Vrystaat Landbou (VL) verwelkom die spoedige arrestasie van die persone betrokke by die plaasmoord op die Hennenman-boer, Pieter Hills. Eddie Hills, Pieter se seun, is ook tydens die aanval beseer en is, na wat verneem word, in ’n ernstige toestand in die Netcare Millpark-hospitaal.

VL het namens die landbougemeenskap innige simpatie teenoor die familie betuig. “Woorde kan nie die impak van die lewensverlies en trauma van hierdie brutale dade beskryf nie,” het Francois Wilken, president van VL, gesê.

VL se plaaslike boerevereniging in Hennenman het die eerste hofverskyning van die verdagtes op 10 November bygewoon. Ter ondersteuning van die Hills-gesin, sal VL die borgaansoek op 16 November bywoon.

Tekort aan voertuie en korrupsie beperk SAPD-impak

Intussen het dit aan die lig gekom dat die plaaslike landelike veiligheidskoördineerder van die polisie nie oor ’n voertuig beskik om sy funksies te verrig nie. Die voorsitter van die plaaslike boerevereniging, TP Theron, het aan VL bevestig dat ’n skrywe aan die plaaslike polisie oorhandig is waarin die landbougemeenskap hul misnoeë hieroor uitspreek. VL het die skrywe dadelik na die provinsiale kantoor van die polisie geëskaleer om dringende aandag aan die saak te gee.

Die voortgesette misdaadaanslag op die landbousektor is onaanvaarbaar en landbouers as ’n geheel is nie meer bereid om die wetteloosheid toe te laat nie. Dit is daarom belangrik dat die regering die beloftes wat aan landbou gemaak is ná die Senekal-plaasaanval, dringend implementeer.

Die Hennenman-plaasmoord toon dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se beloofde impak blyk beperk te wees. Korrupsie in die plaaslike polisie skep ’n wettelose omgewing wat plaasaanvalle in die hand werk en optrede hierop verder bemoeilik.

VL werk voort aan die implementering van ’n veiligheidsplan en ander inisiatiewe om landelike misdaad, saam met alle rolspelers, te bekamp, maar sal self voortgaan indien die regering traag is om op te tree. – Persverklaring, Vrystaat Landbou