“Dit is krities noodsaaklik dat die situasie in die rooivleisbedryf so gou as moontlik na normaal terugkeer sodat veilings en lewendehaweskoue in ten minste agt van die nege provinsies hervat kan word”, sê mnr Koos van der Ryst, voorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente Organisasie (RPO).

Landswye verbod knou die bedryf

Dit volg nadat ‘n landwye verbod op alle veeveilings geplaas is ná die uitbreking van bek-en-klouseer in die Limpopo provinsie in 2019.

“Die huidige situasie is onuithoudbaar. Die rooivleisbedryf word daardeur lamgelê; dit verhoed normale prysvormingsmeganismes en impakteer negatief op kommersiële en veral opkomende produsente.”

“Ons doen ‘n ernstige beroep op die Departement van Landbou om die uiters drastiese maatreëls in heroorweging te neem en die geaffekteerde gebied te isoleer sodat normaliteit herstel kan word.”

Nuwe beleid dalk die antwoord

Toetsing vir moontlike nuwe uitbrekings is oor die feesseisoen voortgesit en 25 verdagte fasiliteite is getoets, waarvan drie positief getoets het. Die virusaktiwiteit by een van die gevalle kan nie verbind word met die ander uitbrekings nie en skep ‘n ernstige situasie.

Die uitbrekings is egter steeds gelokaliseerd en daarom is die RPO van mening dat die gebied geïsoleer moet word sodat die res van die land onder sekere voorwaardes na normaal kan terugkeer.

Die RPO het die tegniese komitee oor bek-en-klouseer versoek om ‘n beleid te finaliseer waarvolgens die veilings weer heropen kan word.

“Die bedryf sal streng selfregulering moet toepas en ons sal moet aanvaar dat ons ‘n nuwe bedeling betree het. Naspeurbaarheid, die merk van vee, die verklaring van gesondheidstatus van vee en die registrasie van agente sal deel van die beleid moet wees,” sê Van der Ryst.

Handelsooreenkomste moet behou word

Die RPO begryp die erns van die situasie gegewe die feit dat bek-en-klouseer ‘n virussiekte is wat maklik kan versprei en ‘n drastiese impak op internasionale handel het.

“Ons het ons bek-en-klouseer-vrye sone-status by die Internasionale Dieregesondheidorganisasie (OIE) verloor en ons moet uiters sensitief wees om ons bilaterale handelsooreenkomste, waarvan dié met China seker die belangrikste is, nie in gevaar te stel nie.

“Daar is ‘n verantwoordelikheid op elke produsent om toe te sien dat daar aan die nodige protokolle voldoen word om biosekuriteit op die plaas te verseker.”

Die RPO sal sy volle samewerking aan die departement gee, aangesien die hele kwessie ‘n gesamentlike poging tussen die rooivleisbedryf en die owerhede is. – Persverklaring, RPO