Die eerste suksesvolle aspirasie (onttrekking) van ’n oösiet van ’n witrenoster onder verdowing is in Julie 2017 gedoen. Dit was een van die eerste doelwitte wat bereik is vir die suksesvolle produsering van renoster-nageslag met in vitro-bevrugting.

Dr Morné de la Rey van Embryo Plus verduidelik dat dié mylpaal deel is van ’n projek om suksesvolle reproduksie met in vitro-bevrugting by witrenosters te doen. Die hoofdoel daarvan is om die noordelike witrenoster van uitwissing te red. “Slegs drie noordelike witrenosters is wêreldwyd oor, so ons het ’n kans om dié spesie te red as ons slaag met in vitro-bevrugting vir renosters.”

Dr De la Rey verduidelik dat geassisteerde reproduktiewe tegnologie, waarvan in vitro-bevrugting ’n voorbeeld is, aansienlike vordering gemaak het om die manier te verander waarop suksesvolle operateurs in die bees-, skaap- en bokbedryf hul genetiese voorraad bewaar, mee handel dryf, dit verbeter en vermenigvuldig.

“Met die rigting wat die teel van bedreigde spesies inslaan, behoort dit te lei tot natuurlike vordering met die gebruik van geassisteerde tegnieke om die vermenigvuldiging en bewaring van die wildlewe in die toekoms te verbeter.”

Volgens dr De la Rey het geassisteerde reproduktiewe tegnologie verskeie vlakke, en kan dit in ’n mindere of meerdere mate gebruik word. “Die basiese vorm is die gebruik van ’n ram of bul se semen vir kunsmatige inseminasie. Dan is daar embrio-oordrag en in vitro-bevrugting om vroulike genetika te benut, asook kernoordrag, ook bekend as kloning.”

Bewaring van renosters

In vitro-bevrugting is ’n ingewikkelde tegniek wat hope potensiaal vir gebruik in wildbewaring inhou. Dr De la Rey verduidelik dat oösiete (eierselle) ingesamel word deur die gebruik van ’n naald wat in die vroulike dier se eierstokke gedruk word om die eierselle te onttrek.

Die oösiete word dan na ’n laboratorium geneem, waar ingesamelde semen gebruik word om dit te bevrug. Die gevolglike embrio’s word vir ses tot agt dae in ’n kultuurmedium in ’n broeikas geïnkubeer. Die embrio’s word ná die groeitydperk na die baarmoeder van ’n geskikte, vrugbare surrogaat oorgeplaas.

Hoe gaan hierdie proses gebruik word om die noordelike witrenoster te red? Dr De la Rey verduidelik dat, om in staat te wees om die noordelike witrenoster te red, embrio’s na die suidelike witrenoster oorgedra sal moet word.

Gevriesde semen

“Dit sal ’n gekombineerde poging van verskeie groepe regoor die wêreld vereis om in hierdie stadium lewensvatbare noordelike witrenoster-nageslag te produseer. Die bul Sudan, wat een van die laaste drie noordelike witrenosters is, is nie meer so vrugbaar op sy hoë ouderdom nie en gevriesde semen moet dus van semenbanke wêreldwyd gebruik word.

“Moontlike oösiete (eierselle) wat van die twee oorblywende vroulike diere geoes is, kan ’n manier wees om in vitro-bevrugte embrio’s te produseer. Die enigste oorblywende en werkbare opsie is dan om suidelike witrenosters as surrogate te gebruik.”

Hy voeg by dat daar nog heelwat suidelike witrenosters, waarvan baie aan privaat eienaars behoort, en gewillige boere in Suid-Afrika is om aan so ’n projek deel te neem. “Samewerking met Suid-Afrikaanse boere moet ook deel van die strategie wees en is heel moontlik.”

Nog voordele

Suksesvolle in vitro-bevrugting in renosters sal nie net die noordelike witrenoster help nie. “Ons sal ook in staat wees om wit- en swartrenosters te help om hul tussenkalfperiode te verkort. Dit sal veral voordelig wees waar diere baarmoeder- of eierstokprobleme het.”

Suksesvolle in vitro-bevrugting in ander spesies sal ook ’n algemene verbetering in die teel van bedreigde diere meebring. “Onthou dat beter bevolkte en verwante spesies as surrogate gebruik kan word. In een so ’n geval is ’n bongo-embrio deur ’n eland gedra, wat geboorte aan ’n gesonde bongo-kalf gegee het. Ons was ook al herhaaldelik suksesvol met die produksie van Wes-Zambiese swartwitpens-embriokalwers wat van suidelike swartwitpens-surrogate gebore is.”

Vorige suksesse

Pumelelo, die eerste Afrika-buffelkalf wat deur in vitro-bevrugting verwek is, is op 28 Junie 2016 op Frans Stapelberg se plaas Lekkerleef Buffalo Ranch naby Marble Hall in Limpopo gebore.

“Dit was die eerste keer nog wat dié spesie deur in vitro-bevrugting gereproduseer het. Hierdie deurbraak is van groot belang aangesien dit die eerste van sy soort in die wêreld is en groot belofte inhou vir die voortgesette oorlewing van bedreigde spesies,” sê dr De la Rey.

Die praktiese uitvoering is meer kompleks en stadiger by wild as by vee, maar sal ongetwyfeld uiters voordelig wees. “Onthou, elke een of twee ekstra diere wat geteel word gee aan die nageslag ’n kans om normaalweg te teel.” – Marike Brits, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel dr Morné de la Rey by 012 250 2359 of stuur ’n epos aan wild@embryoplus.com.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here