Die vraag na gesertifiseerde organiese heuning styg met rasse skrede wêreldwyd en die aanbod kan nie tred hou met die vraag nie. In Afrika verbruik mense volgens beriggewing meer as drie keer meer heuning as wat die vasteland produseer. Verder suid, sukkel Suid-Afrika ook om aan die verbruikersvraag te voldoen en is daarom baie afhanklik van Chinese invoere vir die wêreld se gewildste natuurlike versoeter.

Uitdagings in die bybedryf

Hierdie stygende vraag staan in skrille kontras met die vinnige afname in bybevolkings wat op sigself ʼn ernstige bedreiging inhou – nie net vir verskeie plantspesies nie, maar uiteindelik ook vir voedselsekerheid. Kenners waarsku dat bye ernstig bedreig word deur die gekombineerde impak van klimaatsverandering, intensiewe landbou, plaagdoders en besoedeling. Vanjaar het die Verenigde Nasies se Voedsel en Landbou-organisasie (FAO) ʼn beroep op lande gedoen om meer te doen om bye te beveilig as deel van die globale stryd teen honger en wanvoeding.

Wat die krisis vererger, is die feit dat die meerderheid van die wêreld se byeboere enorme uitdagings in die gesig staar as gevolg onvolhoubare landboupraktyke soos wydverspreide gebruik van chemikalieë, water- en lugbesoedeling, en die vernietiging van bye se habitat. Nog ʼn bydraende faktor is minder ontwikkelde areas se gebruik van bestaansboerderypraktyke soos streep-en-brandtegnieke en tradisionele heuninginsamelingspraktyke wat ʼn negatiewe impak op bye se habitat het.

Net gelukkige bye maak heuning

Steve Joubert, Suid-Afrikaanse byeboer en stigter van die AbelhaMoz-projek in Mosambiek, sê net gelukkige bye maak heuning. Hy sê daar bestaan ʼn groot vakuum in die wêreld vir suiwer organiese heuning wat by die bron gebottel word. “Die deurslaggewend belangrike rol wat bye in die natuur en landbou speel, word nie altyd volkome begryp deur mense wat steeds dié insekte as gevaarlike peste eerder as belangrike omgewingsvennote beskou nie,” verduidelik hy.

Joubert se projekmodel kombineer ook verskeie sosio-ekonomiese elemente met ʼn beduidende fokus op omgewingsherstel, plattelandse gemeenskapsopheffing, volhoubare welvaart en werkskepping. Hy sê die implementering en instandhouding van wêreldklas organiese standaarde bly ʼn groot uitdaging. “Die onderneming se mikpunt is om met vooraanstaande wêreldleiers, handelaars en mediese maatskappye saam te span om organiese heuningproduksie te ondersteun,” verduidelik hy.

‘n Groeiende behoefte aan natuurlike heuning

“Deur nou saam te werk met gemeenskappe en byeboere in Mosambiek en die gebruik van bewaringsvriendelike metodes, beoog ons om die gemak van swerms en korwe onder ons bestuur te verbeter,” sê Joubert. Hy wys daarop dat die kusstreek langs die oostelike rand van die Inhambane-provinsie in die land, ryk is aan verskeie unieke elemente wat grootskaalse byeboerdery oor die langtermyn volhoubaar sal maak.

Die AbelhaMoz-projek maak reeds groot vordering in die stryd teen die historiese uitwissing van byswerms, deur Mosambiek se tradisionele heuningversamelaars. Dit verhoog sodoende die gemak, veiligheid en krag van byswerms binne sy bedryfsfeer.

Hierdie prestasies is moontlik gemaak deur die aanwending van moderne byeboerderytegnieke, deur aan wêreldklas organiese heuningstandaarde te voldoen of dit te oortref en deur die ontplooiing van byvriendelike tegnologie (en deur die wêreld se voorste tegnologiese vernuwingstegnieke waar 625m2 omheinde gebiede, wat nodusse genoem word, elk 30+ Langstroth-korwe huisves.)

Verbruikers oningelig

Meer as 80% van Suid-Afrikaanse “heuning” word uit China ingevoer. Volgens Wandile Sihlobo, hoof van navorsing by die landbou-sakekamer AgBiz, toon data dat die invoer van Chinese “heuning” na die land gestyg het vanaf 20 ton in 2001 tot 3 600 ton in 2017. Joubert sê dis allerweë bekend dat meer as 70% van heuning wat by kleinhandelaars regoor die wêreld verkoop word, glad nie “regte heuning” is nie.

“Oor die afgelope tien jaar is enorme hoeveelhede vervalsingskomponente soos mielies, rys en suikerbeetstroop met natuurlike heuning gemeng om volumes voor bottelering en verkope op te verhoog,” verduidelik Joubert.

“Die algemene publiek is grootliks oningelig omtrent hierdie vals produksie en woorde soos “bestraal” (wat vervalsing en oorsprong verdoesel) en die woord “vermeng”, verskyn op feitlik elke bottel of fles heuning wat verkoop word. Hierdie misleidende tendens kan slegs deur beter ingeligte verbruikers in die kiem gesmoor word,” sê hy.

Vennootskappe en markontwikkeling

Die AbelhaMoz-projek word gedryf deur die uitdagende toestand van die internasionale heuningmark wat ʼn geleentheid skep om nie net ʼn vooraanstaande globale organiese en mediese-graad heuninghandelsmerk te skep nie, maar ook volhoubare vennootskappe. Binne hierdie konteks het Laeveld Agrochem, een van Suid-Afrika se voorste landboudienstemaatskappy, ʼn deurslaggewende rol gespeel in die verskaffing van aanvangskapitaal vir die AbelhaMoz-projek.

Corné Liebenberg, bemarkingsbestuurder van Laeveld Agrochem, sê die gemeenskapsontwikkelings- en werkskeppingsaspekte van die projek was beslis pluspunte wat die maatskappy oortuig het om daarby betrokke te raak.

“Die AbelhaMoz-projek het ʼn volhoubare visie en fokus. Ons glo in die onderliggende filosofie van opbrengste op belegging vir die plaaslike mense wat by die projekinisiatiewe betrokke is,” verduidelik hy.

Volgens die Wêreldbank dek inheemse woude en bosland 43% van die landmassa in Mosambiek en huisves dit omvattende biodiversiteit en unieke landskappe wat in staat is om byeboerdery op kommersiële vlak in stand te hou. Dit sal daartoe lei dat gemeenskappe nie net aan die plaaslike mark se behoefte voldoen nie, maar dit het ook die potensiaal om enorme volumes vir uitvoerdoeleindes te lewer. – Mediavrystelling, AbelhaMoz