Vititec, die toonaangewende verskaffer van hoë gehalte wingerdplantmateriaal aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf, het sy handelsmerk vernuwe om sy erns as volhoubare wynbedryfvennoot te beklemtoon.

Read it in English.

Die nuwe handelsmerk is op 17 Januarie tydens die jaarlikse Nedbank Vinpro-inligtingsdag by die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum bekendgestel.

Vititec, wat voorheen as KWV Plantverbetering bekend was, het in 2018 sy tiende bestaansjaar gevier. “Vititec het in die afgelope dekade ontsettend uitgebrei van die blote voorsiening van wingerdplante na ’n meer holistiese benadering en gevorderde tegnologiese wingerdplantmateriaalprogram,” sê Nico Spreeth, hoof uitvoerende beampte van Vititec.

Vandag staan die maatskappy bekend as ’n globale voorloper in die invoer en ontwikkeling van nuwe wyndruifklone, die eliminering van skadelike virusse en virusverwante siektes, en die handhawing van die hoogste standaarde in wingerdplantmateriaal.

Vititec is ’n filiaal van die wynbedryfliggaam Vinpro en is in die Paarl gebaseer, met addisionele persele in Vredendal en Grondves buite Stellenbosch, asook ses kwekerypersele in Clanwilliam en Piketberg. Die maatskappy fokus op die bekamping van virusse in wingerdplante, asook die ontwikkeling, vermeerdering en voorsiening van wingerd- en wynkundig geselekteerde plantmateriaal aan die bedryf in die vorm van geënte wingerdstokke en wingerdplante wat geskik vir enting is.

Die maatskappy voorsien meer as 95% van die bostokplantmateriaal en nagenoeg 50% van die onderstokplantmateriaal aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

“Met die vernuwing van Vititec se handelsmerk bou ons voort op hierdie sterk grondslag. Dit onderstreep ons verbintenis tot die volhoubare groei van elkeen van ons kliënte en die Suid-Afrikaanse wynbedryf as ’n geheel,” sê Spreeth. – Persverklaring