Volgens voorspellings gaan die wêreldbevolking teen die jaar 2050 die nege miljard-merk verbysteek. Die presiese getal verskil in literatuur, maar dit wissel van 9,1 tot 9,6 miljard mense (Reinhardt, 2015). Hiermee saam word voorspel dat verstedeliking gaan toeneem van die huidige 49% tot 70% in 2050. ’n Bykomende 200 miljoen ton vleisprodukte moet geproduseer word om aan die bevolkingsgroei te voldoen en teen 2050 altesaam 470 miljoen ton te lewer.

Dit is duidelik dat ’n verhoging in produksie alleen nie voldoende gaan wees om in hierdie behoefte te voorsien nie. Die uitsette vanaf plase sal met tot soveel as 70% moet styg. Daarom sal die landboubedryf tegnologie en innovasie teen ’n verhoogde tempo moet inkorporeer om doeltreffende produksie te verseker.

Die uitdaging word verder vergroot deurdat verbruikers se siening oor veeproduksie nie altyd gunstig is nie. Sienings dat veeproduksie 70% van alle grane benut en herkouers se bydrae tot die produksie van aardgasse en aardverwarming een van die grootste is, noodsaak die landbousektor om tegnologie in te span om dié aspekte om te draai. Dit raak al hoe belangriker om voedsel op ’n verantwoordelike manier te produseer.

Die vraag is hoe die landboubedryf dit gaan regkry om wel in hierdie behoefte te voorsien. Outomatisering met die oog op doeltreffendheid is een van die vernaamste oplossings.

Innoverende tegnologie

Die winsmarges in landbouproduksie is egter oor die algemeen te klein om innovasie vanuit die landboubedryf te dryf. Dus word baie tegnologie van ander bedrywe geleen. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die gebruik van hommeltuie om grond- en veldopnames te doen, kunsmistoediening te verfyn, vee te bestuur en die uitwerking van besproeiing te meet.

Die inspan van tegnologie moet egter ekonomies sinvol wees, gegewe die beskikbaarheid en koste van arbeid en die verwerking van die magdom data wat potensieel deur dié tegnologie gegenereer kan word. ‘Slim tegnologie’ is dus die wagwoord om die magdom data in bruikbare inligting te verwerk, sodat die boer ingeligte besluite kan neem om produksiedoeltreffendheid drasties te verbeter.

Die landboubedryf is dit eens dat die benutting van tegnologie in die agronomiese sektor baie vinniger is as in die veebedryf. Dit beteken egter nie dat die veevoerbedryf nié oor die regte tegnologie beskik vir verhoogde doeltreffendheid nie. Heelwat tegnologie wat op groener produksie en verbeterde doeltreffendheid fokus, is die afgelope dekade ontwikkel.

Opwindende nuwe navorsing

Hier dink ek byvoorbeeld aan die navorsing wat gedoen word oor fitovoedingstowwe, wat algemeen bekend is as natuurlike voerbymiddels om veeproduksie te verbeter. Die gebruik van natuurlike plantolies en plantekstrakte is voorbeelde hiervan. Dit ondersteun die dier se metabolisme en/of doeltreffendheid van vertering. Natuurlike plantekstrakte maak dit ook moontlik om in omgewings met hoë temperature, steeds hoë melk- of vleisuitsette te bewerkstellig.

Die benutting van lewendige giste of giskulture as probiotika, is ’n verdere uitstekende voorbeeld van voertegnologie om herkouers se benutting van grondstowwe te verbeter. Navorsing oor die doeltreffende benutting van voerbyprodukte geniet indringende aandag en het dit moontlik gemaak dat herkouers nie meer meeding om grondstowwe wat vir menslike voeding benut kon word nie.

Tabel 1 illustreer verskeie oplossings met drie fokuspunte.

Tabel 1: ’n Padkaart van voertegnologie.
Fokuspunt Reeds beskikbaar Markgereedheid Toekoms
Produseer anders met nuwe tegnieke. Hidroponika Oorlog teen droogte Alge as grondstowwe Fitovoedingstowwe Woestynlandbouverbouing Seewaterplase
Verbeterde doeltreffendheid – tegnologie om produksie na die verbruiker te bring. Vertikale/stedelike plase Grondstofbenutting Byprodukte vir voer Produksiedoelwitte Genetiese verbetering Kunsmatige vleis
Inkorporeer tegnologie vanuit ander bedrywe. Hommeltuig-tegnologie Presisieboerdery Internet Data-analise Nanotegnologie Kunsmatige intelligensie Skareboerdery (‘crowd farming’)

Bron: Aangepas uit Agriculture 4.0 – The future of farming technology, www.oliverwyman.com/our-expertise/2018.

Ter afsluiting: Goeie nuus

Die uitdagings rondom voedselproduksie vir ’n groeiende wêreldbevolking teen 2050, is groot. Dit noodsaak die landboubedryf om indringend te kyk na produksie-uitsette en die benutting van alternatiewe tegnologieë om produksiedoeltreffendheid drasties te verbeter. Die goeie nuus is dat verskeie van dié tegnologieë reeds aangewend word of ontwikkel word. Dit bied opwindende oplossings aan die boer van die toekoms. – dr Francois van de Vyver, nasionale tegniese bestuurder herkouers, Nutri Feeds

Vir meer inligting, skakel dr Francois van de Vyver by 018 011 8888 of stuur ’n epos aan Fvandevyver@countrybird.co.za.