’n Saak wat toenemend aandag geniet in hofverrigtinge rondom verblyfreg op plase, is die regte en verpligtinge van onderskeidelik grondeienaars en plaasbewoners by die verskaffing en verbruik van water en elektrisiteit.

Die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997, oftewel die Esta-wet) omskryf sekere regte van plaasbewoners. Sekere fundamentele regte wat strook met die fundamentele regte van alle landsburgers, soos omskryf in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996, oftewel die Grondwet), is onderliggend tot alle regte.

Dit sluit onder meer die reg op menswaardigheid, vryheid en sekerheid van die persoon, privaatheid, geloofsvryheid, vryheid van oortuiging, mening, uitdrukking, assosiasie en beweging in.

Regte van plaasbewoners

Hiermee saam omskryf die Esta-wet in Artikel 6(2) sekere regte van plaasbewoners, wat spesifiek deel uitmaak van die beskerming van verblyf op plase, maar onderhewig is daaraan dat dit opgeweeg moet word teen die regte van die eienaar en/of persoon in beheer van grond.

Die verpligting rondom die verskaffing van water aan plaasbewoners is een van hierdie regte in die opsig dat plaasbewoners nie toegang tot water geweier mag word of van toegang tot water ontneem mag word nie.  

Water is egter nie ’n onbeperkte hulpbron op plase nie. Bogemelde kwalifikasie van die reg, naamlik die belang van die eienaar of persoon in beheer van die plaas, sal dit onder andere regverdig maak om billike maatreëls rondom die beperkte of verantwoordelike gebruik van water op plase in te stel.

Verskaffing van elektrisiteit

Die Esta-wet bepaal egter glad nie dat plaasbewoners ’n reg op die verskaffing van elektrisiteit op die grondeienaar kan afdwing nie, maar Artikel 6(1) van die Esta-wet bepaal dat plaasbewoners wel ’n reg het tot sekere dienste waaroor met die eienaar of persoon in beheer van grond ooreengekom is. Indien die eienaar ooreengekom het om aan plaasbewoners elektrisiteit te voorsien, sal hulle dus kragtens Artikel 6(1) daarop geregtig wees. 

Waar plaasbewoners self die elektrisiteit aankoop en dit met voorafbetaling geskied, skep die praktiese toepassing van die Esta-wet nie probleme nie, omdat die eienaar in sulke omstandighede alleenlik toegang tot elektrisiteit moontlik maak.

’n Groter probleem en moontlikheid van konflik ontstaan waar elektrisiteit as deel van ’n werknemer se vergoeding voorsien word en die werknemer, wat op die plaas woon, vrye toegang het tot elektrisiteit wat deur die eienaar/werkgewer verskaf en betaal word.

Ontslaande werknemers

Die oormatige of onredelike verbruik van elektrisiteit en diensbeëindiging op grond van ontslag vir wangedrag, waar die ontslaande werknemer weier om die plaas te verlaat, skep die meeste onsekerheid tussen grondeienaars of persone in beheer van grond en plaasbewoners.  

Die belangrikste vrae wat in hierdie omstandighede ontstaan, is wat die eienaar of persoon in beheer se verpligtinge is rondom die hoeveelheid krag waarop die plaasbewoner geregtig is en of daar ’n plig op die eienaar is om aan te hou om elektrisiteit te verskaf indien ’n ontslaande werknemer sou weier om die woning waaraan krag voorsien was, te ontruim.

Hoewel hierdie saak nog nie uitdruklik ten opsigte van verblyf op plase uitgeklaar is nie, dui regspraak daarop dat die verskaffing van elektrisiteit in die afwesigheid van vergoeding, opgeskort kan word. Hiermee saam, onderliggend tot die verskaffing van dienste soos omskryf in Artikel 6(1), is die vereiste dat daar ’n ooreenkoms moet wees. Dit behels dat ’n ooreenkoms om elektrisiteit te verskaf ook sekere bepalings en voorwaardes kan bevat rondom die wyse en duur van die elektrisiteitsverskaffing.

Gesamentlike ooreenkoms

Die eienaar of persoon in beheer van die plaas en die plaasbewoner, moet egter gesamentlik ooreenkom wat hierdie bepalings en voorwaardes behels. Dit beteken dat die ooreenkoms stipulasies moet bevat oor die hoeveelheid krag wat voorsien sal word. Die eienaar of persoon in beheer van die plaas sal nie verplig wees om enige krag te voorsien indien die inwonende plaasbewoner se diensooreenkoms wettig beëindig word nie.

Bogenoemde probleme kan vermy word deur ’n behoorlike en verkieslik skriftelike ooreenkoms oor die verskaffing van elektrisiteit op te stel. Die bepalings en voorwaardes behoort regsekerheid aan beide partye te bied en sal ook albei partye in staat te stel om duur en onnodige regskoste in hofsake te vermy. – HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.