onderdele

Estimated reading time: 4 minutes

“Ons hou nie agterruite aan nie, oom, ons moet dit bestel. Maar hoe het oom dit reggekry om die bakkie se agterruit te laat kraak?”

Nou ja, ’n boerbok, ’n uitgerafelde tou en ’n seer lies – dis wat alles by daai ongeluk betrokke was, maar dit kan ek nou nie vir Sara by die onderdeletoonbank vertel nie. Sy het met die meeste boere in die distrik te doen en is vinniger as die ou skakelbord as dit by skinder kom.

“Nig, dit is ’n lang storie en ek het nie heeldag tyd nie. Hoeveel gaan die ruit my kos?” Sy wys my die Kinsey-onderdele-lys. Dit blyk dat my Japannese bakkie se agterruit vyf keer meer kos as ’n bakkie wat in China of Pretoria aanmekaar gesit is!

“Kyk só daarna. Wanneer ons oom se bakkie inruil, sal dit vir ’n baie beter prys wees as die goedkoop Chinese bakkies.”

Sy is reg, maar dit voel steeds of ek ’n skop op die agterstewe gekry het. Wat my herinner … “Kon jy toe op toggle vir my ‘n sitplek vir my ou Massey kry?”

“Dis Google, oom. Ek het, en weet oom wat? Op een webwerf sê hulle dat sitplekke die heel belangrikste deel is, want dit stut die moere wat die stuurwiel vashou,” giggel sy.

“Nig,” sê ek toe, “die belangrikste deel in enige masjien is olie. Daarsonder is ’n enjin net ’n blok gesmelte metaal wat wag om te breek.”

“O ja, olie is baie belangrik, oom. Kan ek dan ’n vyfliterblik by oom se lysie voeg?” vra sy onskuldig.

“Solank jy dit nie weer daai sintetiese goed maak nie. Die laaste blikkie plastiekolie het jare se aanpaksels wat die trekker se pakkings verseël het, verwyder.”

“Maar ek het dan vir oom gesê die ‘plastiekolie’ is vir die nuwe bakkie, nie vir die ou Massey nie. Buitendien kom alle olie uit ru-olie. Die sintetiese materiale word êrens in ’n laboratorium gebrou en die ‘gewone olie’ word in ’n raffinadery gedistilleer – amper soos oom se mampoer. Die laboratoriumolie kos meer omdat dit langer hou. En die bymiddels maak die enjin skoon. Maar ek sal vyf liter ‘gewone olie’ bysit vir wanneer oom weer begin hooi baal. Het daai bakkie al genoeg kilometers afgelê om gediens te word?”

“Nog nie,” sê ek vir haar, “en hou op om nog goed aan my te verkoop. Ek is nie van geld gemaak nie.”

“Dis nie wat hulle by die boekklub sê nie … inteendeel, hulle sê oom is die rykste oujongkêrel in die distrik.”

“Ek is ook die enigste oujongkêrel in die distrik, wat beteken dat ek ook die armste is. Wat gaan ’n smeerdiens my kos?”

“Met ons lae arbeidskoste is net die Chinese goedkoper. Dis nou as oom ’n betroubare werkswinkel kan vind. Ons langdiensonderdele, soos die tydsketting en skokbrekers, is alles goeie gehalte, wat ons die duurste maak. Maar oom betaal vir onderdele wat die bakkie se lewensduur verleng.”

En wat sê dit daar oor ongeluk-beskadigde onderdele?” vra ek terwyl ek die syfers bekyk.

“Dit was nie haelduike nie,” probeer ek verduidelik. “Jy het my gebel net toe ek besig was om soutlek uit te sit en die jong bulle het die bakkie omsingel. Toe jy aanhou karring oor ’n spesiale diensaanbod, het hulle ongeduldig begin raak en die bakkie met hulle koppe gestamp. Dit het gevoel of ek in stormloop vasgekeer was!”

“Nou ja, ten minste het ons al die duike uitgekry. En met die nuwe agterruit sal die bakkie so goed soos nuut wees. Dit herinner my, ons het aan die einde van die maand nóg ’n spesiale diensaanbod, so bring die bakkie tog in. Soos oom mos altyd sê, voorkoming is baie goedkoper as genesing.”

“Meisiekind,” antwoord ek, “wat hulle jou ook al hier betaal, dis nie genoeg nie.”

“Dis waar, oom Schalk. As ek nou net ’n mooi, ryk, oujongkêrel kan vind om my van hierdie plek te red!” – Alwyn Viljoen