Die voorlopige oppervlakteskatting vir 2021 se somergewasse is onlangs deur die Nasionale Oesskattingskomitee bekendgestel.

Die voorlopige oppervlakteskatting is hoofsaaklik op die resultate van ’n nie-ewekansige opname onderneem deur die direktoraat: statistiek en ekonomiese analise van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling gebaseer.

Die Oesskattingskomitee sal die hersiene aangeplante oppervlakte en produksiesyfers op 25 Februarie 2021 bekendstel en sal hoofsaaklik op inligting verkry vanaf die ‘PICES’-opname vir die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en Noordwes gebaseer wees.

Kommersiële mielies

Die voorlopige skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 2,776 miljoen hektaar, wat 6,35% of 165 700ha meer is as die 2,611 miljoen hektaar wat verlede seisoen aangeplant is, en ook 1,11% of 30 500ha meer as die voornemens om 2,746 miljoen hektaar te plant, soos in Oktober 2020 vrygestel.

Die voorlopige oppervlak onder witmielies is 1,702 miljoen hektaar, wat ’n toename van 5,27% of 85 200ha verteenwoordig, vergeleke met die 1,616 miljoen hektaar van die vorige seisoen. In die geval van geelmielies is die oppervlakteskatting 1,075 miljoen hektaar, wat 8,09% of 80 500ha meer is as die 994 500ha wat tydens die vorige seisoen die vorige seisoen geplant is.

Sonneblomsaad

Die voorlopige oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 473 300ha, wat 5,40% of 27 000ha minder is as die 500 300ha wat tydens die vorige seisoen aangeplant is.

Sojabone

Die geskatte oppervlakte onder sojabone is 806 000ha, wat ’n toename van 14,33% of 101 000ha verteenwoordig, vergeleke met die 705 000ha geplant die vorige seisoen. Dit is die hoogste oppervlakte onder sojabone in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Grondbone

Vir grondbone is die oppervlakteskatting 40 050ha, wat 6,80% of 2 550ha meer is as die 37 500ha wat tydens die vorige seisoen aangeplant is.

Sorghum

Die oppervlakteskatting vir sorghum het effens toegeneem met 1,88%, van 42 500ha tot 43 300ha teenoor die vorige seisoen.

Droëbone

Vir droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 51 650ha, wat 2,99% of 1 500ha meer is as die 50 150ha wat tydens die vorige seisoen aangeplant is.

Die hersiene oppervlakte- en eerste produksieskatting vir somergewasse vir 2021 word op 25 Februarie vrygestel. – Persverklaring, CEC