Die onkruid Amaranthus palmeri, ’n boorling van Amerika, het nou ook in Suid-Afrika kom wortel skiet. Kenners meen dit is uiters moeilik om hierdie plant uit te roei. ’n Kenner op die gebied, dr Charlie Reinhardt, het onlangs op Grootplaas hieroor gesels.

Amaranthus palmeri is ’n gevreesde onkruid en veroorsaak groot skade vir Amerikaanse produsente. Reinhardt meen dit het Amerikaners al letterlik op hulle knieë gehad – in ’n land wat so hoog tegnologies ontwikkel is, moet boere hierdie onkruid met die hand uittrek.

Volgens Reinhardt is die uitdaging van die onkruid  dat dit so doeltreffend en vinnig weerstand teen onkruiddoders opbou. In Amerika is Amaranthus palmeri alreeds weerstandig teen ses van die nege onkruiddoders wat met welslae in die graanomgewing gebruik word. Mielies, sojabone en katoen word die ergste deur hierdie onkruid geraak.

Eenjarige plant

Dié onkruid is ’n eenjarige plant wat geweldig sterk teen enige gewas kompeteer en goed aangepas is in droogte- en hittetoestande. Gewasopbrengsverliese as gevolg van dié onkruid varieer in Amerika tussen 30 en 90%. Daar is selfs berigte dat baie produsente in Amerika bankrot speel as gevolg van dié verliese.

Amaranthus palmeri is onlangs op ’n plaas in die Douglas-distrik opgemerk. Volgens Reinhardt is dit steeds onbekend hoe hierdie onkruid op Suid-Afrikaanse bodem beland het, maar die saad kon moontlik aan ingevoerde tweedehandse toerusting of implemente vasgeklou het. Hy is tans besig met navorsing oor hoe wyd verspreid dit is en hoe dit beheer kan word.

“Die onkruid het sy oorsprong by ’n baie klein saadjie, wat maklik deur die wind versprei kan word. Die feit dat dit eenjarig is, is die rede waarom dit so gevaarlik is vir eenjarige gewasse. Dit steel letterlik die water- en voedingselemente en wanneer dit uiteindelik groot genoeg is, steel dit ook ’n plant se lig. Die onkruid is ook aanpasbaar by ’n wye reeks omgewingstoestande,” meen Reinhardt.

Hoe lyk die Amaranthus-familie?

Die algemene naam vir die Amaranthus-plant is marog, wat deur baie mense as ’n groente gebruik word. Die plant is hoog in proteïene en dus word Amaranthus-soorte as alternatiewe gewasse verbou. Die Inkas en die Aztecs in Amerika het dit vir duisende jare vir dié doel gebruik. Dit het natuurlik op ’n manier ontwikkel tot die onkruid wat dit vandag is.

Nuwe metodes is intussen in Amerika ontwikkel, waaronder onkruiddoders wat voor opkoms toegedien word. Reinhardt meen die Suid-Afrikaanse bedryf kan hieruit leer en so ’n korter proses volg om hierdie onkruid in toom te hou. – Elmarie Helberg, Grootplaas