Vleiswetenskaplike ontvang toekenning vir sy navorsing in Afrika

432

Vleiswetenskaplike dr Cletos Mapiye, van die Departement Veekundige Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), is een van drie Afrika-wetenskaplikes wat ’n 2020 Young African Researchers-toekenning ontvang het van die Arabiese Republiek van Egipte se Akademie vir Wetenskaplike Navorsing en Tegnologie.

Dr Mapiye het lof vir sy navorsingswerk in die kategorie landbou en voedselwetenskappe ontvang. Toekennings is ook gemaak in die kategorieë vir gesondheids- en farmaseutiese wetenskappe, en water-, energie- en omgewingswetenskappe.

Dr Mapiye is tans die waarnemende toesighouer van die South African Research Chairs Initiative (SARChI)-leerstoel in Vleiswetenskap: Genomika tot Nutriomika in die Departement Veekundige Wetenskappe. Hy is ook lid van die navorsingsprogram vir volhoubare landbou en voedselsekerheid aan die US, waar hy reeds sedert 2013 as akademikus werksaam is.

Hy bied vleiswetenskap vir voorgraadse studente en volhoubare diereproduksie vir nagraadse studente aan. Hy was die studieleier van sewe PhD- en nege MSc-gegradueerdes, en het al meer as 100 artikels aan internasionaal-beoordeelde, vakkundige tydskrifte help lewer.

Read it in English

Hy was ’n nadoktorale genoot by Agriculture & Agri-Food Canada (AAFC) aan die Lacombe Navorsings- en Ontwikkelingsentrum in Kanada, en het ook aan die Universiteit van Rwanda en die Bindura Universiteit van Wetenskapsonderrig in Zimbabwe klas gegee. Hy het sy loopbaan in 2003 as navorsingsbeampte by die Grasslands-navorsingstasie van die Departement Navorsing en Spesialisdienste in Zimbabwe begin.

Veeboerdery is in sy bloed

Dr Mapiye het in Zimbabwe, in die landelike gebied van Mhondoro, grootgeword. Van jongs af het hy eerstehands by sy pa, ’n kleinboer, geleer hoe om hoenders, bokke en beeste te versorg. Dit is as gevolg van hierdie agtergrond, vertel dr Mapiye, dat hy soveel genot daaruit put om met veral kleinboere saam te werk en om te sien hoe sy pogings hulle help om beter met vee te boer.

Dr Mapiye het ’n BSc (Landbou) in veekunde met lof en ’n MSc in veekunde (2004) aan die Universiteit van Zimbabwe voltooi. Dit was hier waar sy paaie die eerste keer met prof Kennedy Dzama – ’n uitgelese professor in veekundige wetenskappe aan die US – gekruis het. Hy het dr Mapiye se belangstelling in die veekunde-dissipline aangevuur. Prof Dzama was ook dr Mapiye se studieleier tydens sy PhD-studies. Hy het sy doktorsgraad in 2010 aan die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap behaal.

Navorsing tot volhoubaarheid van vleisproduksie en voedselsekerheid erken

Sy navorsing, ontwikkelingswerk en kapasiteitsuitbouing om die volhoubaarheid van voedsel- en landboustelsels, voedselsekerheid en armoedeverligting te bewerkstellig, is die eerste keer in 2017 deur ’n Young Scientist-toekenning in die landbou en voedselsekerheidsektor deur The World Academy of Sciences (TWAS) se streekkantoor vir Afrika suid van die Sahara, erken.

“In my navorsing probeer ek nuwe strategieë vind om die volhoubaarheid van vleisproduksie en -verbruik te verbeter,” verduidelik hy. “Die navorsing dek verskillende veeproduksiestelsels en wissel van kommersiële tot kleinskaalse en komplekse bestaanstelsels.”

Hy is veral geïnteresseerd in hoe veranderinge aan die diëte van vee die vetsuursamestelling van hul vleis verander, en uiteindelik selfs tot voordeel van diegene wat dit eet, kan wees. “Dit gaan daaroor om die prestasie van diere en die gehalte  van hul vleis te verbeter deur verskillende soorte voer te gebruik,” verduidelik hy.

Navorsing in alternatiewe dierevoeding

Hy bestuur tans ’n projek wat op die Welgevallen Proefplaas van die US se Fakulteit Agri-Wetenskappe uitgevoer word. Daardeur word die waterbehoeftes van Suid-Afrikaanse skaaprasse soos die Damara, Pedi, Namakwa en Swartkopskape bepaal. Die navorsing word moontlik gemaak met befondsing deur die Waternavorsingskommissie.

Dr Mapiye en sy studente eksperimenteer ook met hennepsaadkoeke om vas te stel of sulke byprodukte waarde as ’n alternatiewe voerbron en vleispreserveringsmiddel het. Hierdie projek is deel van ’n inisiatief van die SARChI in Vleiswetenskap, en word deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie gefinansier en deur die Nasionale Navorsingstigting geadministreer.

Hy was in onlangse jare ook betrokke by projekte wat die potensiaal van vrugte-byprodukte (soos druiwedoppe en sitruspulp) om as alternatiewe voerbronne vir skape en beeste gebruik te word en ook die rakleeftyd van vleis te verleng, ondersoek het.

“Die projek is in 2015 begin en is deur die droogtes wat ons toe ervaar het geïnspireer. Ek wou kyk of ’n mens boere in die Wes-Kaap veral kon help om alternatiewe voeropsies te identifiseer,” verduidelik hy.

Sy navorsingsgroep het onlangs ’n stelseldinamikamodel ontwikkel om die volhoubaarheid van produksiestelsels met klein insette vir herkouers, te evalueer. Die model word tans deur ontwikkelingsagente en beleidmakers in Suider-Afrika gebruik.

“My werk oor die gebruik van plantgebaseerde byprodukte wat ryk aan fitochemikalieë is, as aanvullings vir veevoer en natuurlike vleispreserveermiddels, word in Suid-Afrika toegepas. Sommige plaaslike boere, voerkrale en voermaatskappye het byvoorbeeld plantbyprodukte begin gebruik as goedkoper voeraanvullings en vleispreserveermiddels. ” – Persverklaring, Fakulteit Agriwetenskappe, Universiteit Stellenbosch