Vrystaat Landbou (VL) stel binnekort ’n nuwe webtuiste met inligting oor die beskikbaarheid van grond bekend. Volgens dr Jack Armour, bedryfsbestuurder van VL, is hul visie om die erkende webtuiste van keuse in elke provinsie vir alle landbougrond-transaksies te wees en sodoende doeltreffende en deursigtige grondhervorming en transformasie te fasiliteer.

Dr Armour moedig alle lede van VL wat grond wil verkoop of verhuur aan om dit op die webtuiste, www.landaccess.co.za, te plaas. VL doen ook ’n beroep op sy lede se eiendomsagente om die grond wat hulle verkoop daarop te plaas.

Volgens dr Armour is die missie van die webtuiste om diegene wat landbougrond wil verkoop of verhuur in verbinding te sit met diegene wat op soek is na grond, en om dit op ’n feite-gebaseerde platform van grond wat in elke provinsie in Suid-Afrika beskikbaar is te doen. Hy sê ook dat die statistieke van grond wat aangebied en verhandel word, ’n waardevolle instrument is.

Vir meer inligting, kontak dr Jack Armour by jack@vslandbou.co.za of 051 444 4609. – Vrystaat Landbou-nuusbrief