karkaskampioen
Ria Steyn saam met haar bestuurder, Derek Fourie.

’n Vroueboer het stof in die oë van vleisbeesboere regoor die land geskop toe sy die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (Samic) se Nasionale Karkaskompetisie gewen het. Die 87-jarige Ria Steyn, wat op die Agen-landgoed by Leniesdeel naby Vryburg met Beefmasters boer, se wenkarkas het ’n punt van 99,93 uit ’n moontlike honderd behaal.

“Dit was vir my ’n baie groot verrassing wat ek glad nie verwag het nie. Ek dink dit was ’n sameloop van die Beefmasterbeeste se uitstaande karkaseienskappe, tesame met streng seleksie oor sowat drie dekades, wat die knoop deurgehaak het,” sê sy.

Kompetisie vir die beste karkas

Altesaam 4 454 beeste, skaaplammers, bokke en varke van kommersiële boere en 505 diere van ontwikkelende boere het aan die Nasionale Karkaskompetisie, wat volgens Samic daarop gemik is om boere meer bewus te maak van die verbruiker se behoefte en om optimale rooivleisverkope te verseker, deelgeneem.

Die vee word op die verskillende vetveeskoue op die hoef beoordeel en dan geslag, waarna die karkas beoordeel word. Die beoordeling op die hoef het ten doel om boere te leer hoe lyk ’n lewende dier wat ’n goeie karkas behoort te lewer.

Tydens die beoordeling van die karkas word 75% van die punte toegeken op grond van die vetheidsgraad van die dier, 20% vir die bouvorm en 5% as die dier se gewig binne die gewigsperke val wat die mark vereis. Die dier wat landswyd die beste punte behaal, word as die wenner gekroon.

Luister ‘n potgooi oor die 87-jarige Ria Steyn.

Op Leniesdeel het sowat 70 beeste aan die kompetisie deelgeneem. Die kalwers is deur ’n plaaslike voerkraal wat deur Gordon Brown bestuur word gekoop toe hulle nog jonk was, nadat hulle vir 120 dae met ’n voerrantsoen wat deur Echbert Greeff van Summerlane-voere ontwikkel is, afgerond is. Daarna is hulle onder Ria se naam vir die vetveeskou op Leniesdeel ingeskryf.

Begin van ’n uitblinker-stoet

Ria se oorlede man, Basjan, was ’n bekende graanboer van Kroonstad. Nadat hul seun, Andries, die graanboerdery oorgeneem het, het hulle ’n draai in Bergville se wêreld gemaak en uiteindelik grond in die omgewing van Leniesdeel gekoop.

karkaskampioen
Ria Steyn mik daarna om uitstaande bulle te lewer, wat nageslag kan teel wat winsgewend én mooi is en oral kan aanpas.

Hulle het in 1989, met die hulp van kenners soos wyle dr Herman Venter en hul skoonseun, Willie de Jager, ’n Beefmaster-boerdery begin. Embrio’s en semen is gebruik om gekeurde kruiskoeie op te teel wat saam met 100 kalwers, wat met kunsmatige inseminasie verwek is, uiteindelik die basis van die stoetery gevorm het.

Van beginner tot Beefmaster-meester

Die stoetery is op Ria se naam geregistreer en vandag skerts sy dat die Beefmaster háár gekies het en nie andersom nie. Hoewel sy beeste maar swak geken het, was diereteelt nie vir haar vreemd nie aangesien sy voorheen ’n baie suksesvolle Saalperdteler was wat talle kampioenperde geteel het.

Sy het verskeie kursusse gevolg en is vandag ’n seniorkeurder van die ras. Sedert 2011 is sy alleen verantwoordelik vir die stoetery en die kommersiële kudde. Die Beefmaster is vir haar ’n maklike bees om winsgewend mee te boer, omdat hy ’n baie goeie temperament het en swaar kalwers speen.

Vrugbaarheid is ook noodsaaklik, want kalwers sorg vir die boer se inkomste, veral in kommersiële kuddes. Sy moes haar kommersiële Beefmasterkudde aansienlik verminder om in die onlangse droogte te kon oorleef. Dié kudde gaan nou weer opgebou word, want dit sorg vir die plaas se kontantvloei.

Goed bespierd en aangepas

Bouvorm maak dit moontlik om gesogte karkasse te lewer met soveel duur vleissnitte aan as moontlik. Tydens seleksie soek sy manlike bulkalwers en vroulike koeie uit met goeie vleiseienskappe soos ’n lang, breë lende en goed gevulde agterkwarte met die boude wat ver afloop. Goeie, matige bespiering is noodsaaklik en die diere moet nie te rankerig en hoog op die been wees nie.

Beefmasters is ’n uiters aangepaste beesras wat in alle gebiede in Suider-Afrika presteer. Haar eie ondervinding is dat haar kudde van Thabazimbi tot by Bergville en nou naby Vryburg, goed aangepas het. Omdat Vryburg se omgewing ideale beeswêreld is, sien ’n mens gou diere raak wat swak presteer en dié skot sy uit.

Noukeurige teel en bestuur

Haar Beefmasters het deur die jare effens verander om by die omgewing aan te pas. Die diere waarvan hulle embrio’s, semen en bulle ingevoer het, was betreklik groot met lang en growwe skede. Vandag boer sy met mediumraambeeste met goeie skedes. Die stoetery bestaan uit sowat 150 teelkoeie en haar bestuurder, Derek Fourie, sorg dat die daaglikse take op die plaas glad verloop, terwyl Ria self die seleksie doen en die parings bestuur.

Noukeurige rekords word van elke dier gehou sodat sy eie prestasie, die prestasie van sy voorouers asook verwantes gebruik kan word wanneer Ria diere vir die stoetery selekteer, en besluit watter bulle en koeie in spesifieke parings gebruik kan word.

Die teeldoelwit van die Agen-stoetery is om puik bulle aan die vleisbeesboer te bied, wat vir hom ’n nageslag sal teel wat vir groter wins kan sorg, aangepas is by enige omgewing en ook ’n plesier vir die oog is.

Sowat 30 koeie word op ’n slag twee keer in die dektyd geïnsemineer. Daar is twee bulle in die stoetery wat besonder goed teel en die behoefte aan kunsmatige inseminasie afskaal. Net semen van die mees uitstaande bulle wat die teeldoelwit van die kudde kan bevorder, word gebruik.

Die kalwers word gespeen en geweeg as hulle sewe maande oud is en kry dan neusringe sodat hulle saam met die koeie kan bly loop om speenskok te verminder. Hulle loop sowat twee tot drie weke saam met die koeie en in dié tyd word daar teen siektes en parasiete ingeënt, gespuit en gedoseer.

Bul- en verskalwers gaan dan na verskillende kampe. Die bulkalwers kry ’n produksielek totdat hulle gekeur word; die swakste kalwers word reeds met speen uitgehaal. Die swakste verskalwers word ook met speen uitgehaal en die res word volgens gehalte in die stoetery of die kommersiële kudde opgeneem. Dié wat in die kuddes nie hul kant bring nie, word geslag.

Verse moet vrugbaar en aangepas wees en goed op die oog val.

Kuddeprestasie teenoor die ras

Ria slaan ook ag op die genetiese evaluasie wat deur SA Stamboek aan die hand van haar noukeurige rekords vir elke dier uitgewerk word. Daarvolgens kan sy nie net haar eie diere evalueer nie, maar ook sien hoe haar diere binne die ras vaar.

Die kudde se speenpersentasie is tussen 90% en 95% en die kalfinterval-indeks 112. Die verskalwers se gemiddelde speengewig is 270kg en dié van die bulkalwers 290kg.

Volgens Ria is die feit dat sy nog kan boer net genade en ’n groot voorreg vir haar. Die afgelope droogte het mens en dier beproef, maar die Beefmasters het gewys dat hulle aangepas is om selfs in moeilike tye te presteer, sê sy.

Vir meer inligting, skakel Ria Steyn by 083 399 0334 of stuur ’n epos na agenlandgoed@gmail.com.