Die Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskap is een van dié hoogtepunte by ALFA wat van 17 tot 19 September in Parys plaasvind. Telers van regoor die land neem by talle bekende skoue deel, waar hulle dan ‘n kans staan om te kwalifiseer vir deelname aan die kampioenskap der kampioenskappe by ALFA.

Sinergie op verskeie platforms

“Veeprodusente is sentraal tot Hinterland se waardeproposisie en is ’n kardinale komponent van ons kliëntebasis. Die Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskap is die grootste kompetisie van sy soort en bied ’n ongelooflike netwerk van platforms tussen die onderskeie skakels in die veewaardeketting,” sê Phillip Lee, bestuurder by Hinterland Diereproduksie.

Hy meen dat die sinergie tussen produsente, die bedryf en akademie met so ’n vertoonvenster ontsluit moet word. “Dit is juis hier waar Hinterland die waarde vir die bedryf as geheel raakgesien het.”

Die Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskap is vir die eerste keer by ALFA 2017 aangebied en Hinterland was van meet af die naamborg en trotse vennoot van dié kompetisie.

Die kompetisie vind op ’n kwalifiserende basis plaas. Diere kan dus nie ingeskryf word nie, maar moet by die topskoue in die land kwalifiseer om aan die kampioenskap deel te neem. Die skoue waar diere kan kwalifiseer, sluit in Vryburg, Lichtenburg, Standerton, Bloemfontein, die Royal-skou, Ellisras, Thabazimbi, Tzaneen, Warmbad, George en Moorreesburg.

“Beide die manlike en vroulike interraswenners wat tydens dié skoue kwalifiseer, word uitgenooi na ALFA 2019 by die Afridome in Parys, waar die diere beoordeel word en die manlike en vroulike kampioendiere gekroon sal word,” verduidelik Phillip.

Waarde vir die veebedryf

Die kompetisie het groot waarde vir die veebedryf as geheel en natuurlik vir Hinterland as maatskappy. “Ons weet dat enige kommersiële vleisbeessektor net so sterk of swak is soos die betrokke stoetsektor. Ons glo dat die kompetisie goeie nuus is vir die stoetbedryf aangesien dit stoettelers op provinsiale vlak motiveer om te skou,” sê hy.

“Die plaaslike skou is in baie dorpe ’n hoogtepunt op die kalender. Ons hoop om deur die Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskap nuwe asem in streekskoue te blaas. Ons het juis vanjaar streekskoue wat vir die eerste keer vir die kompetisie gekwalifiseer het, en sien toenemende wedywering op streeksvlak om te kan kwalifiseer as skou.”

Topgehalte beeste

Vanjaar se kompetisie gaan beslis weer van hoogstaande gehalte wees, met verskeie topgehalte beeste wat reeds gekwalifiseer het. Omrede die kompetisie op ’n kwalifiserende basis werk, sal daar uit die aard van die saak nooit ’n swak bees wees nie.

“Elke jaar se diere kom met hulle eie vlakke van uitnemendheid, en dit gaan vanjaar beslis weer die geval wees. Die ring waar Suid-Afrika se beste van die bestes sake gaan uitspook in die 2019 Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskap, gaan beslis vir opwinding sorg,” sê Phillip.

Die beeste wat in die Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskap deelneem, sal op 19 September in die Hinterland-ring teen mekaar meeding by ALFA 2019. Kaartjies vir die ekspo sal by die hek beskikbaar wees teen R50 per persoon. – Michelle Verster, Veeplaas

Vir meer inligting oor die kampioenskap, skakel Phillip Lee by 082 971 8692 of stuur ’n epos aan Phillip.Lee@Hinterland.co.za.