Veritas-toekennings sluit ’n uitdagende wynjaar op ’n hoë noot af

855
Christo Pienaar, voorsitter van Veritas, en Izele van Blerk, KWV-wynmaker vir die Mentors-wynreeks, wat die Vertex-toekenning vir die algehele kampioenwyn gewen het.

Die Veritas-toekennings het op 14 November, onder streng COVID-19 protokolle, by Val de Vie-landgoed in die Paarl plaasgevind. Uit die bykans 1 300 inskrywings vanjaar, is die Vertex-toekenning vir die algehele kampioenwyn deur KWV The Mentors Orchestra 2018, ’n Bordeaux-styl versnit, verower.

Dié toekenning was die hoogtepunt van verrigtinge by die funksie en die handgemaakte glastrofee is aan KWV se senior wynmaker, Izelle van Blerk, oorhandig. Dit is die eerste keer dat ’n rooiwyn met die trofee wegstap.

Die Veritas Vertex-toekenning ontleen sy naam aan die Latynse term vertex, wat ‘hoogste punt’ beteken. Dit versinnebeeld die Veritas-toekennings se doelwit om die heel beste wyn uit al die medaljewenners te bekroon.

VinoVeritas-toep maak aanlynaankope maklik

Deel van die opwinding tydens die funksie was die aktivering van die nuwe, spesiaal ontwikkelde VinoVeritas deur CTP-toep, wat die gesogte wyne en brandewyne wat Veritas dubbelgoud en goud gewen het, dadelik vir maklike aanlynbestelling en aflewering beskikbaar gestel het. Dit is ’n eerste vir wynkompetisies in Suid-Afrika.

Die toep het sy ontstaan te danke aan samewerking tussen die organiseerders, die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), CTP Packaging, Getwine en Cognition FoneWorx. “Hierdie is ’n trotse oomblik in die 30 jaar lange geskiedenis van Veritas, dat ons ’n unieke toepassing waarby beide die Suid-Afrikaanse wynbedryf en die verbruiker sal baat, van stapel kan stuur” het SANWSV-voorsitter Christo Pienaar gesê.

Goue medaljes skitter in die wyn-afdeling

KWV, Spier en Nederburg het elk met drie dubbelgoud uitgeblink. KWV het egter meer goud ontvang en met altesaam tien goue medaljes gespog. Hul dubbelgoud was vir Laborie Brut Cap Classique NV, KWV The Mentors Orchestra (Wes-Kaap) 2018 en KWV Abraham Perold Tributum 2010.

Spier het drie dubbelgoud en sewe goud ontvang. Hul dubbelgoud was vir Spier 21 Gables Chenin Blanc 2019, Spier 21 Gables Chenin Blanc 2014 en Spier Creative Block 5 Merlot/Cabernet Sauvignon/Cabernet Franc/Malbec/Petit Verdot 2010.

Nederburg Kelders het met drie dubbelgoud en drie goud weggestap. Hul dubbelgoud was vir Nederburg The Anchorman Philippus Wolvaart Chenin Blanc 2018, Nederburg The Manor House Cabernet Sauvignon 2015 en Nederburg The Motorcycle Marvel Günter Brözel 2013.

Vyf wynmakerye het twee dubbelgoud en een goud elk ingepalm: Anthonij Rupert Wines, Babylonstoren, Badsberg Wynkelder, Darling Kelders en De Wetshof-wynlandgoed. Twee wynmakerye het twee dubbelgoud elk ontvang: Diemersdal-wynlandgoed en Windmeul Kelder.

In die klas vir gesertifiseerde erfenis-wingerdwyne, het die 2019 Koelenhof Stellenbosch 1679 Enkelwingerd Bosstok-wingerd Chenin Blanc, die eerste dubbelgoud-toekenning sedert die instelling van dié nuwe klas vir wingerde ouer as 35 jaar verlede jaar, losgeslaan.

Die beste presteerder in die klas vir tien wyne of minder was Flagstone Wynkelder, terwyl KWV die beste presteerder in die klas vir tien wyne of meer was.

Gefortifiseerde wyn-afdeling

Altesaam vier dubbelgoud en 15 goud is toegeken aan die top gefortifiseerde wyne. Nuy Wynkelder het twee dubbelgoud gewen vir Nuy Wit Muscadel 2015 en Nuy Wit Muskadel 2006, met Aan de Doorns wat dubbelgoud gewen het vir hul Muscadel Sweet Red Dessert Wine 2017 en Delaire Graff ’n dubbelgoud vir hul Cape Vintage Port Style Touriga Naçional/Tinta Barocca 2018.

Uitblinkers in die brandewyn-afdeling

Suid-Afrika se toonaangewende brandewynprodusente het sewe dubbelgoud en vier goud verower. Distell het uitgetroon met vyf dubbelgoud vir sy Richelieu International Premium Brandy, Viceroy 5 Years Potstill Brandy, Van Ryn’s 10 Years Single Potstill Brandy, Van Ryn’s 12 Years Single Potstill Brandy en Van Ryn’s 20 Years Single Potstill Brandy, sowel as vier goud.  

KWV het twee dubbelgoud vir sy KWV 10 Years Potstill Brandy en KWV 15 Years Alambic Blend Potstill Brandy ontvang.

’n Oorsig van die kompetisie

’n Ervare beoordelaarspaneel van 64 plaaslike spesialiste het die kandidate vir Veritas-roem gefynkam gedurende ’n marathon vyf-dag blinde proesessie. Die afgeskaalde panele het uit drie lede elk bestaan, om sodoende aan die streng COVID-19-protokolle wat tydens die beoordeling in plek was, te voldoen. Weens reisbeperkings het geen internasionale beoordelaars vanjaar deelgeneem nie.

Die sewe mees mededingende kategorieë volgens die aantal inskrywings ontvang was: Rooi versnitte (181), Sauvignon Blanc (149), Cabernet Sauvignon (123), Shiraz (113), Chenin Blanc (102), Chardonnay (102) en Pinotage (70). Altesaam 20 brandewyne is in drie kategorieë ingeskryf: Standaard, Potketel en Oesjaar.

In totaal is 1 092 medaljes toegeken – 70 dubbelgoud, 128 goud, 185 uitnemende silwer, 506 silwer en 203 brons.

Wynproe en verering van legendes

Weens die beperkings op samekomste sal geen landswye wynproeë vanjaar aangebied word nie en die tradisie om rolspelers as wynbedryflegendes te vereer, word ook tot volgende jaar uitgestel. – Persverklaring, Veritas-toekennings