die feit dat produksie af was as gevolg van die droogte. Intussen moes baie produsente hul veegetalle verminder of heeltemal handdoek ingooi. Ek is net bekommerd dat die uitvoerverbod en veilingskansellasies katastrofiese gevolge vir die wolbedryf gaan inhou, veral vir die produsente wat in die baie droë ekstensiewe dele boer.

“ ‘n Mens moet in gedagte hou dat wanneer dit goed gaan in ‘n bedryf, dit aanloklik raak vir ouens in ander bedrywe om daartoe toe te tree.” Johan gebruik as voorbeeld besproeiingsprodusente wat intensief met skape begin boer. “Hulle kan daardie boerderye baie makliker tot niet maak as die ouens wat al lank ekstensief met skape of bokke boer en ten volle afhanklik van daardie inkomste is.”

Uitbreidings nou onder groter druk

Daar is ook produsente wat projeksies gedoen het om meer doeltreffend te boer op kapitaaluitbreidings, soos lamhokstelsels, besproeiing, of ‘n groot ontwikkeling op die plaas wat gefinansier moes word. Johan sê dat hulle nou onder groter druk is om die ekstra kostes te dra.

Hy verwys ook na die dele wat droogtehulp deur middel van skenkings kry. “Jy moet in ag neem dat die skenkings nie onbepaald kan voortgaan nie. As jy kyk na die produsente in die baie droë dele, dan leef hulle alreeds baie konserwatief. Dit is egter onafwendbaar dat, soos dit nou gaan, baie op ‘n punt sal kom waar hulle nie langer sal kan aangaan nie. Daardie tipe boer word nie maklik vervang nie, want dit sit nie in enigeen se broek om suksesvol in die droë ekstensiewe dele te boer nie.”

Uit ‘n bokhaar-oogpunt

Hans Greeff by Grootfontein Landboukollege is eintlik ‘n Angora-man en wil nie namens die wolprodusente praat nie. Hy is wel daarvan bewus dat baie produsente waardasies aangevra het of hul oortrokke fasiliteite verhoog het, en dat baie nou met ‘n groot probleem sit omdat hulle nie die banke kan terugbetaal nie.

“Daar is ook ‘n moontlikheid dat die geld wat hulle later vir hul wol gaan kry, minder gaan wees as wat hulle verwag het. Aan die bokhaarkant is die eerste ding wat ons moet onthou, dat dit normaal is dat daar ‘n effense regstelling van die somerseisoen na die winterseisoen se bokhaar is. Maar gewoonlik is dit rondom 5%, en beslis nie 13% waarmee dit nou afgekom het nie.

“ ‘n Mens moet wel in ag neem dat die fyn gedeelte van die skeersel, klein- en jongbokkiehaar, groot aanvraag vanuit Europa geniet. Die prys op daardie hare was selfs effens duurder. Die probleem waarmee ons sit, is dat die kopers vir China glad nie op die veiling gekoop het nie, vir dieselfde rede gekoppel aan die wol.”

Lamtyd vra meer as spaarveld

Hans hoop dat die regering en Chinese baie vinnig tot ‘n ooreenkoms sal kom om die probleme op te los. “Die algemene gevoel is dat sulke politieke goed ‘n baie slegte invloed het op die produsente wat al reeds onder ‘n ongelooflike rekord-breek droogte gebuk gaan. Van die ouens het dit tot nou toe reggekry om hul bokke op ‘n bietjie spaarveld aan die gang te hou, maar met lamtyd sal hulle moet begin voer en daarvoor het hulle geld nodig. Ons kry ook nie meer die vroeë lentereën sodat die bokkies mooi groot kan word nie.”

Hy is wel baie positief oor die toekoms van bokhaar waarvoor daar steeds ‘n goeie aanvraag is, maar sy hart bloei vir die produsente wat hulself nou sonder die inkomste van hul bokhaar in ‘n baie moeilike situasie bevind.” – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak: