Die eerste ses vraghouers wol is op Woensdag, 9 April, gepak nadat toestemming gegee is dat die eerste verskeping daarvan te midde van Covid-19, hervat kan word.

Met die Covid-19 grendeltydperk wat op 26 Maart in Suid-Afrika in werking getree het, is die land se veselbedryf in onsekere waters gedompel. Wol en bokhaar word uiteraard as ‘n nie-essensiële kommoditeit vir voedselvoorsiening beskou en sluit onder andere dienste in soos dié van skeerspanne, die vervoer van wol en bokhaar, toetsing by die SA Woltoetsburo en uitvoere na ander lande.

Positiewe uitkoms van samesprekings

Die Nasionale Wolkwekersvereniging, of NWKV, is ‘n belangrike rolspeler in die veselbedryf en voer al ‘n geruime tyd samesprekings met die Departement van Landbou. Gesprek oor kodes van beste praktyke is ook op 7 April gevoer met die NWKV, Cape Wools, Sybokhaar SA en makelaars wat almal betrokke was.

Die NWKV se hoofbestuurder, Leon de Beer, het Woensdagmiddag, 9 April, in ‘n verklaring aan sy lede gesê dat die rol en waarde van georganiseerde landbou in uitdagende tye soos hierdie, van onskatbare waarde is. Hy het gesê dat die NWKV ten nouste saam met Agri SA en ander rolspelers werk om brandpunte aan te spreek.

Hy het ook genoem dat die NWKV elke Dinsdag en Donderdag by Agri SA se kommoditeitsentrum betrokke is by wyse van Zoom-konferensies. Tydens hierdie konferensies word uitdagings in die wolbedryf gedurende die grendeltyd aangespreek en deur die hoogste moontlike gesag hanteer. “Dit sluit die direkteurs-generaal en betrokke ministers van relevante departemente in. Die NWKV neem ook op ‘n gereelde grondslag deel aan ‘n lynkonferensie van die Oos-Kaapse taakspan onder die vaandel van die provinsiale departement. Ons is trots om te kan sê dat goeie vordering in hierdie tyd gemaak is.”

Jongste verwikkelinge

Hy het die jongste verwikkelinge soos volg opgesom:

Wol word tans beskou as ‘n nie-essensiële landbouproduk, maar regulasies onder die Wet op Rampbestuur, 2002 (Wet 57 van 2002) is aangepas om wel oes- en stooraktiwiteite toe te laat, wat verliese van primêre landbouprodukte verhoed (Regulasie 6 (e) 31).

Die NWKV het na verskeie versoeke van lede uitsluitsel gekry dat skeer onder die regulasie beskerm word in gevalle waar verliese gely mag word, sou skeer nie dringend kon plaasvind nie. “Wees dus uiters verantwoordelik indien die besluit geneem word om in die grendeltyd onder die toegewing van die regulasie te skeer,” maan De Beer.

Vervoerpermitte en regulasies met betrekking tot die vervoer van werkers moet ten alle tye streng nagekom word, net soos regulasies en higiëne in die werksplek, wat uiteraard die skeerhuis en ander geriewe insluit.

Waardeketting is nié volledig oop nie

Die wolwaardeketting sluit nie net die skeerproses in nie, maar behels ook die betrokkenheid van makelaars, die woltoetsburo, wolkopers en wolveilings. Die bymekaarkom en beweging van mense met die uitvoering van hierdie dienste is juis die risiko wat verspreiding van die siekte moontlik maak. Die wolwaardeketting is dus nie volledig oop vir verhandeling nie en uitsluitsel sal eers gegee kan word sodra die president verdere maatreëls rondom die grendeltyd aankondig.

Daar word ook op hoë vlak onderhandel om wol as essensiële produk verklaar te kry, wat die totale waardeketting sal ontsluit.

Die jongste regulasies wat deur minister Fikile Mbalula uitgevaardig is, maak dit wel moontlik om wol weer uit te voer (as deel van die toegewing rakende die uitvoer van landbouskeepsvrag). Dit baan die weg vir wol in makelaarstore en in die hawe om uitgevoer te word. Dit sluit in bedinging om uitvoersertifikate na uitvoerbestemmings met koerierdienste te stuur, ten einde wolvragte by aankoms te kan ontsluit. Binne die wetlike raamwerk kan wol wat voor die grendeltyd verhandel is, nou uitgevoer word.

Moenie onverantwoordelik handel nie

Die vraag na wol word nie alleen deur die verwerkingsaanlegte in China gedryf nie, maar word ook deur mense wat wêreldwyd wolprodukte aankoop. Die wêreldekonomie is onder geweldige druk en dit sal sekerlik die wolmark beïnvloed. As natuurlike vesel sal wol egter steeds oor die langtermyn in aanvraag bly. De Beer se advies: “Moet dus nie onverantwoordelike besluite op grond van korttermyntendense neem nie – wol sal altyd ‘n plek in die mark verdien.”

Die feit dat daar steeds ‘n inkomste uit lams- en skaapvleis gedurende onnatuurlike omstandighede verdien kan word, benadruk die veelsydigheid van die wolskaap. En met die ruilvoet van die rand op sy agtervoete, kan daar ná alles steeds vir die wolbedryf ‘n spreekwoordelike silwer randjie wees.

Dit was op ‘n duidelik meer optimistiese noot dat De Beer die land se wolprodusente kon aanmoedig om enige aktiwiteite binne die toegelate regulasies aan te pak, maar met groot verantwoordelikheid en omsigtigheid. “Elkeen van ons het ‘n verantwoordelikheid en rol om te speel om die verspreiding van die virus te beperk. Die NWKV sal steeds alles in sy vermoë doen om die beste vir die produsent en die bedryf te beding, of die grendeltydperk nou verleng gaan word of nie.”

Gesondheidsrisiko onder die vergrootglas

Volgens Heinrich Victor, bestuurder van veselbemarking by OVK, dra skeerdienste indirek by tot voedselproduksie, hoewel daar ‘n groot gesondheidsrisiko daaraan verbonde is. “Dit kan byvoorbeeld groot reperkussies hê indien ‘n individu of ‘n hele skeerspan positief sou toets vir COVID-19. Die vraag sal wees op wie die onus moet rus, omdat die skeerspan en almal op die plaas dan in kwarantyn geplaas sal moet word. Die inperkingsmaatreëls sal dus geld totdat verdere uitsluitsel verkry word.

“Tot tyd en wyl hou ons die situasie dop. Baie makelaars gaan voort om belangrike dienste te lewer, soos OVK wat onder andere betrokke is deur voorskotte op vesel- en produksielenings aan produsente te verskaf. Dit is ‘n belangrike diens wat ons graag wil lewer, terwyl dit terselfdertyd direkte kontak uitsluit.”

Ter aansluiting sê Isak Staats, hoofbestuurder van wol en sybokhaar by BKB, dat die skeer van produsente se skape stadig maar seker weer op dreef sal kom. Die meeste van die skeerders is egter Lesotho-burgers wat nie in hierdie stadium hul land se grense kan oorsteek nie. “BKB sal dus vir nou slegs by die dringendste vloere kan skeer. Wol-ontvangste sal heel moontlik eers ná die grendeltydperk hervat kan word.”

Rig gerus enige navrae aan:

  • Leon de Beer, NWKV-hoofbestuurder by sel 082 890 6625 of epos leon@nwga.co.za.
  • Heinrich Victor, bestuurder van veselbemarking by OVK, sel 066 222 8002 of epos heinrichv@ovk.co.za.
  • Isak Staats, BKB se hoofbestuurder vir wol en sybokhaar by sel 082 495 0628 of epos isak.staats@bkb.co.za. – Carin Venter, Agriorbit