Estimated reading time: 3 minutes

Die 2021-Veritas-toekennings het wynkompetisie-inskrywings na nuwe hoogtes geneem deur die instel van volkome digitale wyn- en brandewyndeelname sonder enige papierwerk. Hierdie deurbraak volg op die bekendstelling van die Vino Veritas App deur CTP, ’n toepassing wat sedert einde verlede jaar fenomenale sukses behaal het deur verbruikers in staat te stel om die medaljewenners direk aanlyn te bestel. Finansiële bydrae van CTP Packaging het ook die aanlyn-ontwikkeling moontlik gemaak.

Die sluitingsdatum vir vanjaar se inskrywings is 17 Augustus, en 31 Augustus vir laat inskrywing teen ekstra koste. Vir die tweede agtereenvolgende jaar is daar geen toename in inskrywingsfooie nie om soveel wynkelders as moontlik in staat te stel om aan die Veritas-toekennings – Suid-Afrika se oudste wynskou en die mees prominente en geloofwaardige plaaslike kompetisie vir markgereed wyne en brandewyne – deel te neem.

Op dié wyse dra Veritas by om al die wynkelders, wynmakers en wingerdboukundiges in staat te stel om kragte te meet en baat te vind by Veritas se status as ’n wereldklas-kompetisie. Christo Pienaar, voorsitter van Veritas, sê: “Dit is oor die jare heen bewys dat die wen van Veritas-medaljes deurslaggewend is om handelsmerkbewustheid te kweek en vir suksesvolle bemarking en verhoogde verkope van Suid-Afrikaanse wyne aan verbruikers wêreldwyd, te verseker.”

Die innoverende ontwikkeling van ʼn spesiale webwerf vir deelnemers om vir die Veritas-toekennings in te skryf deur stap-vir-stap-prosedures te volg, sal die vinnige en maklike invul van elke wyn of brandewyn se besonderhede moontlik maak. Dít sal dieselfde inligting bevat wat in die verlede tydsaam in harde kopie verskaf moes word, soos vir die WSR2A- en WSRSA-sertifikate, bottelfoto’s en proenotas van elke inskrywing. Hierdie inligting sal ook outomaties op die Vino Veritas-toepassing gelaai word vir bekendstelling sodra die uitslae beskikbaar is.

Die Veritas-inskrywingsblad kan hier besoek word waar produsente hul wyne en brandewyne onmiddellik kan inskryf. Die inskrywings word daarna deur inspekteurs van SA Wynbedryf Inligting en Stelsels (Sawis) geverifieer en wettiglik na die Johann Graue-saal by Nederburg in die Paarl vir beoordeling deur 17 panele op 13 tot 17 September vervoer.

Met die Covid-19-maatreëls steeds in plek, sal daar soos verlede jaar drie beoordelaars per paneel wees.

Die streng puntestelsel is in ooreenkoms met die hoogste internasionale kompetisiestandaarde en medaljes word soos volg toegeken:

  • Dubbelgoud: 93 tot 100 punte.
  • Goud: 90 tot 92.
  • Silwer Uitstaande: 86 tot 89.
  • Silwer: 80 tot 85.
  • Brons: 75 tot 79.

Die Vertex Toekenning vir die algehele kampioenwyn van die kompetisie is in 2017 ingestel, waar ʼn paneel van top Suid-Afrikaanse beoordelaars die beste wyn van die skou uit al die wenners van Dubbelgoud aanwys, Museumklas uitgesluit. Hierdie toekenning is in die afgelope drie jaar deur vroue-wynmakers verdien, naamlik Elunda Basson, 2018, Pongrácz Blanc de Blanc N/V; Megan Parnell, 2019, Domaine des Dieux Chardonnay 2015; en Izele van Blerk, 2020, KWV The Mentors Orchestra Bordeaux Blend 2018.

Die Veritas-organiseerders is terdeë bewus van hul verantwoordelikheid vir die veiligheidsmaatreëls  wat steeds geld weens die Covid-19-pandemie, en sal weer seker maak dat alle reëlings in plek is vir ʼn veilige omgewing vir beoordeling. Deeglike protokolle is verlede jaar hiervoor ingestel.

Veritas se kernbesigheid is om die wynbedryf die geleentheid to bied om markgereed wyne – in teenstelling met ongebotteleerde wyne – voor te lê vir beoordeling en die uitslae as ʼn maatstaf van gehalte aan te wend.

Verbruikers is gefokus op die Veritas Toekennings vir die hoë beeld wat dit hou, want dié skou gee vir meer as 30 jaar lank al ʼn riglyn oor die gehalte van Suid-Afrikaanse wyne beskikbaar in die markplek. Boonop is dit die enigste kompetisie wat deur die bedryf, vír die bedryf gehou word.

Die voorlopige datum vir die toekenningsgeleentheid is 9 Oktober. Verdere inligting hieroor, asook oor publieke proeë, sal later bekendgemaak word. – Persverklaring, SA Nasionale Wynskouvereniging