Die onlangse plaasmoord van Poenkie Bisset van Smithfield, bring die aantal plaasmoorde in die Vrystaat op tien te staan. Die Vrystaat is gedurende 1 April tot 30 November 2020 deur 53 plaasaanvalle op landbougrond geruk. Die Bisset-moord te Smithfield is die tiende moord op landbougrond sedert April 2020.

Read it in English

Volgens dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), het daar in dieselfde tydperk verlede jaar (2019) 34 plaasaanvalle, wat ses moorde insluit, plaasgevind. “Dit dui dus op ʼn toename van 19 plaasaanvalle/moorde (35,9%) in die Vrystaat,” sê Buys.

Wat word geroof?

Sy noem verder dat daar in die oorgrote meerderheid van aanvalle/moorde (28) kontant, selfone of vuurwapens geroof is. In drie aanvalle is ook voertuie van slagoffers geroof. In nege insidente is niks geroof nie danksy die vinnige reaksie van slagoffers wat weerstand gebied het. In drie aanvalle is skape en beeste geroof en in drie ander aanvalle is gepoog om diere te roof (veral beeste oorgrens).

Buys het ook uitgewys dat die meeste van die plaasaanvalle of –moorde gedurende November (12) plaasgevind het. Daar word dus ʼn toename in plaasaanvalle en –moorde bespeur in November 2020 en die aanloop tot die feesseisoen kan moontlik bydra tot ʼn verdere toename.

Plaasbewoners moet paraat wees

Intussen sê Jacobus Stroebel, streeksverteenwoordiger van Vrystaat Landbou, dat “die brutale moord op Bissett net weereens op die weerloosheid van landbouers wys, veral ons ouer mense.” Dit is belangrik dat boere hulself, hul gesinne en werkers bemagtig en hul weerloosheid so ver as moontlik verminder deur altyd paraat te wees.” Hy wys weer daarop dat dit uiters noodsaaklik is dat landbouers deel vorm van georganiseerde veiligheidstrukture in hul omgewing.

Die drie verdagtes wat in verband met Bisset se moord in hegtenis geneem is, het op 21 Desember in die hof verskyn. Die saak teen twee van hulle is teruggetrek, terwyl die derde verdagte steeds in aanhouding is. – Persverklaring, Vrystaat Landbou