Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 1997 (Wet 75 van 1997) verskaf algemene riglyne vir die indiensneming van alle werknemers. Dit sluit verlof, werksure ens. in. Volgens dié wet kan die minister van arbeid sektorale vasstellings uitreik om die indiensnemingsvoorwaardes van ’n spesifieke sektor te bepaal.

Die minister het in 2006 ’n sektorale vasstelling vir plaaswerkers uitgereik (Sektorale Vasstelling 13), wat al verskeie kere gewysig is. Plaaswerkers sluit werkers in wat hoofsaaklik betrokke is by plaasaktiwiteite of daarmee verbind word, sowel as huishoudelike werkers wat in ’n plaashuis werk. Vier soorte verlof word in Sektorale Vasstelling 13 gestipuleer.

Jaarlikse verlof

’n Werknemer is geregtig op 21 agtereenvolgende dae jaarlikse verlof (openbare vakansiedae uitgesluit) met volle betaling in ’n jaarlikse verlofsiklus van twaalf maande – een dag jaarlikse verlof vir elke 17 dae wat gewerk is. ’n Werkgewer moet die jaarlikse verlof wat in dié verlofsiklus opgebou is nie later nie as ses maande ná die einde van die siklus aan die werknemer toestaan.

Verlof word volgens die diskresie van die werkgewer goedgekeur, afhangende van die operasionele vereistes van die onderneming. ’n Werkgewer mag ’n plaaswerker nie vir verlof betaal in plaas daarvan om dit toe te staan nie, tensy dit is om die verlofdae uit te betaal wat ’n plaaswerker aan die einde van sy kennistydperk opgebou het nadat hy bedank het.

Siekverlof

Betaalde siekverlof word in die eerste ses maande van indiensneming bereken as een dag betaalde siekverlof vir elke 26 dae wat gewerk is. ’n Werknemer is in ’n 36-maande verlofsiklus geregtig op 30 dae betaalde siekverlof (as die werknemer vyf dae per week werk) of 36 dae betaalde siekverlof (as die werknemer ses dae per week werk). Hierdie verlofsiklus begin op die eerste dag van indiensneming, ongeag van ’n proeftydperk; betaalde siekverlof wat in die eerste ses maande van indiensneming geneem is, kan hiervan afgetrek word.

Wanneer siekverlof verskuldig is, moet bepaal word of ’n mediese sertifikaat benodig word. ’n Mediese sertifikaat moet voorgelê word as ’n werknemer meer as een keer of vir meer as twee agtereenvolgende dae binne ’n tydperk van agt weke van die werk afwesig is.

’n Mediese sertifikaat is nie nodig as ’n werknemer slegs een keer vir twee of minder agtereenvolgende dae in ’n tydperk van agt weke van die werk afwesig is nie. Twee opsies is beskikbaar as betaalde siekverlof nie verskuldig is nie: Die verlof kan as onbetaalde verlof verwerk word, of as betaalde verlof wat van die werknemer se jaarlikse verlof afgetrek word.

Werkgewers moet kennis neem dat ’n nota van kliniekbywoning nie meebring dat ’n werknemer geregtig is op siekverlof-voordele nie. Siekverlof moet slegs toegestaan word wanneer ’n siekverlof-nota stipuleer dat die werknemer ongeskik was om te werk.

Gesinsverantwoordelikheidsverlof

Werknemers wat vir meer as vier maande in diens is en ten minste vier dae per week werk, is geregtig op drie dae se gesinsverantwoordelikheidsverlof gedurende elke twaalf maande van indiensneming.

Gesinsverantwoordelikheidsverlof word toegestaan wanneer ’n werknemer se kind gebore word of siek is, asook in die geval van die dood van ’n werknemer se eggenoot of lewensmaat, ouer, aangenome ouer, grootouer, kind, aangenome kind, kleinkind, broer of suster. ’n Werkgewer kan aandring op redelike bewyse (’n mediese- of doodsertifikaat) voordat ’n werknemer vir gesinsverantwoordelikheidsverlof betaal word.

Kraamverlof

’n Werknemer is geregtig op vier agtereenvolgende maande se onbetaalde kraamverlof, waarvoor sy by die Werkloosheidsversekeringsfonds vir voordele kan eis. Kraamverlof begin vier weke voor die verwagte geboortedatum en ’n werknemer word nie toegelaat om terug te keer werk toe vir ses weke ná die bevalling nie, tensy ’n mediese praktisyn of vroedvrou sertifiseer dat sy geskik is daarvoor.

In die geval van ’n doodgeboorte of ’n miskraam in die derde trimester van swangerskap is ’n werknemer geregtig op ses weke se kraamverlof daarna, ongeag van wanneer die kraamverlof begin het.  – Christo Bester

Die LWO Werkgewersogranisasie help werkgewers om aan arbeidswetgewing te voldoen en dit tot hulle voordeel te gebruik om hulle besighede te beskerm. As ‘n geregistreerde werkgewersorganisasie by die Departement van Arbeid, het die LWO die reg om lede by die KVBA te verteenwoordig. Kontak die LWO by 086 110 1828 of ansofie@lwo.co.za.