Basterkrag moet nooit onderskat word nie. Vir die kommersiële produsent wat ordentlike karkasse wil verkoop en geld in sy sak wil hê, het kruisteling groot waarde. Een so ’n produsent wat met behulp van kruisteling sorg dat sy ooie bly lam en sy lammers goeie pryse behaal, is Oubaas van Rensburg van die plaas Jagskerm tussen Vosburg en Britstown.

Oubaas kom uit ’n familie van boere. Hy vertel dat hy die vierde geslag is wat op die plaas boer. Sy twee seuns, Junior en Xander, staan gereed om eendag die stokkie by hom oor te vat. Hulle boer al net so hard saam met hul pa en dra saam aan die verantwoordelikhede op die plaas.

’n Tradisie van kruisteling

Oubaas loop al ’n lang pad met kruisteling. Sy oupagrootjie het destyds met Merino’s begin en sy pa en oom het besluit om Witdorperramme by Merino-ooie wat uitgeklas is, te sit. Hulle het die ooie geskeer en die lammers weggelaai, en sodoende twee bronne van inkomste uit dieselfde ooi verdien. Boonop het die basterlammers beter as die Merinolammers uitgeslag.

Sy pa het ook by geleentheid ’n klompie Swartkoppersie-ooie gehad en hulle saam met ’n paar ramme in ’n kamp geplaas. Oubaas het later besef dat wanneer jy ’n paar lammers nodig het om weg te laai, daar altyd in dié kamp lammers beskikbaar was. Die Persies is baie vrugbaar.

Merino
Hier wys Oubaas van Rensburg en een van sy plaaswerkers, Gerome van Wyk, na die interessante kleurverskynsels wat voorkom wanneer jy Dorpers en Persies kruis.

Dit het sy belangstelling geprikkel en hy het begin om Persieramme by Dorperooie te sit. Die resultaat was ’n vrugbare trop skape wat goeie lammers met uitstekende bouvorm gee. Dit het sy boerdery in ’n nuwe rigting gestuur.

Vrugbare kruisrasse

“Ek glo ’n mens moet besluit wat jy uit jou boerdery wil hê en dan moet jy die beste bestanddele kry om by daardie eindpunt uit te kom. ’n Dorper is byvoorbeeld ’n baie mooi skaap en lewer ’n goeie karkas, maar as die ramme nie hul kant wil bring nie, moet jy ’n plan maak. Ondervinding het my geleer dat enige kruisrasdier baie vrugbaarder as ’n rasegte dier is,” gesels Oubaas.

Uitstekende vrugbaarheid is dan ook die grootste voordeel wat hy uit sy kruisrasdiere ervaar. Hulle lam elke sewe maande en dit bied vir hom die voordeel om op gereelde basis lammers na die abattoir te kan laai en sy kontantvloei op die plaas gesond te hou.

“Hier kan ons nie gras onder ons voete laat groei nie. As die ooi klaar gelam het en jy speen nie gou genoeg die lam en laai hom weg nie, dan lam die ooi weer terwyl die eerste lam nog saam met haar loop.”

Die ekonomie van kruisteling

Hy erken dat ’n mens meer vir ’n suiwer Dorperlam sal kry, omdat die kruislammers te vet is. Op die oog af lyk kruisteling dus nie na ’n goeie finansiële resep nie, maar as jy jou somme maak en al die faktore in ag neem, dan lyk die prentjie heel anders.

Hy verduidelik dat ’n Dorperlam byvoorbeeld 16kg sal uitslag en die kruisras 20kg. Hoewel jy minder per kilogram vir die kruisras kry omdat hy afgegradeer word, balanseer die som omdat jy meer vleis met die kruisras kon aanbied.

“Nog ’n voordeel het te make met voer. As ek begin voer moet ek die suiwer rasse lank voor die kruisrasse begin voer. In my ondervinding kan die kruisrasse beter na hulself in die veld kyk. Ek voer op die oomblik slegs my suiwer Merino’s.”

Eienskappe by kruising

Een van die foute wat Oubaas gemaak het in sy poging om vrugbaarheid te kry, was om te veel Persieramme by sy ooie te sit. Gevolglik was die raam van die lammers te klein. Om dié probleem die hoof te bied het hy Van Rooy-ramme bygesit om groter lammers te kry. Die Van Rooy het minder vet en is groter van postuur.

Een van die foute wat Oubaas gemaak het in sy poging om vrugbaarheid te kry, was om te veel Persieramme by sy ooie te sit. Gevolglik was die raam van die lammers te klein. Om dié probleem die hoof te bied het hy Van Rooy-ramme bygesit om groter lammers te kry. Die Van Rooy het minder vet en is groter van postuur.

Merino
Oubaas van Rensburg en sy jongste seun, Xander, is ewe tuis in die kraal. Oubaas is die vierde geslag wat op die plaas boer en Xander en sy broer, Junior, sal met gemak by hul pa kan oorneem.

“Van die ooitjies wat ek uit die Persieramme gekry het was nog piepklein dan lam hulle al, en dit het my laat besef daar moet ’n balans tussen vrugbaarheid en raamgrootte getrek word. Hulle was baie vroeër seksueel gereed en party van hulle was maar 36kg in gewig. Onder normale omstandighede moet hulle darem so 45kg weeg.”

Hy sê ook dat die Dorper/Persielammers ’n voordeel het dat hoe droër dit is, hoe beter slag hulle, omdat hulle dan nie so vet is nie. Die aanwins is dat hy van die veld af kan laai na die abattoir.

Ander eienskappe waarna hy oplet is eenvormigheid, dat die lam se bene reg is om ver te loop, dat sy hakke reg is, en dat sy bek reg is om te kan vreet. Die bouvorm is ook belangrik. Die vleis moet redelik op sy boude afkom en hy moet ’n breë karkas en breë kop hê.

Merinowolvertakking

Oubaas sê in sy geweste, waar dit gedurig droog is en die jakkalse een van die produsent se grootste vyande is, het hy besluit om ’n ekstra been in sy boerdery te vestig, naamlik wolproduksie.

“Op hierdie plaas kan jy met so 1 000 Merino’s en ’n 1 000 Dorpers boer. Die rede waarom ek die Merino’s ook aanhou en hulle so suiwer as moontlik hou, is omdat daardie wol die meeste van my uitgawes kan dek. Dan kan die lammers ook nog verkoop word.

“ ’n Goeie voordeel van Merino’s is dat hulle nie so swaar op die veld is nie. ’n Mens maak dus twee keer geld uit hulle, sonder om jou veld te verniel,” verduidelik hy.

Predasiebeheer

Oubaas glo ook dat elke dier op die plaas sy huur moet betaal. Hy sê elke ooi moet ’n lam huis toe bring, anders is sy net ’n passasier, maar met die jakkalse is dit nie altyd moontlik om te sien watter ooie produktief is en watter nie. Daarom is hy in die proses om elektriese drade om sy kampe te sit en jakkalse op ’n groot skaal uit te roei. Hy vertel dat hy sommige jare tot 30% van sy lammeroes aan jakkalse verloor.

Hy wil ook meer kameras in sy kampe opsit om te sien wat in elke kamp gebeur. Hy glo as ’n produsent van beskikbare tegnologie gebruik maak, die boerdery baie meer winsgewend kan wees.

Beplan vooruit

Droogtes kom en gaan gereeld. Oubaas sê hy het al geleer om betyds ruvoer aan te koop.

“Maak altyd seker jou skure is vol vir die maer jare wat voorlê. Gewoonlik as dit goed gaan en dit reën, dan is die pryse vir lusern en ander voer laag, maar as dit droog begin raak, styg die prys. Dit is dus beter om in Februarie of Maart lusern aan te koop – almal is vol vertroue dat dit nog gaan reën en die prys is nie so hoog nie.  

“Ek glo ’n mens moet vroegtydig voorsiening maak vir ’n droogte wat kan kom. Ek koop elke jaar genoeg voer, pak dit weg en vergeet daarvan. As dit nie reën nie, gaan ek dit nodig kry wanneer voer op sy duurste is. Boonop kan ek dit van belasting aftrek.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Oubaas van Rensburg by 079 494 8784.