Indien ’n beesboer die verskillende produksiesiklusse van sy beeskudde as beleggingsmoontlikhede in verskillende bateklasse moes groepeer, sou ’n mens kon sê dat daar verskillende beleggingsmoontlikhede vir die onderskeie bateklasse bestaan, met verskillende opbrengsmoontlikhede.

Een so ’n bateklas in elke boer se portefeulje is vervangingsverse. Ongelukkig is dit juis dié belangrike bateklas wat soms nie na wense presteer nie, met negatiewe finansiële gevolge oor die lang termyn.

Definisie van ’n vervangingsvers

’n Vervangingsvers is ’n vroulike dier wat onder natuurlike toestande só ontwikkel, dat sy sowat 66% van haar volwasse gewig op die ouderdom van ongeveer 18 maande bereik, waarna sy suksesvol gedek kan word en op sowat 85% van haar volwasse gewig aan ’n lewende kalf geboorte sal gee.

Voorts moet sy ’n 90% kans hê op herbesetting en moet sy minstens 45% van haar eie liggaamsgewig speen. Die verwagting is dat sy elke jaar vir die volgende tien tot twaalf jaar ’n kalf met ’n tussenkalfperiode (TKP) van minder as 400 dae moet speen.

Dit is uit dié definisie van ’n vervangingsvers duidelik dat die verwagting baie hoog is, en ’n mens begin verstaan hoekom die opbrengs (kalfpersentasie, speengewig en herkonsepsiepersentasie) soms teleurstellend is.

Die rol van goeie bestuur

Die invloed van die fondsbestuurder ten opsigte van die spesifieke bateklas kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit sluit alle aspekte van kuddebestuur in, van toesig en gesondheidsbestuur tot voedingsbestuur en seleksie. Dit gebeur nog te gereeld dat verse iewers in ’n bergkamp geplaas word, en byna van vergeet word om hulle ‘hard’ te maak – voorwaar ’n resep vir ’n swak opbrengs.

Net so wanneer die vervangingsgroep te gou by die res van die koeiekudde geïnkorporeer word. Die riglyn is om vervangingsverse as sulks te bestuur totdat hulle vir die tweede keer deur ’n veearts as dragtig gesertifiseer is. Dit behels basies ’n driejaarprogram. Die vers se potensiaal as toekomstige kuddekoei word hier vasgelê.

Waar begin seleksie?

Seleksie begin reeds tydens die moeders se dekseisoen. Gee veral voorkeur aan verse wat vroeg in die dekseisoen gebore is. Hulle speen nie net gemiddeld swaarder nie, maar daar is ook ’n hoë korrelasie tussen koeie wat vroeg kalf en wanneer hulle dogters tydens die seisoen sal kalf. Ideaal gesproke behoort 60% van koeie binne die eerste drie weke van die kalfseisoen te kalf, en moet voorkeur aan dié verse gegee word.

Ná speen moet seleksiemaatstawwe soos speengewig, korrekte bouvorm, goeie vroulikheid en geslagsontwikkeling in ag geneem word. Dit kan as die eerste rondte van seleksie gesien word en daarom word aanbeveel dat produsente dan voorsiening maak vir die aantal verse wat geselekteer word, omdat van die verse by die tweede rondte kan uitval.

Die tweede rondte van seleksie is met speentyd, nadat die vervangingverse die eerste keer gekalf het (in ag genome dat hulle voor die dekseisoen deur ’n veearts rektaal ondersoek is om te verseker dat hulle voldoende geslagsontwikkeling toon). Hier word aspekte soos herkonsepsiepersentasie, speengewig en groeitempo in ag geneem – dit is alles aanduiders van aanpasbaarheid.

Die veearts se rol

Die veearts se rol en die daarstelling van ’n doelgerigte inentings- en ontwurmingsprogram kan nie genoeg benadruk word nie. Van die belangrikste inentings vir verse moet reeds voor speen toegedien word. Beskou vroegtydige inentings as ’n langtermynbelegging in jou verse en tree pro-aktief op.

Let veral op geslagsiektes. Dit geld spesifiek vir produsente wat soms vervangingsverse inkoop. Dring aan op veeartssertifisering, wat bevestig dat die diere negatief getoets het teen heersende geslagsiektes.

Moet ook nie vergeet van die jaarlikse skraaginentings voor die dekseisoen nie. Dit is die beste belegging in die opbou van siekteweerstand.

Bestuur van die groeikurwe

Baie studies is oor die groeitempo van vervangingsverse en die gevolglike reproduksieprestasie in die kudde gedoen. Hoe vroeër ’n vers vir die eerste keer kalf, hoe hoër sal haar produktiwiteit vir die res van haar lewe wees. Dit is egter hoogs gekorreleer met haar vlak van voeding, veral in die aanloop tot haar eerste dekseisoen.

Proefnemings op drie verskillende rasse het getoon dat verse wat gemiddeld 700g per dag gegroei het, teenoor verse wat gemiddeld 350g per dag gegroei het, se persentasie hittewaarneming op 14 maande bykans 25% hoër was. Weeg jou verse gereeld en volg ’n strategiese aanvullingsprogram om by die verlangde teikengewigte uit te kom. Neem in ag dat omgewings- en rasvariasies voorkom en dat enige voedingsprogram dienooreenkomstig aangepas moet word. Onthou ook dat verse hulle teikengewig voor die aanvang van die dekseisoen moet bereik. Weereens is die klem op proaktiewe bestuur. – Phillip Lee, bestuurder: Hinterland Diereproduksie

Vir meer inligting kontak die outeur per epos Phillip.lee@hinterland.co.za of besoek www.hinterland.co.za.