Die voerrantsoene vir vleis- en melkbeeste is heeltemal verskillend en daarom moet voermengers omsigtig gekies word. Die voerkraal fokus op maksimum gewigstoename per tydeenheid en voergewig, terwyl die melkprodusent op maksimum melkproduksie per kilogram voer fokus. Melkprodusente moet ook ‘n baie belangrike langtermynfokus op dieregesondheid en -welstand hê.

Vleisbeeste is ‘korttermynhuurders’ van drie tot vier maande in die voerkraal, terwyl melkbeeste ‘fabrieke’ is wat deel van die boerdery se bates uitmaak. Die regte voermenger vir die produsent se unieke omstandighede kan ‘n enorme verskil maak.

In vleisbeesrantsoene val die klem baie sterker op ’n hoë-energie-inhoud, met konsentraatkomponente wat die grootste deel van die rantsoen uitmaak, en waarby ruvoer gevoeg word om die voorkoms van suurpens te beheer. Die komponente van hierdie mengsel bestaan hoofsaaklik uit verwerkte konsentrate wat tot ’n eenvormige ruvoer, met die nodige vesel, gemeng moet word.

Vertikale voermengers

Die primêre vereiste is dus aggressiewe vermenging en die vermoë om die veselagtige gedeeltes tot aanvaarbare vlakke af te breek. Vertikale mengers is só ontwerp dat die groot mengoppervlakte op die vertikale awegaarstruktuur, dit in staat stel om die voer vinnig en aggressief te meng. Deur lemme (gewoonlik vyf tot nege) by die awegaar aan te sit, word die ruvoer gesny wanneer die lemme deur die weerstand van die mengsel getrek word.

Masjiene word soms toegerus met ’n toestel wat weerstand tot die roterende draaibeweging van die mengsel toevoeg om die lemme sodoende meer kans te gee om te sny. Soms word die ruvoer selfs vooraf verwerk, vóór dit by die finale rantsoen gevoeg word. Dit word egter meestal gedoen in gevalle waar die gekose menger nie die vermoë het om die ruvoer te hanteer nie, of waar die materiaalvloei se vereistes so hoog is dat die prosesse parallel moet geskied.

Die Seko Tiger-vertikale reeks is gemik op die vleisbeesvoerkraal, wat die veselkomponent by die totale mengsel moet voeg en verwerk. Dit bied ook al die nodige eienskappe vir ’n doeltreffende proses. Die reeks is beskikbaar van 7 tot 45m3, in trekkergedrewe, selfaangedrewe of stilstaande opsies.

Die Seko Tiger-vertikale reeks is gemik op die vleisbeesvoerkraal, wat die veselkomponent by die totale mengsel moet voeg en verwerk.

Die melkkoei het ’n baie meer gebalanseerde rantsoen nodig, met melkvolume en -gehalte, asook die gesondheid en welsyn van die dier wat die hoogste prioriteit geniet. Die groter persentasie van die rantsoen bestaan uit voer en veselagtige produkte, terwyl die byvoeging van konsentrate die aanvulling vir die vereiste eindproduk is.

Die primêre verwerking van hierdie rantsoen vereis dus dat die veselagtige materiaal gesny en gemeng word sonder oorverwerking, en die toevoeging van hitte wat aërobiese werking meebring asook die gehalte en veiligheid van die rantsoen beïnvloed.

Horisontale voermengers

’n Goed ontwerpte horisontale menger, met twee onderste awegaars en tientalle lemme wat verby ’n sentrale teen-lem beweeg, het die vermoë om honderde laespoed-knip-aksies (nie sny nie) per minuut uit te voer en sodoende die materiaal saggies tot die gewenste lengte van 5 tot 8cm te verwerk. Hierdie lengte is ongeveer die wydte van die bees se bek, sodat dit maklik by die bek ingaan en nodig is om te kou voordat dit ingesluk kan word. Hierdie kou-aksie stimuleer die grootpens, ondersteun doeltreffende voer-assimilasie en verminder die risiko van suurpens. Dit is ook ’n optimale lengte om selektiewe vreet te voorkom.

Die Seko Samurai 7-horisontale reeks verwerk die materiaal tot die gewenste lengte. Dit is beskikbaar van 5 tot 33m3, in trekkergedrewe, selfaangedrewe of stilstaande opsies.

Die laaste toevoeging tot die mengsel is die konsentrate, wat dan egalig ingemeng moet word. Die mengaksie moet van die middel na buite geskied sodat voervermenging in ’n sampioenvorm na buite geskied. Hierdie aksie verhoed dat ekstra hitte as gevolg van materiaalwrywing teen die buitewande opbou. Sodoende vind minder slytasie en kleiner energieverbruik plaas. Dit verdubbel ook die mengspoed in vergelyking met ontwerpe waar materiaal teenaan die mengerwande gemeng word.

Die Seko Samurai 7-horisontale reeks voldoen aan al hierdie vereistes en is beskikbaar van 5 tot 33m3, in trekkergedrewe, selfaangedrewe of stilstaande opsies. – Marius Ras

Vir meer inligting, skakel 011 396 6200 of
besoek Rovic Leers se webtuiste by www.rovicleers.co.za.