Die Karooboer Stefan Naudé glo ’n mens se boerderypraktyke moet in orde wees om suksesvol te boer. Stefan boer op die plaas Skuilhoek in die Hanover-distrik, wat uit gemengde Karooveld bestaan.

Veeplaas het met Stefan oor sy boerdery gesels, vernaamlik oor die Geelbek Elite Merino-stoet, wat hy en sy broer, Eric Naudé van Leopardsvlei, gesamentlik besit.

Die Geelbek Elite Merino-stoet se skape word al vir meer as 75 jaar deur noukeurige waarneming en streng seleksie van die veld af geteel. Stefan en Eric se oupa, Fanie Naudé, het destyds saam met sy broer, Fransie, begin om vir ’n gladdelyf-tipe skaap te selekteer – ’n neiging wat toe nog nie deur enige ander produsente voorgestaan is nie.

“So het ons skape bekend geword vir hul gladde lywe, goeie bouvorm, vinnige aanpasbaarheid en uitstaande wol,” vertel Stefan. Hy voeg by dat Geelbek Merino’s se oorsprong van die plaas Geelbeksfontein in die Richmond-distrik is, waar sy oupa geboer het.

Seleksie en teelbeleid

Die stoet word die afgelope 80 jaar van die veld af geselekteer, en tesame met prestasietoetsing en BLUP-analise dra dit tot uitstekende vleis- en woleienskappe by.

“Een van die belangrikste eienskappe wat ons nastreef is erfdwang, omdat die skape met die belangrikste ekonomiese eienskappe herhaaldelik vir baie jare met mekaar gepaar is. Erfdwang het ’n geweldige positiewe invloed op die Merino-ras en al hoe meer Merino-produsente besef dit.”

Stefan wys daarop dat hul teelbeleid is om soort met soort te paar. “Ons probeer dus om die optimale eienskappe vir vleis en wol so vas as moontlik te teel, met die resultaat dat die bruikbaarheid van die skape se nageslag baie hoog is. Dit help nie ’n teler gebruik ramme en ooie met goeie teelwaardes as hul tipe vir bouvorm en woleienskappe nie baie nou verwant is nie.”

’n Troppie Geelbek Elite Merino-poenas op Skuilhoek.

Hul skape is hoogs vrugbaar, terwyl die ooie oor die nodige gehardheid en moedereienskappe beskik wat nodig is om hul lammers op die veld groot te maak. “Onder gewone omstandighede weeg die lammers gewoonlik op vyf maande (150 dae) tussen 30 en 40kg.

“Ons ramme word van speentyd af streng geklas. Daar word veral gelet op hul aanpasbaarheid in natuurlike veldtoestande. Die ramme en ooie word ook goedgekeur deur ervare lede van die Skaap- en Woldeskundige-vereniging, wat namens Merino SA as klassers optree.”

Die rol van veldramklubs

Volgens Stefan is daar ’n groot verskil tussen vandag se veldramklubs en jare gelede s’n. “Teenoor die veldramklubs van die 1980’s, waar daar ’n groot verskeidenheid Merino-tipes was, lyk die prentjie vandag baie anders. Die Merino’s wat nou geteel word, is baie eenvormig, deel bloedlyne en is meer aanpasbare skape as vroeër jare.

“Die eerste veldramklubs het vinnig vir telers gewys met watter Merino’s hulle moes boer. Dit was gewoonlik die skape wat op die veld aangepas was.

’n Dubbeldoel-ras

“In die vroeë 1960’s is begin om hamellammers van die ooie weg te vat en as slaglammers te bemark. Daarna is besef as die Merino se tipe reg is, hy ook aangewend kan word as ’n dubbeldoel-skaap, aangesien sy vleis aan gesondheidsbewustes se vereistes van vleis-vet-verhouding voldoen.

“Die vleis is besonder sappig en smaaklik, en dit is glad nie nodig om groeihormone toe te dien nie. Die speenlammers beskik oor vinnige groeivermoë en is ook in aanvraag by voerkrale, waar hulle baie goed gradeer.”

Seleksie vir wol

Met die wolprys wat onlangs goed herstel het, bevind die Geelbek Elite Merino-stoet hulself in ’n baie gunstige posisie. Stefan skryf dit daaraan toe dat hulle ’n baie eenvormige kudde het, met jare se seleksie in ’n geslote kudde.

Sommige van die eienskappe waarop hulle tydens seleksie klem lê, is:

  • Goeie bouvorm.
  • Tipiese goeie olievloei in die wol.
  • Goeie wolkleur met hoë gehalte.
  • Goeie stapellengte.

Die Geelbek Merino-ram genaamd Rustig was vanjaar se nasionale wenner en grootkampioen-ram by die Merino Classic op Riversdal. Stefan het nege jaar in die raad van Merino SA gedien. “Die raad wend twee pogings per jaar aan om die ras te bevorder, naamlik die Merino Classic en die nasionale veiling. Ek het eers aan plaaslike skoue in die Karoo deelgeneem, en vanjaar aan die Merino Classic, waar al ses die ramme wat ek ingeskryf het baie goed gevaar het.”

Stefan en Marié Naudé.

Klassering van die kudde

Piet Venter, BKB se skaap- en woladviseur in Colesberg, is al 20 jaar by Stefan se kudde-klassering betrokke en hy tree as stoetadviseur op. Veeplaas het op die Nasionale Merino-veldramprojek se ope- en innamedag, wat op 10 Mei in die Middelburg-distrik gehou is, met hom oor sy betrokkenheid by Stefan se boerdery gesels.

“Uit die aard van die saak help ek Stefan met sy stoet- en kuddeseleksie. Sy Merino’s het uitstaande wol met ’n besonderse gehalte en lengte. Sy wol val in die mikron-kategorie wat in aanvraag is, tussen 19 en 20 mikron, en is ook ’n eweredige mediumwolvag. Die skoonopbrengs is tussen 72 en 74%.”

Piet sê die wol word per kilogram verkoop en ’n goeie wollengte is baie belangrik. “Die Geelbekke staan bekend vir minder wolproduksie, met minder wolfollikels per veloppervlakte. Om hiervoor te vergoed, het ons die wol langer geteel en word die skape op agt maande geskeer.

“Wat die stapellengte van die wol betref, kom daar selfs A-lengte vagte voor, wat uitsonderlik is om op agt maande te verkry. Dit kom neer op goeie seleksie. Een van die redes waarom Stefan nie jaarwol skeer nie, is omdat die wol te lank word en die verwering dan te veel is.

“Kopers is gewoonlik veral op die gehalte van die Geelbek-ramme se wol ingestel. Hulle let spesifiek op die fynheid, skoonopbrengs en lengte van die wol.”

RWS-oudit

BKB is die enigste wolmakelaar in Suid-Afrika wat die Responsible Wool Standard (RWS) se standaard vir wolskaapboerdery in Suid-Afrika ingestel het. RWS fokus op die welsyn van skape, met die klem op voeding, dieregesondheid, die infrastruktuur van plase en die hantering van skape. Op grond hiervan ken sekere wolverwerkers kontrakte aan RWS toe vir die naspeurbaarheid van hul wolprodukte in klerewinkels.

Piet is ook ’n interne ouditeur van BKB, wat interne oudits op produsente se plase doen om hulle vir ’n eksterne RWS-oudit voor te berei. Hy het ’n ruk gelede ’n interne oudit op Stefan se plaas gedoen. “Stefan is as ’n wolprodusent ’n geakkrediteerde lid van RWS en sy boerdery voldoen in hierdie stadium aan die voorgeskrewe standaard wat deur RWS voorbehou word.”

Vir meer inligting, kontak Stefan Naudé by 072 639 2185 of stuur ’n epos aan snaude@isat.co.za. Carin Venter, Veeplaas