Kalwers se immuniteit moet in speentyd opgebou word met voldoende skuiling, goeie voeding en lekke.

Die wintermaande lê voor en dit is tyd om kalwers te speen. Dit gaan egter gepaard met heelwat stres en speenskok vir beide die koeie en kalwers, asook sekere siektes wat dikwels in die koue maande onder kalwers voorkom.

Flip Prinsloo, besturende lid van Pribio Dieregesondheid, sê longverwante siektes is die algemeenste probleem onder kalwers aan die begin van die wintermaande. Longontsteking word gewoonlik deur ’n mengsel van virusse en bakterieë veroorsaak, maar dit kan ook die gevolg van swak bestuursfaktore wees.

Flip wys die volgende bestuursfaktore uit:

  • Swak ventilasie: Bakterieë en virusse wat longontsteking veroorsaak, oorleef makliker in klam areas en stilstaande lug.
  • Windspoed: Jong kalwers wat aan koue wind blootgestel word, gebruik te veel energie om warm te bly en is meer geneig om longontsteking te kry.
  • Kouestres: Kalwers kan weens die koue stres ervaar.
  • Ondervoeding: Kalwers kan koue hanteer, mits hulle genoeg kalorieë deur melk en voer inkry.
  • Speenproses: Kalwers moet geleidelik gespeen word sodat hulle genoeg kalorieë uit droëvoer inneem voordat die melk heeltemal weggevat word.
  • Meng van ouderdomsgroepe: Dit laat siektes toe om van ouer na jonger kalwers te versprei.

Voorsorg deur inenting

Dr Ian Jonker van Leeudoringstad Dierekliniek stem hiermee saam en sê dit is wenslik om voorsorg by die kalwers te tref deur hulle te ent teen virusse en bakterieë wat respiratoriese siektes veroorsaak, asook met ’n multiklostridiale entstof.

Volgens Flip kan longontsteking ’n langtermyn-impak op ’n kalf hê. Behalwe dat dit een van die grootste oorsake van kalfvrektes in die winter is, kan longskade lei tot swakker produksie vir die res van die dier se lewe, swakker groei en duurder behandelingskoste. “Selfs diere wat volledig herstel, kan verdere verliese toon deur swakker prestasie in die eerste laktasie. Dit het ’n langtermyn-impak op die gewig en karkas van ’n vleisbees.”

Diarree by kalwers

Diarree is ook een van die probleme wat dikwels in die wintermaande by kalwers voorkom. Ian sê die oorsake van diarree by kalwers sluit in patogene, swak gehalte van biesmelk en ’n swak inname daarvan. ’n Vuil omgewing en swak higiëne kan jong kalwers ook aan diarree blootstel. Verder speel die gehalte van water ’n rol.

Flip stem hiermee saam en voeg by dat ondervoeding, oorbevolking, die meng van ouderdomsgroepe en vuil melktoerusting ook patogene kan versprei. Hy sê diarree is die algemeenste oorsaak van kalwers wat jonk vrek in Suid-Afrika.

Wenke wat hy gee om kalfdiarree te voorkom, is:

  • Toets die gehalte van kalwers se kolostrum en maak seker hulle ontvang genoeg kolostrum.
  • Maak seker dat die kalwingsgebied skoon en higiënies gehou word.
  • Voorsien ’n skoon omgewing vir die kalwers deur die hokkies na elke groep kalwers skoon te maak en te ontsmet.
  • Vermy kontak tussen kalwers en ander ouderdomsgroepe.
  • Sorg vir ’n voldoende kalorie-inname om die immuunstelsel te versterk.
Koei en kalf
Dit is wys om veral teen siektes soos longontsteking, diarree en speenstres te waak ten einde kalwers in die winter gesond te hou.

Speen- en skeidingstres

Omdat kalwers gewoonlik in Maart en April gespeen word, kan speenstres ook ’n groot invloed hê op die handhawing van kalfgesondheid.

Speenstres kom veral onder vleisbeeskalwers voor vir die eerste twee tot drie dae ná speen. Speenstres bestaan uit twee komponente, naamlik voedingstres en skeidingstres. Om eersgenoemde te beperk, gebruik produsente ’n aanvullende rantsoen soos kruipvoer vir drie weke voor speen en drie weke ná speen.

Skeidingstres kan beperk word deur van ’n neusring gebruik te maak of deur skeiding met ’n digte heining, waar die koei en kalf mekaar nog kan sien.

Ian sê neusringe is ’n goeie metodes om speenstres te verminder omdat dit ook help om gewigsverlies by koeie te voorkom, maar produsente kan ook verskeie ander metodes gebruik.

Van die metodes is:

  • Skei die bulletjies en versies in die trop, en laat die bulletjies saam met die versies se moeders loop en andersom, met ’n baie goeie grens tussen hulle.
  • Leer die kalwers uit bakke vreet en voer hulle goeie gehalte voer voor en ná speen.
  • Moenie onthoring, kastreer of inentings doen net voor of ná speen nie.
  • Moenie kalwers in uiterste weersomstandighede speen nie.

Versterking van immuniteit

Die groot geheim om kalfgesondheid te verseker, is om die diere se longe en maag skoon te hou en virusse met gepaste entstowwe te beheer.

Ian se raad is om die koeie te ent ten einde passiewe immuniteit aan die kalwers te voorsien in die eerste drie maande van hul lewe en die kalwers volgens ’n veearts se voorskrif te ent. Gee ook aan die kalwers goeie skuiling, voldoende gehalte veld en lek om voedingstres te verminder.

Vir meer inligting, skakel Flip Prinsloo by 056 217 1114 en dr Ian Jonker by 082 925 7273. – Koos du Pisanie, Veeplaas