Talle vuurwapeneienaars is onseker wat hulle moet doen as hul lisensies verval, gesien in die lig van die hangende appèlverhoor in die hofsaak van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Read it in English.

Die Gautengse Hooggeregshof het in Julie 2017 twee afdelings (Afdeling 24 en Afdeling 28) van die Vuurwapenbeheerwet, 2000 (Wet 60 van 2000) ongrondwetlik verklaar en beslis dat alle vuurwapenlisensies wat verval het of binnekort gaan verval, as geldig geag sal word totdat die Grondwetlike Hof die grondwetlikheid van Afdelings 24 en 28 hersien het.

’n Tydperk van 18 maande is aan die Parlement gegee om die wet aan te pas om aan die grondwetlike vereistes te voldoen. ’n Kostebevel is ook ten gunste van die applikant toegestaan.

Die SAPD het toe geappelleer, en die appèl sal op 8 Februarie 2018 in die Grondwetlike Hof aangehoor word. Talle vuurwapeneienaars is in dié konteks onseker wat hulle moet doen as hul lisensies verval.

Bernu van den Heever van die organisasie Legally Armed sê niks kan gedoen word voordat die hofsaak in Februarie afgehandel word nie. “Ons verwag dat die uitslag van die hofsaak sal wees dat ’n bepaalde tydperk gegee word waartydens alle agterstallige vuurwapenlisensie-hernuwings gedoen moet word, maar ons sal moet wag en sien wat gebeur.”

Van den Heever sê dit is intussen uiters belangrik dat alle vuurwapeneienaars hul bevoegdheidsertifikate moet hernu. “Wees pro-aktief en kry jou huis in orde. Moenie toelaat dat ’n vervalde bevoegdheidsertifikaat jou vuurwapenlisensie-proses verder bemoeilik nie. Dit is ’n maklike administratiewe proses wat nie uitgestel moet word nie.”

Wat die toekoms van vuurwapen-eienaarskap in Suid-Afrika betref, sê Van den Heever dit sal raadsaam wees om by ’n klub of jagfederasie te registreer. “Dit raak toenemend moeiliker om nuwe lisensies te kry en hoe meer ’n mens doen om te bewys dat jy jou vuurwapens aktief gebruik, hoe makliker sal dit wees om nuwe vuurwapens en lisensies te verkry.”

Volgens Van den Heever is die bedryf baie sterk en sal dit oor die lang termyn op dié trant voortgaan. “Die Vuurwapenbeheerwet is eintlik baie goed geskryf en moet ook net goed beheer word.” – Marike Brits, AgriOrbit

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here