Dr Langelihle (Langa) Simela.

Die wynbedryfliggaam Vinpro het dr Langelihle (Langa) Simela tot sy direksie aangewys om na ondernemingsontwikkeling en samewerking rondom landboubeleid om te sien.

“Ek is entoesiasties oor inklusiewe landboutransformasie,” sê sy. In haar rol as besigheidsontwikkelingsbestuurder vir Absa Agribesigheid (’n pos wat sy sedert 2015 beklee), fokus dr Simela tans op beleidsamewerking en die vestiging van inklusiewe finansiering vir die landbousektor. Sy beskik ook onder andere oor ʼn PhD in Dierkunde en MPhil in Ontwikkelingsfinansiering.

Omvattende ondervinding in die landbousektor

Sy het omvattende ondervinding in die landbousektor, is tans ondervoorsitter van die landbou-sakekamer Agbiz en dien ook op die rade van die Nasionale Opkomende Rooivleisprodusente-organisasie (NERPO) en die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (SAMIC).

“Ondernemingsontwikkeling is ʼn kernfokusarea vir die wynbedryf, tesame met ʼn meer bevorderlike beleidsomgewing. Ons is opgewonde om dr Simela en haar kundigheid op die Vinpro-direksie te hê en glo dat haar strategiese insigte groot waarde vir verskeie bedryfsinisiatiewe sal inhou,” sê Vinpro-voorsitter, Anton Smuts.

Vinpro verteenwoordig sowat 2 500 Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente, kelders en wynverwante besighede en voorsien strategiese dienste en inligting aan die bedryf. – Persverklaring, Vinpro