Die feit dat landelike veiligheid en landboumisdaad groot emosionele en finansiële skade aan die landboubedryf aanrig, is nie nuwe nuus nie. Syfers van 2017/18 wat aan die parlement voorgelê is, dui aan dat sewe uit tien boerderye een of ander vorm van misdaad in die tydperk ervaar het, en dat landboumisdade die bedryf jaarliks ongeveer R7,7 miljard kos. 

Agri SA, sy streeksfiliale en ander organisasies weet al ’n geruime tyd dat ’n drastiese plan gemaak sal moet word. Verskeie moontlikhede is ondersoek en vandag is ’n ooreenkoms in Pretoria geteken wat ’n goeie begin is tot ’n baie ingewikkelde oplossing. 

Die ooreenkoms sluit in ’n grondverskuiwende vennootskap tussen Agri SA en Fidelity ADT, ’n filiaal van die Fidelity-dienstegroep, om plaasgeweld en landboumisdaad te verminder.  

“Landbou- en landelike misdaadstatistieke, wat plaasaanvalle, veediefstal ensovoorts insluit, is eenvoudig te hoog en dié syfers moet afgebring word,” het Dan Kriek, president van Agri SA, tydens die perskonferensie gesê. 

Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: Landelike Veiligheid, het van dié statistieke met die media gedeel. Hy sê ook dat die uitdaging van landelike veiligheid is dat die probleem te groot is vir ’n enkele organisasie, gemeenskap of selfs owerheidstrukture om te hanteer.  

Doelwitte van die vennootskap 

Die doelwitte van die vennootskap, om dit eenvoudig te stel, is om geïntegreerde, bekostigbare sekuriteitstegnologie aan landelike gemeenskappe beskikbaar te stel, beheerpogings te sentreer, kommunikasie tussen verskillende entiteite te verbeter, en aksies vir verbeterde landelike veiligheid van reaktief na proaktief om te swaai. Esterhuyse beklemtoon ook die belangrikheid daarvan om in lyn met die Suid-Afrikaanse polisiediens te werk. “Die vennootskap en planne is ook met die polisiekommissaris, Khehla Sitole, bespreek en word deur hom ondersteun.” 

Agri SA Rural Safety
Van links is Levy Malete, reaksiespan bestuur by Fidelity ADT; Wahl Bartmann, hoof uitvoerende beampte van die Fidelity-dienstegroep; Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: Landelike Veiligheid; Gary Mckay, kommersiële operasionele bestuurder; Kobus Visser, hoof van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: Landelike Veiligheid; en Isaac Sekhaolelo, reaksiespanbestuurder by Fidelity ADT.

Omri van Zyl, hoof uitvoerende beampte van Agri SA, sê dat Fidelity ADT een van die grootste sekuriteitsmaatskappye in Afrika is en dat die vennootskap heelwat positiewe aspekte sal oplewer. Luidens Agri SA se persverklaring bied die vennootskap die geleentheid aan Fidelity ADT om, danksy die aansienlike ondersteuningstruktuur van die Fidelity-dienstegroep, hul ervaring en sekuriteitskennis aan die landboubedryf beskikbaar te stel. Dit geskied deur die lewering van ’n meer geïntegreerde en robuuste veiligheids- en sekuriteitsdiens aan boeregemeenskappe.  

“Bekostigbare, maar tóg voordelige, veiligheidsoplossings via Agri SA is uiters noodsaaklik vir kwesbare boerdery- en landelike gemeenskappe,” sê Wahl Bartmann, hoof uitvoerende beampte van die Fidelity-dienstegroep, in die persverklaring.  

“Ons sal ’n gesentraliseerde inligtings-hub kan bied om misdaadondersoeke en arrestasies te voorspel en te fasiliteer. Ons sal ook nou saamwerk met verskeie plaaswagte, plaaslike veiligheidsmaatskappye en boereverenigings om hul vaardighede op te skerp en hul te bemagtig met waardevolle insigte rondom aspekte soos burgerlike arrestasies, aanmelding van verdagte gedrag, grondbesettings, nywerheidsonrus, veediefstal, opleiding in verskeie veiligheidsaspekte, ensovoorts. Hierdie is ’n uiters aktuele aangeleentheid wat boere in die gebied raak.” 

Die aksies wat uit die vennootskap sal voortspruit sal oplossings op distriks- of streeksvlak bied, en daar word reeds met verskeie streekslandbou-organisasies en boere-unies saamgewerk in die verband.  

“Fidelity ADT is reeds betrokke by buurtwagte en ons sal die betrokkenheid ook na plaaswagte wil uitbrei. Die verspreiding van inligting waar nodig vanuit en na gesamentlike distriks- of streeksbeheerkamers sal aandag ontvang. Daar sal ook gekyk word na die opleiding van persone op plase,” verduidelik Esterhuyse. “Daar is dorpe waar sukses behaal is met die opstel van sekuriteitskameras by die dorp se ingange en dit uit ’n sentrale beheerkamer gemonitor word. Dit is van die tipe aksies wat uit die vennootskap sal spruit.” 

Meer as net kommersiële voordeel 

Bartmann sê dat die vennootskap beslis vir Fidelity ADT kommersiële voordeel inhou, maar dat die maatskappy ook ’n verpligting teenoor Suid-Afrikaanse burgers het en wil saamwerk op die probleme rondom landelike veiligheid op te los.  

“Ons het ’n netwerk van kennis, tegnologie, navorsing en ontwikkeling waaruit ons kan put om ’n bystand te lewer. Dié bystand sal wees om geïntegreerde stelsels te bied met inbegrip van radiofrekwensie-kodering en CCTV, wat termiese, optiese (beide IP en analoog), LPR- en ANPR-kameras insluit, asook brandbeheeroplossings, toegangsbeheer, moniteringsdienste, beheerkamer-fasiliteite en wagdienste. Hierdie stelsels sal geïntegreer kan word om ’n volledige, pasgemaakte en bestuurde risiko-oplossing te verseker. Daar sal ook heelwat werk gedoen word om veiligheidsbrandpunte te identifiseer, statistiek te genereer, ’n databasis van nuttige inligting op te bou en meer. – Marike Brits, AgriOrbit