Vanjaar se Elite Suiweltoekennings vir die Vrystaat-streek is op 3 Oktober by Reyneke Park naby Bloemfontein gehou. Tydens die geleentheid is MD Foundation se Jersey-kudde en Waterbron Jerseys aangewys as dubbelgoud-wenners. Die MD Foundation se Jersey-kudde is aangewys as die wenner in vanjaar se Vrystaat suiwelboer van die jaar-kompetisie.

Beide die kuddes wat dubbelgoud ontvang het, dring deur na die nasionale rondte wat inApril 2019 gehou sal word. Wenners in die ander kategorieë sluit in: DA Orchison (brons), D Burger (brons), Jawilco Ayrshires (brons), Daspoort Holstein-Friese (brons), Wynne Dedwith (brons), Lonel Jerseys (silwer), MD Foundation se Holstein-kudde (goud) en Inovula Edms Bpk (goud).

Sprekers bemoedig produsente

Sprekers aan die woord was dr Pieter Henning van Meadow Feeds, Mike Mouton van DeLaval en Chris Bekker van FNB Landbou. Dr Henning het in sy praatjie gefokus op die doelwitte wat elke melkboer behoort te hê. Hy meen een van die belangrikste aspekte is inkomste bo voerkoste met die oog op volhoubaarheid. Hy het ook genoem dat groter bewustheid nodig is oor die voedingsbehoeftes van oorgangskoeie.

Mike Mouton het gesels oor die nuwe DeLaval-melkdraaitafel se funksionaliteite. Chris Bekker ’n oorsig gegee het oor die land se ekonomie en kommoditeitspryse. Hy meen die huidige ekonomiese toestande is deel van sikliese bewegings. – WA Lombard en André Ferreira