#youngauctioneers
Agter van links is Albert Loubser van Plaas Media, Henri Beyleveldt, Freddie Breytenbach, Manie Kriel van Waterberg Toyota Modimolle en Shaun Kruger. Voor is Niel Swart en Steven Mathews.

Die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie het van ’n klein begin met slegs een rondte in 2013 gegroei tot ’n jaarlikse kompetisie waar streeksrondtes in byna elke provinsie gehou word. Die deelnemers by die streeksrondtes spook dan sake uit om te kwalifiseer vir die nasionale rondte, wat jaarliks by die ALFA-ekspo in Parys gehou word. Die kompetisie word in 2019 vir die sesde keer in samewerking met die veetydskrifte, Veeplaas en Stockfarm, aangebied.

Een van die streeksrondtes het vanjaar deel gevorm van die heel eerste Castle de Wildt Landbou-, Wild- en Jag-ekspo, wat van 28 Februarie tot 2 Maart 2019 by Castle de Wildt in Modimolle gehou is. Dit was inderdaad ’n landboufees en die afslaersaksie het verder tot die opwinding bygedra.

Drie deelnemers, Freddie Breytenbach, Henri Beyleveldt en Shaun Kruger, het sake op die rostrum uitgespook. Hulle is beoordeel deur Steven Mathews, die 2016-kampioen in die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie, en ’n bekende afslaer, Niel Swart.

Sien elk van die deelnemers, en een van die beoordelaars in aksie:

Belangrike vaardighede

In sy kommentaar na afloop van die streeksrondte, herinner Mathews dat die primêre werk van ’n afslaer is om die veiling te ‘dirigeer’. “Jy kan dit nie doen as jy nie duidelik kommunikeer nie. Die kopers moet duidelikheid hê oor wat jy van hulle verwag, jy moet die waarde van die lotte duidelik oordra en baie meer. Ons kyk natuurlik ook na praktiese vaardighede soos ritme, stemtoon, houding op die rostrum en of jy dit kan volhou.”

Hy sê verder dat afslaerskorrektheid baie belangrik is. “Hier gaan dit oor hoe ’n mens die bod toeslaan en hoe jy met jou kopers kommunikeer. Dis baie belangrik om dié aspekte van die begin af reg te doen.”

As ’n jong afslaer wat reeds verskeie suksesse in sy loopbaan behaal het, het Mathews die volgende raad: “Die wanpersepsie is dikwels dat afslaers vinnig moet praat en dat dit die belangrikste kriterium is. My raad is egter om altyd duidelikheid bo spoed te plaas. Spoed kom met tyd en ervaring, en jong afslaers moenie vasgevang raak in die soeke na spoed nie. Ritme is verder baie belangrik, maar onthou dat jy nie spoed nodig het vir ritme nie.”

Nasionale rondte

Na ’n kammaveiling waarin elke deelnemer drie lotte moes opveil, is die wenner aangekondig. Freddie Breytenbach het met die louere weggestap en dring dus deur na die nasionale rondte by ALFA 2019 in September vanjaar. Breytenbach is van Nylstroom, waar hy die eienaar van ’n meubelonderneming is. Hy veil dikwels meubels op in dié besigheid, maar sê dat hy nou ook die wild- en veemark wil aanpak. “Om aan die kompetisie deel te neem, gee my die perfekte geleentheid om dit te doen.”

Breytenbach sluit by JP Marais aan, wat aan die einde van 2018 by die Wes-Kaapse streeksrondte tydens Agri-Expo Livestock gekwalifiseer het. Hou die hutsmerk #youngauctioneers dop vir nuus oor die volgende streeksrondtes. – Marike Brits, AgriOrbit

Meer inligting oor die volgende streeksrondtes:

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here