Vul jou stoet aan by die 33ste Swartland-veeboereveiling

886

Die 33ste Swartland-veeboereveiling vind op Donderdag, 20 September, op die plaas Bossiesvlei buite Moorreesburg plaas. Veeboere durf dié dag nie misloop nie, aangesien daar ’n topgehalte aanbod van 1 099 diere gaan wees.

“Hierdie is die oudste vleisbeesveiling in die Wes-Kaap. Uitstaande diere van vyf rasse word op een dag onder een dak verkoop,” sê Philip de Waal, eienaar van Bossiesvlei en Locheim Stoetplaas. “Die Locheim Hereford- en Simmentaler-kudde is wêreldwyd bekend.

“Verskeie kampioene word op die veiling aangebied en die diere word landwyd afgelewer. Ons verwag dat kopers van regoor Suid-Afrika die veiling gaan bywoon. Baie nuwe genetika word aan die vleisbeesbedryf bekendgestel en gevolglik is die gehalte vanjaar besonder hoog.”

Altesaam 15 vroulike Hereford-diere en 20 bulle, 15 vroulike Simmentaler-diere en 15 bulle, vier vroulike Rooi Angus-diere en drie bulle, nege Swart Angus-bulle, vyf vroulike Sussex-diere en drie bulle, en 1 000 lammers gaan opgeveil word. Hereford-, Simmentaler- en Swart Angus-beeste is veral gesog onder veeboere as hoë gehalte vleisbeeste.

“Die Hereford-verse op die veiling is meestal dragtig van ingevoerde genetika. Een van die beste Simmentaler-bulle in die land word ook op die veiling aangebied,” sê De Waal.

Volg die N7 van Moorreesburg na Malmesbury vir 7km en volg die GWK-aanwysers om by die plaas Bossiesvlei uit te kom. Indien jy van Malmesbury af ry, volg die pad vir 20km en volg die GWK-aanwysers.

Besoek gerus www.swartlandveiling.co.za vir meer inligting. – Persverklaring