Groot dele van Australië gaan reeds vir etlike jare onder erge droogte gebuk. Die staat Nieu-Suid-Wallis is in die greep van die ergste droogte op rekord. Die staat Victoria veg teen bosbrande. In die staat Queensland het boere aan die begin van Februarie gejuig toe reën vir die eerste keer in vier jaar in die noordelike gebiede begin val het.

Vier dae later het hulle egter groot verwoesting in die gesig gestaar nadat sowat 20 miljoen hektaar weiding en ander gebiede in ’n binnelands see verander het. Gebiede in die noorde van Queensland het op 3 Februarie 2019 tussen 300mm en 500mm ontvang, met sommige gebiede wat volgens die Australiese Buro vir Meteorologie in sewe dae soveel as 1 800mm ontvang het.

Hoewel daar nog reën voorspel word en sommige vloedwaarskuwings nog in plek is, het die fokus nou geskuif na die red van oorlewende diere en die herstel van die gebied. Die Australiese Uitsaaikorporasie (ABC) berig dat honderdduisende beeste in die vloede dood is en dat baie verliese nog bevestig moet word. Huidige skattings is soveel as 500 000 beeste. Die grootste beesvleisprodusent in Australië, Australia Agricultural Company, het aan ABC gesê dat sy verlies sowat 30 000 beeste is.

Volgens 2017-statistieke van Meat and Livestock Australia, is Australië se beespopulasie sowat 25 miljoen beeste. Indien 500 000 beste dood is, verteenwoordig dit slegs 2% van die totale beespopulasie. Daar is baie vrae oor wat die impak van die verliese op markte gaan wees. Die aanduiding is egter dat ’n verlies van 2% in beesgetalle nie ’n wesenlike impak sal hê nie. Die impak is wel baie groot vir individuele produsente, aangesien baie produsente hulle totale kuddes asook teelmateriaal verloor het.

ABC berig verder dat noodleniging dadelik in werking getree het. Die eerste minister, Scott Morison, het aangekondig dat totale sogenaamde hersteltoelae vir primêre produsente opgeskuif is na 100 miljoen Australiese dollar en dat ’n verdere 3 miljoen Australiese dollar vir geestesgesondheid-hulp opsygesit is.

Individuele toelae is van 25 000 na 75 000 Australiese dollar opgeskuif. Aksies het dadelik begin om noodvoer en hulp met die red van vasgekeerde beeste by produsente in die vloedgeteisterde gebiede uit te kry. – Marike Brits, AgriOrbit

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here