Vinpro
Johann de Wet van De Wetshof (links) oorhandig die Pon van Zyl-trofee aan die voorsitter van Vinpro, Anton Smuts. (Foto: De Wetshof)

Die Suid-Afrikaanse Jongwynskou het die gesogte Pon van Zyl-trofee aan Anton Smuts, voorsitter van die wynbedryfsorganisasie, Vinpro, toegeken, vir sy waardevolle bydrae tot die Robertson-wynvallei.

Anton het die toekenning vroeër vandeesweek, tydens die streek se toekenningsgeleentheid by De Wetshof-wynlandgoed, ontvang. “Daar is vele mense wat baie vir die vallei en sy produsente gedoen het, maar Anton het sy loopbaan aan die groei van die bedryf gewy,” het Johann de Wet van De Wetshof tydens die seremonie gesê.

’n Kampvegter vir wynproduksie in die Robertson-wynvallei

Behalwe dat hy ’n suksesvolle produsent in eie reg was, is Anton vereer vir sy groot passie vir die Robertson-streek en sy inwoners, die feit dat hy altyd vir beter pryse by die plaashek beding het, sy betrokkenheid by die bemarking van die streek, asook vir die hoë standaarde wat hy as ’n voorbeeld van diplomasie gestel het.

Anton is sedert 2004 Vinpro se direkteur vir die Robertson-streek en is in 2016 tot voorsitter verkies. Hy is ook die voorsitter van Bonnievale Kelder, dien op die direksies van Winetech en BBK, en was deel van die Robertson-wynvallei se bestuurspan. Hy is ook vereer as ’n uitmuntende wyndruifboer.

“Daar is nie baie leiers in ons bedryf wat so hoog geag word deur hul eweknieë soos Anton nie,” het Johann gesê. “Ons bedank hom en sy span by Vinpro vir die belangrike rol wat hulle as voorvegters vir die wynbedryf gespeel het in een van die uitdagendste jare in ons geskiedenis.”

Die Suid-Afrikaanse Jongwynskou

Die Suid-Afrikaanse Jongwynskou gee sedert 1833 aan wynmakers die geleentheid om die beste wyne van die huidige oesjaar ten toon te stel. Die agt wynstreke wat deelneem is Robertson, Worcester/Breedekloof, Stellenbosch, Paarl, Oranje-Vaal, Olifantsrivier, Swartland en die Klein-Karoo.

Die Pon van Zyl-trofee

Die Robertson-streek se Pon van Zyl-trofee word aan iemand toegeken wat volgens die komitee – wat uit al die vorige wenners bestaan – ’n positiewe bydrae tot die wynbedryf in die Robertson-wynvallei gelewer het. Pon van Zyl was die eerste wynmaker van Robertson Kelder en het Robertson van sy nederige begin help opbou na waar dit vandag is.

Die eerste Pon van Zyl-trofee is in 1987 aan Danie de Wet oorhandig. Sedertdien is talle gewaardeerde rolspelers in die wynbedryf met hierdie trofee bekroon vir hul uitstekende diens aan die Robertson-streek. – Persverklaring, Vinpro