Maak jou hele nuwejaarsete vanjaar op die vuur met ons tradisionele snoekbraai-idees. Ons het snoek op die tradisionele manier met botter, suurlemoen en appelkooskonfyt gebraai en bedien, soos wat die meeste Suid-Afrikaners dit ken, saam met soetpatats. ’n Lekker kinkel in die verhaal is om ook ’n vars mielie- en tamatieslaai saam te bedien. Ons het die slaai bygesit vir iets ligters as die tradisionele mieliebrood wat ook gereeld saam ’n snoekbraai bedien word. Bedien ’n witwyn-spritzer daarby om die nuwe jaar mee af te skop.

Tradisionele snoekbraai

Bestanddele

4 eetlepels botter

2 suurlemoene, versap

2 eetlepels appelkooskonfyt

Sout, na smaak

Metode

  1. Maak ’n sous van die botter, suurlemoensap en appelkooskonfyt deur dit saam te smelt.
  2. Verf snoek met die sous voor jy dit rooster.
  3. Plaas die snoek in ’n toeknyprooster, maar moet dit nie heeltemal styf toeknyp nie (anders klou die vel vas). Braai die snoek oor lae hitte.
  4. Draai die snoek gereeld en verf met die sous. Sodra die vis stewig voel, is dit gaar.
  5. Plaas ’n skinkbord teen die velkant van die vis en draai dit om sodat die vis op die skinkbord bedien word.

Soetpatats

Bestanddele

3-4 groot patats

1 koppie room

1 koppie suiker

½ koppie botter

Metode

  1. Sny die patats rofweg op en kook dit in ’n pot met water oor die vuur tot byna gaar.
  2. Meng botter, room en suiker saam en kook oor die vuur tot dit ’n sous vorm.
  3. Voeg die patats by die sous en bedek met die sous.
  4. Sit die deksel op en kook tot patats sag is en sous bietjie weggekook het.

Mielieslaai

Bestanddele

1 blikkie heel mieliepitte

1 handvol vars basiliekruid

1 pak kersietamaties

1 klein houer feta

1 rooi uie

1 brandrissie

1 knoffelhuisie

Balsamiek-asyn, na smaak

Olyfolie, na smaak

Sout, na smaak

Metode

  1. Gooi die water van die blikkie mielies af en plaas mielies in ’n bak.
  2. Kap basiliekruid fyn en voeg by.
  3. Sny die tamaties in die helfte en gooi by
  4. Kap ui, brandrissie en knoffel fyn. Voeg by mielies.
  5. Krummel feta en gooi by.
  6. Meng balsamiek-asyn en olyfolie vir ’n slaaisous. – Ursula Human, Plaaskos

Plaaskos

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here