Veevoer speel ’n leidende rol in die wêreldwye waardeketting vir menslike voedsel en is die grootste en belangrikste komponent wat veilige, volop en bekostigbare dierlike proteïene vir menslike verbruik verseker.

Die gemiddelde voerprys sluit baie konsentrate in wat nog op plaasvlak met grane en ruvoer gemeng moet word.

Voer beslaan ’n groot deel van die veebedryf se insette, hetsy voerkrale of veeboerderye, en soveel te meer in droogtejare. As een van die hoof- en waarskynlik duurste komponente in veevoer, het die onderliggende waarde van grane en oliesade ’n direkte impak op insetkoste.

Mieliemarkvooruitsigte

Volgens Luan van der Walt, ’n ekonoom by Graan Suid-Afrika, verhandel die internasionale mieliemark steeds teen baie lae vlakke as gevolg van die groot mielievoorraad wat wêreldwyd beskikbaar is.

Die impak van die COVID-19-pandemie is duidelik in die internasionale mark gesien, veral in Amerika waar etanolverbruik en -produksie skerp gedaal het. Dit het veroorsaak dat die Amerikaanse verbruik van mielies ook skerp gedaal het, wat tot die groter as verwagte Amerikaanse eindvoorraad gelei het.

Die nuwe seisoenaanplantings in Amerika lyk egter goed. Die huidige markverwagting is dat die land ’n nuwe rekordproduksie van ongeveer 406 miljoen ton behoort te haal vir die 2020/21-seisoen. Die vorige rekordproduksie was ongeveer 385 miljoen ton. Dié hoë produksie hou internasionale pryse onder druk.

In terme van die internasionale mark is daar egter steeds goeie koopkrag van lande soos Suid-Korea, Japan en Taiwan. Dit is ook lande waarheen Suid-Afrika uitvoer. Verwagtinge in die wêreldmark is dat die pryse ’n meer sywaartse tendens behoort te volg.

Die plaaslike mieliemark

Luan meen dat die wisselkoers en internasionale prys tans die grootste aspekte is wat die plaaslike markprys beïnvloed. In die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se vierde produksieskatting vir die seisoen, word die plaaslike 2020 mielie-oes op 15,6 miljoen ton geskat. Dit is die tweede grootste mielie-oes op rekord.

Die plaaslike mark behoort dus die uitvoerpariteitspryse na te volg en dit is waarom die internasionale markprys en wisselkoers hierdie seisoen die grootste bepalers van plaaslike pryse behoort te wees. Op die oomblik is Suid-Afrika redelik kompeterend in die internasionale mark en uitvoere vind tans teen ’n goeie tempo plaas. Dié tempo behoort in die afsienbare toekoms voort te duur.

Volgens Jerry Maritz, besturende direkteur van graanbestuur by AFGRI, word daar verwag dat Suid-Afrika tussen 1,3 en 1,5 miljoen ton mielies gaan uitvoer. “Met die hoër produksie en eindvoorraadvlakke, en weens die feit dat aanbod die vraag na mielies oorskry, kan plaaslike mieliepryse die komende seisoen moontlik afwaarts verhandel. Vanuit ’n graanbalansstaat-oogpunt is daar geen rede vir Suid-Afrikaanse en wêreldpryse om te styg nie,” meen Jerry.

Daar is wel twee faktore wat pryse oor tyd kan ondersteun. Omrede Suid-Afrikaanse pryse tans teen uitvoerpariteit verhandel, speel die wisselvalligheid van die rand/dollar-wisselkoers ’n groot rol in prysbewegings. Die wisselvalligheid in die rand gaan oorspoel na Suid-Afrikaanse mieliepryse en kan pryse ondersteun of verder onder druk plaas, afhangend of die rand verswak of versterk.

Daar is ook ’n groot vraagteken rondom Suid-Afrikaanse uitvoere in die komende seisoen. Alhoewel produksie in ander Afrika-lande beter is as die vorige seisoen, gaan die vraag na mielies uit Suid-Afrika steeds daar wees. Enige addisionele uitvoervraag sal Suid-Afrikaanse pryse ondersteun en bydra tot pryse wat wegbeweeg van uitvoerpariteit.

Sojaboonmarkvooruitsigte

Volgens Luan se skattings is daar in die internasionale sojaboonmark meer optimisme vir prysondersteuning, met China wat ’n groot aankoper van sojabone is. Die COVID-19-pandemie het wel ’n negatiewe impak op die internasionale sojaboonmark gehad, maar die impak was kleiner as op die mieliemark.

China se verbruik van sojabone is besig om te herstel en die land het tot dusver die meeste van die Suid-Amerikaanse sojabone aangekoop, wat daartoe gelei het dat Suid-Amerika se sojaboonvoorraad drasties gedaal het. Dit sal China noop om deur die loop van die seisoen by Amerika sojabone aan te koop, wat ondersteunend tot die internasionale mark kan wees.

Die verwagte Amerikaanse produksie vir die seisoen is hoër as verlede seisoen, maar laer as die vorige drie jaar se gemiddelde produksie. Aangesien die handelsoorlog tussen Amerika en China die afgelope drie jaar Amerikaanse sojaboonuitvoere negatief beïnvloed het, het dié land sy voorraad opgebou en het pryse onder druk gekom. Die verwagting vir die internasionale sojaboonmark is dat pryse deur die loop van die seisoen ’n sywaartse tot opwaartse tendens behoort te volg.

“In die plaaslike mark word die sojaboonproduksie in die NOK se vierde produksieskatting vir 2020 op 1,29 miljoen ton geskat. Die seisoen se sojaboonoes het nie so goed gelyk nie en die plaaslike voorraad is redelik laag.

“Die plaaslike verwerking van sojabone het gedurende die vorige seisoen ’n nuwe rekord bereik, wat plaaslike voorrade onder druk geplaas het. Dit lyk tans of plaaslike sojaboonvoorrade vir die seisoen laag behoort te wees, met die huidige tempo van verwerking wat die plaaslike sojaboonmark deur die loop van die seisoen redelik sterk kan hou,” meen Luan.

Impak op die veeboer

Volgens onlangse navorsing deur dr WA Lombard van die Universiteit van die Vrystaat oor die verhouding tussen graanpryse en pryse van voer vanaf 2005 tot 2018, het graan- en voerpryse in dié tydperk oor die algemeen saam beweeg. Daar was egter jare waar die prys van voer stelselmatig aanhou styg het, selfs toe graanpryse gedaal het.

“Analises om te bepaal of daar ’n betekenisvolle langtermynverhouding tussen voerpryse se indekse en die prysindekse van insetkoste is, was onsuksesvol,” meen dr Lombard.

Daar mag verskeie redes wees waarom voerpryse nie tot so ’n mate wissel soos wat die graanprys verander nie. Eerstens kan dit wees dat veevoermaatskappye lank voor die tyd hul graan se aankooppryse vasmaak en dus laer pryswisseling en risiko’s beleef as wat in die graanprysindekse weerspieël word.

Verbruikers sal ook nie tevrede wees indien die prys van die voer wat hulle aankoop, gereeld verander nie. Dit kan daartoe lei dat voermaatskappye hul opsies deeglik oorweeg voordat hulle hul pryse verander. Alhoewel hulle nie die pryse laat daal het toe graanpryse gedaal het nie, kan daar afgelei word dat hulle iewers marges gesny het ten tyde van die hoër graanpryse, en hulle te midde van laer graanpryse die geleentheid gebruik het om marges te probeer herstel.

Daarbenewens is graan nie al produksiekoste wat voermaatskappye het nie en anders as wisselende graanpryse, is koste soos arbeid en elektrisiteit konstant aan die styg. Die koste styg gewoonlik elke jaar en die vervaardigers van voer het min beheer daaroor.

Die gemiddelde voerprys sluit ook baie konsentrate in wat nog op plaasvlak met grane en ruvoer gemeng moet word. Die graankomponent van hierdie konsentrate is dikwels laag en kan dus nie direk verband hou met die graanpryse nie.

Verwagtinge vir die seisoen

Alhoewel klaarvervaardigde voer- en graanpryse mekaar dalk nie altyd direk volg nie, is daar steeds ’n duidelike verwantskap tussen graanpryse en die insetkoste van veeprodusente of voerkrale, aangesien baie produsente graan en oliesade direk aankoop en as voerbronne benut.

Uit Luan en Jerry se voorspellings, wil dit voorkom asof mieliepryse vir die res van die seisoen redelik sywaarts kan beweeg, terwyl ’n effense styging in die sojaboon- en dus oliekoekpryse verwag kan word.

Dit beteken dat die koste van voer vir die res van die seisoen redelik konstant sal bly en die effek daarvan op ander pryse, soos die speenkalfprys, beperk sal wees. Tans behoort daar dus nie groot verrassings plaas te vind nie, behalwe as die rand drastiese bewegings toon of as die internasionale aanbod of vraag drasties verander. – Elmarie Helberg, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Luan van der Walt by luan@grainsa.co.za, Jerry Maritz by jerry.maritz@afgri.co.za, en dr WA Lombard by lombardwa@ufs.ac.za.