Die eerste navorsing wat in Suid-Afrika uitgevoer is om die impak van beweiding en brand op weiveld te kwantifiseer, het in 1921 by Cedara naby Pietermaritzburg plaasgevind en is in 1927 op Potchefstroom voortgesit. Eenstemmigheid bestaan dat aanhoudende beweiding en te veel diere oor ’n lang tyd in ’n kamp, die vernaamste oorsake van veldagteruitgang in Suid-Afrika is. Dit het daartoe gelei dat pogings om veldverbetering aan te moedig, op een of ander vorm van wisselbeweiding gebaseer was.

Die sogenaamde konvensionele stelsels met twee of drie kampe per trop (1938 tot 1950), tot die latere meerkampstelsels, met gewoonlik meer as vyf kampe per trop (1960 tot 1990), is geïmplementeer. Dié stelsels is ontwerp om aan die fisiologiese behoeftes van die weiplant te voldoen, met die klem op sistematiese rusperiodes.

By wisselbeweiding word die seisoen, frekwensie en intensiteit van beweiding (ontblaring) gemanipuleer deur die aantal kampe, tydperk van beweiding en tydperk van afwesigheid in ’n kamp.

Konvensionele stelsels

Die tradisionele driekampstelsel is die bekendste konvensionele benadering van veldbestuur. Hierdie stelsel behels ’n baie stadige rotasiebenadering, met weiperiodes wat wissel van twee tot drie maande, en vier tot ses maande.

’n Formule (2-3-3-2-2), gegrond op plantfisiologiese/fenologiese beginsels, word gebruik waar kamp A in Augustus en September bewei word, gevolg deur kamp B in Oktober, November en Desember, terwyl kamp C in Januarie, Februarie en Maart bewei word. Kamp A word dan weer in April en Mei bewei, met kamp B in Junie en Julie. Die volgende jaar word kamp C in Augustus en September bewei en die res herhaal homself. ’n Spesifieke kamp word eers weer oor drie jaar dieselfde tyd van die jaar bewei.

Oor die jare is verskeie ander weistelsels, wat op ’n sekere aantal kampe per trop berus het, ontwikkel. Die groepkampstelsel is in werklikheid nie ’n stelsel nie, maar slegs ’n wyse waardeur die meeste ander stelsels toegepas kan word. Dit is eintlik ’n kombinasie van ’n konvensionele en meerkampbenadering.

Weidingskapasiteit per groep

Die kampe op ’n plaas word in byvoorbeeld twee of drie groepe verdeel, met min of meer dieselfde weidingskapasiteit vir elke groep. Dit het sy ontstaan in die Karoo gehad, maar is ook in soetgrasvelddele toegepas. ’n Totaal van sowat 15 kampe is voldoende om in die behoeftes van doeltreffende veldbestuur vir een tot vyf troppe te voldoen.

Hoe minder die aantal troppe, hoe groter is die kans vir ’n kamp om te rus. In plaas daarvan dat sekere troppe vee sekere kampe op ’n plaas volgens geskeduleerde tye bewei, word ’n hele groep kampe vir al die diere op die plaas beskikbaar gestel. Die groepe se rotasie kan volgens dieselfde formule geskied soos by die tradisionele driekampstelsel beskryf. Die ander twee groepe rus dan vir daardie tydperk.

Die skeidslyn waar veld verkeerd bestuur is, is duidelik sigbaar. Bitterbos neem regs toe weens wanbestuur. Die foto is in die omgewing van Smithfield/Philippolis geneem.

Binne die groep kampe wat vir beweiding beskikbaar is, kan die boer sy vee manipuleer soos dit hom pas – gewoonlik word die beheerde selektiewe beweidingsbenadering dan toegepas. Elke groep kampe kry gevolglik oor ’n driejaarsiklus ’n rusperiode op verskillende tye van die jaar, presies soos by die driekampstelsel bespreek.

Sommige navorsers en boere voel steeds dat konvensionele stelsels wel meriete het, spesifiek in die Karoo en gebiede met ’n reënval van 150 tot 400mm per jaar, met veld bestaande uit ’n tipiese gras-/bossiemengsel. Hierdie stelsels kan ook ’n groot rol speel by opkomende en kommunale boerderypraktyke, waar infrastruktuur normaalweg beperkend is.

Meerkampbenadering

Die weidingstelsels wat vanaf die middel-sestigerjare die lig gesien het, het die intensiteit van benutting van die weiplante benadruk. Relatiewe kort weiperiodes van een tot drie weke is ’n vereiste om die benutting van hergroei te verhoed. Die kort weiperiodes in die groeiseisoen word beklemtoon om herontblaring te voorkom, terwyl dit in die dormante groeiseisoen van minder belang is omdat geen groei voorkom nie.

’n Minimum aantal kampe van ten minste ses per trop diere word dus benodig. Daar is twee hoofbenaderings ten opsigte van die graad van benutting en die uitwerking daarvan op die plantgemeenskap, naamlik beheerde selektiewe beweiding (BSB), wat veral van 1968 tot 1990 toegepas is, en nie-selektiewe beweiding (NSB), wat veral van 1966 tot 1980 toegepas is.

Beheerde selektiewe beweiding

Die eerste meerkampbenadering, naamlik beheerde selektiewe beweiding (BSB), word ook hoë produksiebenutting genoem, aangesien hierdie benadering beter diereproduksie per dier as nie-selektiewe beweiding lewer. Die gehalte van die plantmateriaal en die stadium van die seisoen wanneer veral die minder smaaklike plante benut word, het ’n belangrike invloed op diereproduksie per dier.

Die belangrikste beginsels van die BSB-benadering is dat die smaaklike grasspesies matig ontblaar moet word, terwyl die onsmaaklike spesies nie ontblaar word nie sodat laasgenoemde oorgroei/versmoor en uitsterf.

Die toepassing van BSB verg deskundigheid ten opsigte van plante en hul smaaklikheid. Dit is dus ’n uitdaging vir hulpbronbewaringsboere.

Nie-selektiewe beweiding

Die tweede benadering behels dat veld nie-selektief bewei word. Klem word gelê op weiperiodes wat so kort as moontlik is, met ’n hoë veedigtheid per hektaar en rusperiodes so lank as moontlik. Die lengte van rusperiodes kan slegs met die inskakeling van meer kampe langer gemaak word.

Acocks (1988) het breedvoerig verwys na die agteruitgang van natuurlike veld in Suid-Afrika. Hy het nie-selektiewe beweiding (NSB) – soos die wildtroppe van eeue gelede gewei het – as die benadering tot veldherstel gesien. Dit is dus ontwikkel om die weipatroon van groot migrerende wildtroppe in die Karoo, voor die koloniale era, na te boots, met veldherstel as hoofdoel.

Sommige landbouers het NSB as ’n produksiestelsel gesien, want NSB beteken meer benutting en dus moontlik verhoogde produksie. Gevolglik het die oorspronklike NSB-benadering in allerlei rigtings ontwikkel.

Hoëdrukkortbeweiding

Vanweë die hoë veedigtheid vir twee weke in ’n kamp, is die oorspronklike NSB-benadering gewysig na die hoëdrukkortbeweiding (HKB)-benadering. Die weiperiode is verkort (een tot drie dae), die weidruk verhoog en kampe meer gemaak om voldoende rus te verseker. Die mikpunt met hierdie benadering was om te verseker dat smaaklike weiplante slegs een keer in ’n beweidingsperiode ontblaar word.

Die aanvanklike NSB-benadering het nog ’n verdere belangrike toevoeging gekry, wat as die holistiese hulpbronbenuttingstelsel bekendstaan. Hiervolgens word die weiperiodes baie kort gemaak en word hoefaksie ook as ’n belangrike hulpmiddel in die verbetering van die grondtoestand en veld gesien. Die baie kort weiperiodes (een tot drie dae) gaan met ’n geweldige hoë veedigtheid gepaard – soveel as tot 400 grootvee-eenhede op 2ha vir ’n dag.

Hierdie holistiese hulpbronbestuursbenadering kan goeie resultate ten opsigte van veldverbetering teweegbring, mits lang rusperiodes ingeskakel word – minstens 150 dae, maar verkieslik langer – en ’n kamp een of twee keer per jaar in ’n normale seisoen bewei word. – Prof Hennie Snyman, dr Mias van der Westhuizen en Kotie van den Berg

Hierdie artikel vorm deel van ‘n reeks oor veldbestuur. Deel een van dié reeks kan hier gelees word.

Vir meer inligting, kontak prof Hennie Snyman by 078 458 5242 of hensny1@gmail.com, dr Mias van der Westhuizen by 082 335 9016 of mias@fs.agric.za, en Kotie van den Berg by 083 969 2727 of meelberg@telkomsa.net.