Vrystaat Landbou (VL) het gewaarsku dat die Vrystaat se padinfrastruktuur in ’n haglike toestand is. VL het ’n dringende brief aan die provinsiale Departement van Polisie, Paaie en Vervoer gerig en gevra dat onmiddellike stappe geneem word om paaie vir kritieke toegang te herstel.

Dit volg ná die onlangse oorstromings in die provinsie ernstige skade aan Vrystaatse paaie aangerig het. Die afgelope paar jaar is die instandhouding van Vrystaatse paaie van uiterse swak gehalte. Die swaar reën het daartoe gelei dat heelwat paaie en brûe weggespoel het of onbegaanbaar is.

Dié omstandighede is tekenend van ’n ineenstorting van kritieke infrastruktuur wat noodsaaklik is vir voortgesette ekonomiese aktiwiteit in landelike gebiede. Boere sal dit toenemend moeilik vind om produkte na markte te vervoer. Daarbenewens plaas die verhoogde stremming van beweeglikheid die lewens en lewensbestaan van gemeenskappe in gevaar.

Byvoorbeeld, minderbevoorregte inwoners het nie toegang tot mediese sorg nie. Plaaswerkers vind dit ook al hoe meer uitdagend om van en na hul werk te reis. “Indien die situasie nie aangespreek word nie, sal plaasbewoners soos pensioenarisse en skoolkinders nie toegang tot dienste kan verkry nie. Taxi’s het lankal geweier om op hierdie paaie te ry.”

Onbegaanbare paaie beïnvloed mediese sorg

“Óók sal klinieke en ambulanse nie toegang tot plase kan verkry om chroniese medikasie af te lewer en kritieke pasiënte te vervoer nie. Dít maak alles inbreuk op die basiese menseregte van ons landelike burgers,” sê VL-president, Francois Wilken.

Wilken voeg by dat boere reeds begin het om paaie van noodsaaklike belang te herstel, maar hulle sal finansiële en materiële ondersteuning nodig hê om verdere rampspoed af te weer. Daar is ’n dringende versoek vir die beskikbaarstelling van toerusting soos padskrapers en trekkerlaaigrawe, aangesien die staat se verouderde geel vloot weens swak instandhouding basies buite werking is.

Verder is materiaal soos bitumen/teer, beton, duikerpype en diesel vir die toerusting van boere wat die herstelwerk doen, nodig. Volgens Wilken finaliseer VL ’n interne plan om die swak toestand van paaie te probeer verbeter.

Indien daar nie aandag aan padinfrastruktuur gegee word nie, sal VL-lede gedwing word om paaie te herstel waar toegang van kritieke belang is. As ’n onmiddellike stap raadpleeg VL regs- en ander kundiges oor wat burgers en ander entiteite kan doen om aan die paaie te begin werk.

Politieke hoofde moet intree

In Maart 2019, na die vloede naby Rouxville in Mohokare, het dit drie maande geneem om die plaaslike raad sover te kry om ’n plaaslike noodtoestand te verklaar om sodoende befondsing deur die paaie-departement beskikbaar te stel, om onbegaanbare paaie te herstel.

Tans, byna twee jaar later én met die verklaring van ’n noodtoestand, is hierdie paaie steeds nie behoorlik herstel nie. Met swaar reënbuie sal die bietjie gruis wat oorbly, wegspoel en die paaie lewensgevaarlik vir reisigers maak.

Boonop sal dit dan nóg duurder wees om hierdie paaie te herstel. Om hierdie rede doen VL ’n beroep op politieke hoofde om die afkondiging van ’n noodtoestand te bespoedig en hulpbronne beskikbaar te stel om ons landelike bewoners by te staan. – Persverklaring, VS