Soetveld bly smaaklik en voedsaam wanneer dit uitgegroei is, terwyl suurveld slegs in die groeiseisoen smaaklik is. Die plantbedekking is dan yler, met ’n laer produksie en weidingkapasiteit in vergelyking met suurvelddele.

Waar die benutbaarheid en gehalte van veld die grootste uitdaging vir diereproduksie in suurvelddele is, is die hoeveelheid materiaal, riskante seisoenale wisseling in reënval en veldtoestand die grootste uitdagings in soetveldgebiede.

In Suid-Afrika is soetgrasvelde en droogtes dus nou verwant aan mekaar en dit behoort as deel van die boerdery bestuur te word, deur die risiko’s van droogtes in die weiding- en veebestuursprogram te beperk. Om eers tydens ’n droogte te begin planne maak, is te laat.

Veldbestuursfaktore

Van die belangrikste faktore vir gesonde weidings- en veebestuursprogramme sluit eerstens veld wat in ’n goeie toestand is in, want dit het die vermoë om diereproduksie tydens ’n droogte te onderhou. Swak veld kan nie vog bewaar nie. Veld behoort ook spesifiek vir droogtetye gespaar te word.

Daarmee saam moet die veelading met die veldtoestand ooreenstem. Indien te swaar belaai, word die effek en tydperk van droogtes drasties verleng. Veelading moet ook tydens droë jare laer as gedurende normale jare wees. Laastens is goeie lekbestuur onmisbaar. Lek tydens die wintermaande verhoog voerinname en gevolglik raak die kos vinniger op.

Droogtebestuur

Tabel 1 illustreer die waarskynlikheid van droogtes by wisselende veldtoestande vir verskillende soetveldgebiede. Dit is duidelik dat veld in ’n uitstekende toestand beter weerstand teen droogtes bied as veld in ’n redelike toestand, en hoe laer die langtermyngemiddelde reënval, hoe groter is die waarskynlikheid vir droogtes. So is die waarskynlikheid vir droogtes by veld in ’n uitstekende toestand op Glen naby Bloemfontein, slegs een uit elke 20 jaar (5%), terwyl dit in Upington ongeveer drie uit elke tien jaar voorkom (27%).

Tabel 1: Die waarskynlikheid van droogtes by wisselende veldtoestande in soetveldgebiede.

VeldtoestandUitstekendGoedRedelikSwak
Glen (550mm)5%10%48%99%
Kuruman (420mm)22%33%56%87%
Upington (200mm)27%45%69%98%

Droogtebestuur moet dus deel van jou weiveldbestuursbeplanning wees. Die hoë waarskynlikheid vir droogtes by swak veld is duidelik waarneembaar by baie van die meentgronde waar daar byna altyd voertekorte is, selfs in bogemiddelde reënvaljare.

Winsgewende veldbestuur

Die ekonomiese waarde van goeie veldbestuur word ongelukkig grootliks deur produsente en selfs wetenskaplikes onderskat, hoewel dit ’n deurslaggewende rol by veldtoestandverbetering en dus volhoubare landbou speel.

As voorbeeld wys navorsingsresultate op die Glen-proefplaas dat wetenskaplik gefundeerde veldbestuurspraktyke beesvleisproduksie en winsgewendheid drasties verhoog. ’n Aansienlike verhoging in kalfpersentasie en speengewig is met ’n kudde van 195 Bonsmara-koeie verkry nadat ’n meerkampweidingstelsel geïmplementeer is. Die inkomste per koei in ’n speenkalfproduksiestelsel in hierdie proef het binne slegs vier jaar van R1 498 (met geen veldbestuurinsette) na R5 472 verhoog, terwyl die veldtoestand ook verbeter het.

Kalfpersentasies van so hoog as 92% is verkry, en dít terwyl die koeie slegs skoon soutlek ontvang het en verse vanaf 14 tot 16 maande vir die eerste keer gepaar is. Resultate toon verder dat diereproduksie tydens ’n droogte betekenisvol hoër was met ’n doeltreffende weidingstelsel, vergeleke met ’n normale seisoen waar ’n ondoeltreffende stelsel gevolg is.

’n Soetveldbestuursprogram

’n Voorbeeld van ’n basiese veldbestuursbenadering vir soet- en selfs gemengde velddele, waar rooigras dominant is, word in Tabel 2 uiteengesit. Kampe word ewekansig in drie groepe (A, B en C) ingedeel, sodat hul weidingskapasiteit min of meer dieselfde is. In kort ontvang die veld met hierdie stelsel ’n lang seisoenale rus nadat dit straf ontblaar is, opgevolg deur normale benutting, waarna dit laastens baie lig ontblaar word.

Tabel 2: Voorbeeld van ’n veldbestuursbenadering vir soet- en gemengde velddele.

WeijaarJunie tot DesemberJanuarieFebruarie tot Mei
1ABBC
2BCCA
3CAAB

Die weitydperk, intensiteit van beweiding en die lengte van die rusperiode word dus oor ’n tydperk van drie jaar gewissel om maksimale veldverbetering te verseker. Die eerste groep kampe word dan vanaf die winter tot einde Desember straf ontblaar. Met hierdie benutting word gepoog om die veld groeikragtig en jonk te hou.

Hierdie groep kampe dui ook aan of die veelading reg is. Indien die weiding klaar is voor die einde van die weitydperk (Desember) in ’n normale reënvaljaar, is dit ’n waarskuwing dat die veelading te hoog is. Die tweede groep kampe word tydens Januarie baie lig ontblaar.

Hierdie kampe dien as voerreserwes vir droë jare, terwyl dit ook hoëgehalte voeding tydens die paarseisoen lewer om hoë besettingsyfers te verseker. Tydens droogtes kan hierdie kampe al in November benut word, wat die risiko’s van droogtes drasties verlaag. Die vroeër benutting is dan ook ’n waarskuwing dat vee vroegtydig verminder moet word.

Die derde groep kampe word weer vanaf begin Februarie tot einde Mei normaal benut. Die groepe roteer dan jaarliks.

Die rus- en weitydperke van hierdie stelsel bevoordeel die groeipatroon van veral rooigras, en veldverbetering sal oor die lang termyn voorkom. Die lang rusperiode in dié stelsel, vanaf begin Januarie tot Februarie die volgende jaar, sorg dat die groeikragtigheid en wortelstelsels elke derde jaar volkome herstel.

Dié stelsel kan dus in die soet- en gemengde rooigrasvelddele van die Vrystaat, Noord-Kaap en Oos-Kaap aanbeveel word. Soortgelyke stelsels kan vir skaapboerderye en ander veldtipes aanbeveel word.

Praktiese weidingstelselbestuur

Die implementering van ’n volhoubare weidingstelsel behoort met die hulp van weidingkundiges plaas te vind. Dit behels die volgende basiese stappe:

  • ’n Plaaskaart met kampgroottes, aangeplante weidings en kontantgewasse is noodsaaklik.
  • Bepaal weidingskapasiteit deur die departementele norm as wegspringpunt te gebruik. Evalueer die veldtoestand en weidingskapasiteit van die kampe en kyk uit vir tekens van veldverswakking.
  • Besluit op ’n produksiestelsel en bereken die hoeveelheid diere vir die boerdery-eenheid.
  • Gebruik die beginsels in hierdie artikel om ’n weidingstelsel uit te werk.
  • Identifiseer sensitiewe kampe (bv. erosie of swak veldtoestand) vir spesiale behandeling.
  • Identifiseer infrastruktuurprobleme om oor die medium en lang termyn reg te stel. Verdeel byvoorbeeld kampe wat te groot is, hervestig aangeplante weiding, en so meer.
  • Verbeter jou kennis van veld asook aanduiders van verbetering (rooigras, vingergras, borseltjiegras ens.) en verswakking (krulblaar, koperdraad, steekgrasse, fynkweek, bitterbos ens.).
  • Evalueer die veldtoestand minstens elke tweede tot derde jaar om die tendens van verandering vas te stel en pas die veldbestuur hiervolgens aan.

Opsomming

Suid-Afrika se weiveld bestaan uit verskillende veldtipes, elk met sy eie unieke omstandighede en vereistes, en kan daarom nie met een weidingstelsel bestuur word nie. Die korrekte benutting in terme van belading, intensiteit, frekwensie en seisoene, is die belangrikste uitdaging vir suksesvolle veldbestuur. Dit moet natuurlik met langtermynveldverbetering of -instandhouding gepaardgaan om volhoubaar te wees.

Alhoewel die regte veelading sekerlik die belangrikste komponent is, is besluite soos wanneer diere van een kamp na ’n ander verskuif word, eweneens belangrik vir die doeltreffende benutting van die weidingsekosisteem. Aangesien al hierdie faktore nou aan mekaar verwant is, sal weidingsbestuur slegs suksesvol wees indien dit op ’n holistiese wyse benader word. – Dr Mias van der Westhuizen, veldbestuurspesialis, Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling

Vir meer inligting, skakel dr Mias van der Westhuizen op 082 335 9016.