Inskrywings vir vanjaar se Veritas-toekennings sluit binnekort. Produsente wat hul uitsoekwyne en -brandewyne met die gesogte Veritas-embleem van uitnemendheid wil bekroon, het tot 15 Augustus kans om in te skryf. Laat inskrywings sal tot 24 Augustus aanvaar word.

Die Veritas-toekennings is Suid-Afrika se voorste wynkompetisie en word sedert 1991 deur die Suid-Afrikaanse wynbedryf aangebied. Wynkenners en -liefhebbers sien elke jaar daarna uit om Suid-Afrika se heel beste wyne te ontdek, want die Veritas-toekenning word as ’n waarmerk van gehalte beskou.

Deelnemers het die verandering verlede jaar deur die raad van Veritas verwelkom dat slegs 50 kiste – 300 bottels – (6 x 750ml) van elke wenwyn voortaan na afloop van die kompetisie beskikbaar sal wees in plaas van die 200 kiste soos in die verlede.

Meer as 90 internasionale en plaaslike wynkenners sal van 17-21 September by die Nederburg-veilingkompleks in die Paarl vergader om al die inskrywings in diepte te beoordeel. Beoordelaars word sorgvuldig uit ’n breë spektrum kenners uit die bedryf gekies en sluit wynmakers, wingerdboukundiges, brandewynmeesters, Kaapse Wynmeesters, joernaliste, akademici, navorsers, en handelaars in.

Die wenwyne en -brandewyne sal op Saterdag 6 Oktober in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum bekendgemaak word. Wenners van dubbelgoue en goue medaljes het die geleentheid om hul wenwyne en brandewyne in Oktober en November landwyd by openbare proeë in Kaapstad, Johannesburg, Durban, Port Elizabeth en Knysna bekend te stel.

Inskrywingsvorms is aanlyn by www.veritas.co.za beskikbaar. Vir meer inligting kontak die Veritaskantoor by 021 863 1599 of epos info@veritas.co.za. Neem ook deel aan die gesprek op sosiale media met die hutsmerk #Veritas. – Persverklaring