Terence en Luke by van die jong soggies wat binnekort vir die eerste keer by die bere gesit word.

Estimated reading time: 7 minutes

Die Spilsbury’s van Harrismith is ’n bekende polo-familie en Terence en sy vrou Jo se hoofinkomste kom juis uit die afrigting en verkoop van poloperde. Hulle is ook baie ingestel op ’n omgewingsvriendelike leefstyl en probeer hul bes om die beginsels van bewaringslandbou toe te pas in alles wat hulle op hul plaas, Glen Urquhart, langs die Sterkfonteindam doen.

Lees meer oor varkvleissyfers in SA.

Hulle maak byvoorbeeld kompos uit die perde se stalbeddegoed, bedryf ’n erdwurmboerdery en produseer eiers in ’n stelsel waar die henne vry loop en snags in verskuifbare ‘kwartiere’ slaap.

’n Nuwe vertakking wat by hierdie filosofie inpas, is ’n vrylopende varkeenheid. Die varke loop in ’n kamp van ongeveer twee hektaar waar basiese skuilings opgerig is vir sôe om in te jong. Die varke kry daar kos, maar loop en wei en dolwe vir die res van die dag in die grond rond.

Die varke, sê Terence, het eintlik as ’n projek begin om hul kinders by die boerdery te betrek. Die drie kinders, Jack (14), hul dogter Charlie (12) en Luke (9) word tuis onderrig en stel baie in die plaasaktiwiteite belang.

’n Verskuifbare stelsel

“Aanvanklik het ons vyf soggies by ’n vriend gekoop en hulle in ’n hoëdigtheidbeweidingstelsel probeer bestuur, deur hulle in ’n verskuifbare hok te hou wat dan elke derde dag of so verskuif is. Die idee was om grassaad te saai op die dele waar hulle klaar gewei het. Die varke was dus eintlik bedoel om deel van ons grondverbeteringstelsel te vorm.”

Die vertrekpunt van alles wat hulle op die plaas doen, sê hy, is om die grond te verbeter deur dit so min as moontlik te versteur, soveel as moontlik organiese materiaal daarop te bewerkstellig en die mikrobiese lewe in die grond maksimaal te stimuleer.

Die soggies was egter baie gou te groot vir hul verskuifbare hok en is na ’n kamp van twee hektaar verskuif. ’n Beer en nog vyf jong soggies is gekoop en binne drie maande, drie weke en drie dae het vyf van die soggies begin jong. Daardie eerste werpsels het 33 klein varkies opgelewer.

Die klein varkies kry kruipvoeding wat hulle deur ’n kruipvoerhekkie kan bereik. Skuilings vir die varke word gemaak van enige beskikbare materiaal. In hierdie geval is dit ou lamhokkies wat met sinkplate toegemaak is.

“Ons het die varkies op agt weke gespeen en die beertjies en soggies geskei. Die beertjies is grootgemaak vir slag en ons het van die soggies gehou om ons kudde te vergroot. Uiteindelik is die res ook verkoop.”

Ses maande later het die volgende rondte 80 klein varkies uit tien sôe opgelewer.

Sôe maak hul eie slaapplek

Aanvanklik was hulle bang dat hulle van die klein varkies in die koue sou verloor, want die sôe het in Junie gejong, maar, sê Terence, tot dusver het hulle nog geen varkies op dié manier verloor nie.

“Ons het seker gemaak dat elke sog ’n lekker warm nes het om in te jong, maar van die sôe was nie tevrede met ons behuising nie en het hulle eie nessies gaan bou – óf in ’n holte in die grond óf in ’n ronde baal wat hulle uitgehol het. Ek dink die ideaal sal wees as ons van die perdestalle kan gebruik om in te jong.”

Natuurlike voer

Die hoofbron van hul varkkos is mielie- en sojasifsels. Verder voorsien hulle ook hooi en gebaalde armmanslusern in die winter as daar nie groen gras beskikbaar is nie.

“Ons voel baie sterk oor die feit dat enige produk wat ons verkoop, geheel en al op nie-geneties gemanipuleerde (nie-GMO) kos moet grootword. Daarom koop ons slegs nie-GMO-graansifsels. Verder kry ons uitskotaartappels van ’n aartappelprodusent in die omgewing wat ons dan daagliks kook en aan die varke voer. Ons is altyd op die uitkyk vir uitskotprodukte om ons voerrekening so laag as moontlik te hou.”

Afgesien van die basiese rantsoen van mielie- en sojasifsels, tesame met gekookte aartappels, kry die varke onbeperkte toegang tot ’n mineraallek. Hoewel hy seker is dat hulle die varke se voeding heelwat kan verbeter, voel hy dat hulle bevredigende resultate kry in ’n stelsel wat daarop ingestel is om koste so laag as moontlik te hou.

Aangepaste vervangingsdiere

“Ons groot mikpunt nou is om vervangingsoggies te selekteer wat in hierdie stelsel aangepas is en daardie diere wat nie optimaal produseer nie, te verwyder. Die eerste kriteria is dat ’n sog wat minder as agt kleintjies op ’n slag grootmaak, moet gaan. Ons mikpunt is twaalf of meer varkies per sog.”

Dieselfde beginsels vir enige ekstensiewe produksiedier geld by hul seleksie van vervangingsôe, sê Terence.

“Die eerste is vrugbaarheid en die vermoë om haar kleintjies groot te maak. Dit impliseer dat die sog in ons stelsel aangepas is. Ek dink ons grootste uitdaging is om die regte bere te koop. Sonbrand is ’n potensiële probleem omdat die varke heeldag buite is. Ek het tot dusver Duroc-bere gebruik omdat hulle goeie pigment het, maar ek dink ons gaan binnekort op ’n punt kom dat ons ons eie bere sal kan selekteer.”

Gesonde, gelukkige diere

Wat gesondheidsbestuur betref, sê hy, was hulle tot dusver nog baie gelukkig. Die varke is gesond en kry geen inentings nie.

“As ons speen, kry elke varkie ’n dosis antiparasietmiddel en ’n vitamien- en mineraalaanvulling. Omdat hulle in die grond agter wortels aan dolwe, dink ek is ystertekorte by ons nie ’n probleem nie. Ons grootste bron van kommer tot dusver was varkies wat beseer word. Ons moes al ’n paar varkies uitsit omdat hulle bene gebreek het, maar teenoor die totaal van varkies wat ons suksesvol grootgemaak het, was daardie verliese minimaal.”

Die sôe loop almal in een kamp saam met hul kleintjies, sodra die kleintjies groot genoeg is om hulself te handhaaf. Die sôe is nie vreeslik gesteld op wie aan hulle soog nie.

’n Ander uitdaging is om die varke in die kamp te hou. Hulle gebruik ’n sonpaneel met elektriese draadjies, maar die varke het geleer om dié heining te omseil, waarskynlik omdat die elektriese impuls nie sterk genoeg was nie.

“Ons sal beslis ’n sterker elektriese stroom deur die heining moet stuur, wat beteken ons sal ’n groter paneel moet kry, maar tans is dit nie ’n faktor wat die hele varkboerdery in die weegskaal plaas nie.”

Beheer die volle waardeketting

“As ek in ag neem dat elke sog vir my ’n gemiddeld van 20 kleintjies per jaar produseer, dan is die vleis per sog wat ons kan verkoop baie meer as haar eie gewig. Ons het die keuse gemaak om ons eie kleintjies af te rond tot op ongeveer 70kg, wat natuurlik ook koste impliseer, maar ek voel ons moet probeer om sover as moontlik die hele waardeketting – van geboorte tot by die eindverbruiker – in ons eie beheer te hou.

“Ons is hierin natuurlik gelukkig omdat Jo reeds met die eierproduksie-eenheid ’n hele reeks afsetpunte het, en ons wil daardie afsetpunte ook vir ons varkvleis gebruik. Dit is die enigste manier hoe ons die beste moontlike premie vir ons produk sal bewerkstellig,” sê Terence. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan Terence Spilsbury by bropolo@gmail.com.

noodhulpkas, Dormers, predasiebeheer