Vrystaat Landbou (VL) is hard aan die werk ten opsigte van landelike veiligheid, eiendomsreg, ramp- en risikobestuur, en landelike infrastruktuur ten einde ’n toekoms in landbou te verseker. Hierdie fokuspunte is met VL se virtuele kongres uitgelig.

Francois Wilken, wie weer tot president van VL verkies is, sê daar is besluit om die ‘ou beginsel’ van beleidsverandering tweede te plaas en meer te fokus op VL se lede. Daar sal ook meer fokus op sowel as gemeenskappe in landelike gebiede se welstand en veiligheid, asook werkskepping, geplaas word. Hy sê gemeenskappe moet opgebou word en dat die landboubedryf ’n rol hierin speel omdat daar nie op die regering staatgemaak kan word om dit te doen nie.

Landelike veiligheid

Volgens Wilken rus VL nie op sy louere ten opsigte van landelike veiligheid nie, en lede en hul werknemers se veiligheid is ’n prioriteit. Tog is dit kommerwekkend dat die polisie se hersiene landelike beveiligingsstrategie nou eers in 2025 in werking gestel gaan word. Finansiële tekorte is onder meer ’n rede hiervoor.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se veiligheidskomitee, sê die organisasie is al vir meer as ’n dekade by die implementering van hierdie strategie betrokke, wat die jaarlikse opgradering en inoefening daarvan behels.

Daar is oor die afgelope vyf finansiële jaar altesaam 123 aanvalle op plase in die Vrystaat afgeweer, wat toegeskryf kan word aan die skakeling vooraf tussen boerderygemeenskappe en polisiestrukture. Oorgrensvergaderings en werksessies met die weermag, polisie, en die Departement van Polisie, Paaie en Vervoer, vind ook plaas om teen oorgrensmisdrywe tussen Lesotho en Suid-Afrika op te tree.

Eiendomsreg

VL werp deurlopend alles in die stryd om eiendomsreg van alle boere te verseker. Volgens Gernie Botha, operasionele bestuurder, het VL ’n grondbeleid formuleer nadat hy in 2019 ’n mandaat vanaf sy lede ontvang het. Daarvolgens word enige wysiging of bestaande wetsontwerpe wat ’n negatiewe impak op enige vorm van privaateiendomsreg kan hê, ten sterkste verwerp.

Die onteiening van enige private eiendom sonder billike en regverdige vergoeding word nie goedgekeur nie. VL het daarom in die afgelope jaar sy stem dik gemaak teen die beoogde wysiging van Artikel 25 van die Grondwet. Kommentaar is gelewer terwyl daar goeie deelname aan openbare verhore was, waar die publiek se insette versoek is.

VL het sy standpunt rondom die onteieningswetsontwerp ook wyd bekendgemaak, en daar was deelname aan die onlangse virtuele provinsiale openbare verhore waar voorleggings aan lede van die portefeuljekomitee – wat daarmee bemoeid is – gemaak is. Wilken was ook teenwoordig toe besware (80 000) teen die wetsontwerp vanjaar by die parlement oorhandig is.

Wetgewings: Jongste verwikkelinge

Annalize Crosby, hoof van grond- en regsake by Agri SA, sê daar bestaan verwarring rondom die Grondwetwysiging (Artikel 25) en die onteieningswetsontwerp, en wat die interaksie tussen hierdie twee stukke wetgewing is.

“Dit is baie belangrik om die twee goed uitmekaar te hou, hoewel die gevaar wat dit vir ons lede daarstel vanuit albei bronne afkomstig is.”

Volgens Crosby is die ad hoc-komitee, wat in beheer is van die parlementêre proses om Artikel 25 van die Grondwet te wysig, se taak afgehandel. ’n Verslag is saamgestel en die komitee sal ’n finale wetsontwerp aanbeveel. Daar sal na verwagting daaroor gedebatteer en gestem word wanneer die Nasionale Vergadering weer ná die plaaslike regeringsverkiesing in sitting is.

Volgens Crosby is die volgende gevare in die wetsontwerp opvallend:

  • Nulvergoeding.
  • Die afwatering van die seggenskap wat die howe gaan hê rondom dispute rakende nulvergoeding.
  • Staatsvoogdyskap oor grond.

Provinsiale verhore in terme van die onteieningswetsontwerp het onlangs plaasgevind, en Crosby meen die proses gaan ook deur die plaaslike regeringsverkiesing vertraag word. Dit kan waarskynlik verder gevoer word ná November, maar daar is dan slegs ’n maand oor voordat die parlement in sy Desember-reses gaan.

“Ek twyfel of dit vanjaar gefinaliseer gaan word, maar ek dink die fokus gaan nou verskuif word na die onteieningswetsontwerp as die Artikel 25-wysigingsproses sou sneuwel, en daar is definitiewe gevare in daardie wetsontwerp ook,” het Crosby gesê.

Veerkragtigheid teen natuurlike rampe

Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, sê in die afgelope twee jaar is die Vrystaat konstant weens Covid-19, wegholbrande (Hertzogville en Boshof), vloede en ’n sprinkaanplaag as rampgebied verklaar. Dit het VL genoop om ’n deeglike rampbeleid op te stel sodat sy lede meer voorbereid kan wees.

VL wil sy lede soos volg bemagtig om meer veerkragtig teen rampe te wees:

  • Lede kan VL help en die rampbeleid verken en verfyn vir verbeterde implementering daarvan.
  • Landbouverenigings moet ’n rampkoördineerder (wat ook peste en plae hanteer), ’n verteenwoordiger vir die brandbeskermingsvereniging, en ’n springkaanbeampte aanstel. Hulle sal op grondvlak die skakel tussen statutêre liggame en boere wees.
  • Landbouverenigings moet deur munisipale landbouforums nou skakel met distriks- rampbestuurbeamptes om inskrywings van landbourampe in distrikte, asook die plaaslike munisipaliteite se rampplanne en geïntegreerde ontwikkelingsplanne, te verseker.
  • Elke lid moet bydra tot die virtuele streeksvoerbank – 10% van hul voerbale moet opsy gesit word sodat dit geskenk kan word indien ’n ramp ontstaan.
  • Bewustheid van klimaatsverandering en die aanpassing daarby in terme van risikoverspreidingsaksies (uitneem van versekering) is nodig.
  • Betrokkenheid by studiegroepe of proewe oor bewaringslandbou van kommoditeitsorganisasies is nodig om tot navorsing – gegrond op feite – by te dra.

Instandhouding van landelike infrastruktuur

Armour sê politiekery, kaderontplooiing en korrupsie het oor die jare stelselmatig die verval van stelsels en sisteme ten opsigte van die bestuur en onderhoud van die Vrystaat se paaie-netwerk veroorsaak. Daarom het VL ’n paaiestrategie daargestel.

Verskeie pogings is al sonder sukses aangewend om die provinsie se swak toestand van paaie te verbeter en daarom wil VL hom nou tot die howe wend. Die organisasie wag nou op ’n regsopinie vanaf senior advokate rakende die staat se versuim om sy rol te vervul, en sy wanprestasie ten opsigte van die onderhoud van paaie. – Christal-Lize Muller, AgriOrbit