Baie besluite in die landbou word geneem sonder duidelike kennis van wat die spesifieke uitkoms gaan wees, wat dikwels tot ongewenste resultate lei. Produsente wat met gewasse boer, word byvoorbeeld dikwels gekonfronteer met besluite oor watter gewas om te plant, die hoeveelheid kunsmis wat hulle moet toedien en ander insette wat hulle moet gebruik. Dié besluite word geneem voordat hulle weet wat die uiteindelike oesopbrengste gaan wees en watter pryse hierdie gewasse gaan behaal. Net so moet beesboere wat besluit om hul boerderye uit te brei deur verse terug te hou, ’n paar jaar wag voordat hulle ’n inkomste uit dié uitbreiding sal verdien.

Read this in English.

Hierdie voorbeelde skets ’n duidelike prentjie van hoe risiko’s ’n onlosmaaklike deel van boerdery is en hoe ingewikkeld die bestuur daarvan is. Risiko’s spruit voort uit onverwagse uitkomste, dikwels met ernstige finansiële implikasies, en die bestuur daarvan gaan grootliks oor die vermindering van die moontlikheid van ongunstige uitkomste, of ten minste hoe om die uitwerking daarvan op die onderneming te versag.

Dit is belangrik om te verstaan dat goeie risikobestuur vir enige onderneming nie noodwendig die algehele uitskakeling van risiko’s beteken nie. Dit beteken eerder dat ’n mens die risiko’s op ’n vlak moet hou wat die onderneming gewillig en in staat is om te verdra.

Risikobestuurstrategieë

Daar is nie ‘n eenvoudige benadering wanneer risiko’s hanteer moet word nie. Dit is belangrik dat boerderye so buigbaar as moontlik moet wees, sodat risikobestuurstrategieë suksesvol kan wees. Verskeie strategieë, soos die diversifikasie van ’n onderneming, vertikale integrasie, produksie- en bemarkingskontrakte en versekeringsprodukte, is beskikbaar.

Aangesien boerderye nie almal dieselfde is nie, is daar nie ’n eenvormige oplossing vir hul blootstelling aan risiko’s nie. Die finansiële posisie, tipe en grootte van die onderneming, asook verskeie ander faktore, speel ’n groot rol in die bepaling van die onderneming se vermoë om risiko’s te hanteer.

’n Goed gevestigde boerdery met ’n groot bedrag aandelekapitaal, kan dit bekostig om nie te verseker nie, omdat dit groter verliese langer kan weerstaan voordat dit die totale impak voel. ’n Kleiner onderneming wat egter pas met produksie begin het, kan nie bekostig om die versekeringsopsie te ignoreer nie en moet vir die onvoorsiene voorsiening maak.

’n Hoë skuldlas

’n Boer se gebruik en keuse van skuld om sy bedrywighede te finansier hang van talle faktore af, insluitende die vlak van risiko-aversie, tipe en grootte van die onderneming, en die prestasie en posisionering van die onderneming in die mark. Oor die algemeen het ’n boerdery met ’n hoë skuldlas ’n groter finansiële risiko as ’n onderneming met ’n laer skuldlas. Ondernemings met ‘n hoë skuldlas waarvan die rente nie volledig gedelg kan word nie, sal uiteindelik hul ekwiteit verloor.

Sulke besighede sal meer blootgestel wees aan finansiële risiko’s, soos dié wat met hoë rentekoerse verband hou. In sulke gevalle is dit dikwels raadsaam vir ondernemings om nie verder te leen nie, maar om eerder te wag tot hul posisie verbeter.

Gesonde kontantvloei is ook baie belangrik vir risikobestuur. Boere met hoë lewenskoste sal moeiliker in staat wees om ’n jaar met ’n lae inkomste te weerstaan, en dit is belangrik dat boerderye hul likiditeit handhaaf deur om te sien na korttermynlaste.

Dit is belangrik dat die bestuurders van boerderye die verskillende soorte risiko’s, sowel as die impak daarvan, bestudeer. Hulle moet die versagtende strategieë wat vir elke tipe risiko beskikbaar is identifiseer en dit volgens die potensiële impak op die onderneming prioritiseer.

Ontleding en toepassing

Om risiko’s te ontleed, moet besigheidsbestuurders in staat wees om waarskynlikhede te formuleer en ’n wye verskeidenheid potensiële uitkomste vir verskillende besluite te ontwikkel. Boerderye verskil, en die interpretasie van beskikbare inligting sal dus van onderneming tot onderneming verskil. Wanneer al die waarskynlikhede en hul uitkomste geformuleer en teen mekaar opgeweeg is, kan ’n geskikte besluit geneem en in werking gestel word.

Risikobestuur begin met besluite wat op grondvlak geneem word, soos watter uitset om te produseer en watter insette om vir produksie te gebruik. Ondernemings moet hul risiko’s rangskik volgens hul impak (minimaal tot rampspoedig) en die waarskynlikheid (onwaarskynlik tot hoogs waarskynlik) dat sulke risiko’s sal voorkom.

Die evaluering van elke moontlike risiko volgens bogenoemde kriteria sal ’n produsent in staat stel om te onderskei tussen risiko’s wat onmiddellike aandag vereis en dié wat minder belangrik is. Daar is nie ‘n generiese risikobestuurstrategie wat vir almal sal werk nie, en dit is belangrik dat ondernemings hul eie risiko-aptyt moet oorweeg en hul strategieë vir die maksimum voordeel moet pasmaak. – MC Loock, Senior Bestuurder Landboubesigheid, Standard Bank

Vir meer inligting, skakel 011 721 9089, stuur ’n epos aan SBSA.agricultural@standardbank.co.za of besoek die webtuiste www.standardbank.co.za/business.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here